top of page
  • Izak de Vries

Solomon & Marion

Ek was baie gelukkig om nog ’n kaartjie te kon koop vir die tweede voorskou van Solomon & Marion, Lara Foot se nuutste stuk. Die ervaring is iets om te onthou.


Dit was die eerste keer sedert 1976 dat Dame Janet Suzman weer in Suid-Afrika op die verhoog te sien is. Sy is sedertdien tot Ridder geslaan in die VK, en is ook benoem vir ’n Oscar, ’n BAFTA en ’n Golden Globe. ’n Mens verwag dus slegs die allerbeste van haar, en dit is presies wat jy kry. Haar tydsberekening en haar vermoë om te onderspeel in haar rol as Marion, is iets wat enigiemand moet sien.


Julle ken egter die ou storie dat ’n goeie opponent die beste uitbring in enigeen, en dit was ook die geval met Khayalethu Anthony. Dis verstaanbaar dat al die koerante konsentreer op Dame Janet, maar genade, mense: hierdie jong man (slegs 25 jaar oud) is skuif vir skuif, scène vir scène haar gelyke op daardie verhoog. Tog moes ek hierdie foto van hom op Facebook gaan bum, want hy is nog totaal onbekend. Solomon & Marion is sy eerste hoofstroomrol.

Waar Dame Janet ’n verbitterde ou Marion speel wat haar vlymskerp verstand gebruik om die arme Solomon met uitstekende Engels te bombardeer, is Anthony se Solomon ’n jong man wat sosiaal totaal wanaangepas is in hierdie stiff-upper-lip-omgewing. Enige een weet dat dit makliker is om op ’n koord te loop, as om te maak of jy nié op ’n koord kan loop nie. Anthony speel hierdie rol van die jongman wat skynbaar nie kan nie, met soveel oortuiging, jy moet dit net sien.

Ek gaan nié ’n spoiler inbou in hierdie stuk nie, en ek wil waarsku teen agtelosige resensente wat dalk wel spoilers gaan inbou in hulle s’n. Gaan kyk liewer éérs die stuk, en dan lees julle die resensies.

Net nog dít: Lara Foot is bekend vir die ongelooflike goeie komedie in haar stukke, en hierdie drama, Solomon & Marion, kry ’n ditto. Op een stadium moes die twee akteurs improviseer omdat die gehoor te lank gelag het, en die volgende, baie belangrike woorddolke sou nie gehoor kon word nie. Moenie dat die storie van ’n vrou en haar vermoorde seun jou afsit nie, maar wees gewaarsku: jy sal nooit weer by Woolworths ’n hoender wil koop na hierdie stuk nie! O, hel, ons het gelag.

Toe, weg is jy! Kom lees later klaar ;-)

Goed, as julle iets meer wil weet, of dit klaar gekyk het, hier is ’n baie sinoptiese opsomming van die plot: Marion is besig om ’n brief aan haar dogter in Australië te skryf. Dan verskyn Solomon eendag – hoewel Marion hom al lank sien rondsluip het om die huis.

Marion is verbitterd. Sy en haar man is uitmekaar na haar seun vermoor is, en sy woon nou vrou alleen op ’n verlate plot. Solomon, die kleinseun van die vrou wat eens vir Marion gewerk het, is duidelik bekommerd oor haar. Maar daar is iets anders wat hom dryf . . .

Ek gaan nie meer oor die storie vertel nie.

Solomon & Marion en The Beneficiary, wat ek verlede week geresenseer het, is skynbaar wêrelde verwyder. Tog is daar ’n paar goed wat ek met mekaar wil vergelyk: Albei is eg Suid-Afrikaans en in albei is daar stukke dialoog in Xhosa. Dit is veral die oomblik voor die ontknoping in Solomon & Marion dat Solomon ’n baie belangrike stuk doen in sy moedertaal. (En die moederverwysing is nie om dowe neute nie.) Solomon praat egter goeie Engels en dit sy vermoë om Marion se eie woorde teen haar te gebruik, wat die stuk uitsonderlik maak én dan Marion se siening van Solomon verander.

’n Enorme lekkerte was dat The Beneficiary geopen het voor ’n gehoor waarin die meerderheid van die gehoor Xhosasprekend was. Die waarderende gehoor by Solomon & Marion was egter so bleek soos ’n spook. Daar was baie Afrikaanssprekendes, dit kon jy ná die tyd hoor toe mense woorde soos ongelooflik, fantasties en wonderlik begin gebruik het.

Albei dramas, Solomon & Marion en The Beneficiary, het egter sóveel te vertel vir wit én swart Suid-Afrika, dat ’n mens regtig hoop dat gehore binnekort die stukke begin weerspieël. Albei stukke speel op ’n realistiese verhoog wat die ervaring so maklik maak soos om TV te kyk – net veel meer pret.

Gaan kyk asseblief Solomon & Marion. Janet Suzman is een van die grootste toneelspelers wat nog in Suid-Afrika gebore is, en Khayalethu Anthony is een van ons belowendste jong spelers. Lara Foot is eweneens ’n dramaturg wat stukke lewer waarop ’n mens trots kan wees.

Solomon & Marion laat ’n mens trots wees om ’n Suid-Afrikaner te wees.

Moet net nie die “Director and Author’s Note” lees voor die tyd nie. Die eerste, akademiese stuk moes deur ’n redakteur se hande gegaan het voor dit in die program ingesluit is! Eish. Lees ná die tyd die persoonlike stukkie. Dis aangrypend.

Tegniese goed:

Marion Banning: Dame Janet Suzman

Solomon Xaba: Khayalethu Anthony

Dramaturg en Regisseur: Lara Foot

Assistentregisseur: Thami Mbongo

Stelontwerp: Patrick Curtis (baie slim gedoen)

Beligting: Mannie Manim (nog eens, baie slim)

Die voorskou waar ek was, het uitverkoop. Die openingsaand was ook uitverkoop. Gou spring. Die Golden Arrow Studio in die Baxter is klein. Moenie hierdie een mis nie! Dit is nog op die planke tot 26 November.

2 views

Recent Posts

See All

Comments


bottom of page