top of page
  • Uitmelkbos

SOMER VAN 2015


1-IMG_3479

Swembad-kirpartse onder ‘n groot sambreel!

Het ‘n Beeldvoorblad skrams raakgelees met die nuus dat die kwik op 31 – dalk 41 – plekke rekordhoogtes bereik het op Donderdag 7 Januarie. Kan persoonlik getuig van ‘n 32ste – of 42ste –plek: my seer geliefde Sabiepark. Hier is – hou vas julle sonhoede! – ‘n skroeiende 47 grade aangeteken.

In die Sabierivier het ‘n uitgemergelde renoster vir hom ‘n koel waterbed ingerig. Hy het ure oopgespalk daar vertoef. By die huis het swermpies withelm-laksmanne hygend elke skadukolletjie opgesoek. In Tarlehoet se swembadjie is – in die skadu van ‘n groot sambreel – heeldag lank geplas. Die Van Deventers het tougestaan vir daardie voorreg.

Jammer dat ‘n verslag oor die somervakansie van 2015/2016 deur El Nino se buitensporighede oorheers moet word. Dit was ook t.o.v. ander statistieke uniek – soos die 20 dae in die geselskap van die Van Deventer-gesinnetjie van George. Langer was ons vyf nog nie saam onder een dak nie. ‘n Ware leer-mekaar-ken van die eerste water.

Almal wat Johan en Mariza ken, weet hulle is voorslae as dit by kosmaak kom. Op die spyskaart was skaapboud met Turkse speserye, ‘n skenkelpot so uit Jamie Olivier se kombuis, pizzas uit die Weber, Boet en Jan van Witrvivier se geurige wors op die kole, mochanchos en wat nog. Ek wil na dese ‘n skaal nie sien nie!

Migael, met sy sware vrag mediese probleme, het sy partikuliere kosbehoeftes. Geen vleis vir hom nie. Wonder hoeveel kilo’s eiervrug pappa Johan vir hom op oop vure gebraai het.

Die piekniekplek word deur Solly se flukse opvolger, Organ, in ‘n voortreflike toestand gehou. Die spesiale plek is veral in so ‘n warm somer ‘n ware oase met sy uitgestrekte groen gras, enorme koeltebome en besonderse uitsigte op die rivier. Vele “spesiale okkasies” is daar gevier, hetsy met koue vonkelwyn of nog kouer bier; aan die koskant met worsrolle of hamburgers van die kole. Johan laat nie op hom wag om ‘n vuurtjie te pak nie!

Olifante, buffels en vanjaar ook buitengewoon baie kameelperde het vir ‘n bedrywige dierelewe langs die Sabie gesorg. ‘n Aanskoulike luiperdbesoek is, helaas, misgeloop.

Die nuwe parhoof, Johan Lawson, maak in die algemeen ook ‘n verskil. Die sierlike spuitfontein op die grasperk soos jy by die hek inkom, is werklik ‘n aanwins.

Om die huis is die veld maar droog. Wild was skaarserig. Die piet-my-vrou het egter geroep soos nooit tevore nie. Ook bosveldvisvangers en visarende se klokhelder stemme is gereeld gehoor. Die nagapies het hul kant gebring; het selfs aan die einde van die vakansie weer hul intrek kom neem in die neste wat Johan jare gelede hoog teen die stoep se nok vir hulle opgesit het. Nie minder nie as vier bosnagape het ‘n slag gelyk kom eet.


1-IMG_3465

Bosbok-betowering.


‘n Bosbokpaartjie het een middag die Van Deventers se watergatjie ontdek. Daarmee het ander heerlikhede gekom, soos die vars, groen grassies op Tarlehoet se “grasperk” wat weens die behoefte aan ‘n bietjie afkoeling feitlik oornag ontstaan het. Op die foto’s al om die braaiplek is o.m. die watermeter wat nie juis die vakansie werk gekry het nie en die fakkels om die lapa. Ons het op die stoep vasgenael gesit en die bokplesier ten seerste geniet.

Van slang-teenwoordigheid is ons gedurig bewus gehou wanneer Tokkie ‘n nuwe paar “trousers” (Lucy se beskrywende woord vir ‘n slangvel) iewers ontdek. ‘n Skerpioen het ons laat gril toe hy hom mooitjies tuis gemaak het op die bedjie in die spaarkamer waar Tokkie vir die duur van sy besoek langs Migael geslaap het. Nogal ‘n skok gewees toe sy die laken afpluk en daar sit ta.


1-IMG_3538

Die laaste paar dae was soos ons Sabiepark in Desember/Januarie leer ken en liefkry het – oorheersend bewolk. Sondag is Johan, Mariza en Migael huis toe net toe ‘n lawende buitjie van 5 mm begin uitsak. Oral uit die veld het skilpaaie paaie toe gestroom om uit die plassies op die harde oppervlakke hul dors te les.


1-IMG_3545

Naby Tarlehoet sien ons toe in die welkome nattigheid ‘n waggelende wildebeeskalfie – duidelik pasgebore – by sy besorgde ma; ‘n deerniswekkende toneeltjie. Ons wil-wil ons plek amper vergewe vir die baie liters sweet wat vanjaar hier onder die ongekende Afrikason gestort is.

0 views

Recent Posts

See All

Probleme probleme

Die hoop het toe nie beskaam nie. Rapport het afgelope Sondag vorendag gekom met ’n noemenswaardige resensie – Trisa Hugo se skrywe oor Veldhospitaal 12, die nuwe roman deur Marinda van Zyl. Boek24? W

SKOONHEID SONDER SKROOMHEID

Op bladsy drie van Die Burger vanoggend verskyn o.m. berigte oor die Mej. Wệreldwedstryd waarin Shudu Musida SA se kroon dra, en ‘n motorfiets-uitstappie na die Hartebeespoortdam waarvan die afwesighe

Comments


bottom of page