top of page
  • Uitmelkbos

SOLO-AVONTUUR


Op sy ysterperd en … woerts … weg is Jacko op sy eerste groot solo-avontuur met sy Gold Wing

OP 75 stroop die meeste Ridders van die Ysterperd hul leerbaadjies af en hang hul helms op. Die 75-jarige Jacko Maree van Melkbos het vanoggend op sy glimswart Honda Gold Wing Kwazulu-Natal toe vertrek op sy eerste groot solo-avontuur met sy kragtige nuwe ryding.

Gereelde lesers van hierdie blog sal weet Jacko het na sy vrou, Barbi, se dood in Januarie die nuwe glinstering in die oog begin kry. Hy het die manifieke Honda uitgesoek en is Motorfietsakademie toe om te leer ry…. eers op ‘n kleiner oefen-model toe met aanvanklike huiwering op die Gold Wing self.

Na sowat 500 kilometer in die Gold Wing se saal hier in Wes-Kaapland rond voel Jacko nou ervare, oorgehaal, ontspanne en vol selfvertroue genoeg vir die lang rit. Vandag wil hy die eerste 500 kilometers vreet en vannag op Beaufort-Wes slaap.

Soos afgespreek het hy, deftig in sy fiets-uitrusting, ‘n vinnige koppie koffie vir die pad by die uwe kom sluk voordat hy die grootpad noorde toe aangedurf het.

Een ding wat die Gold Wing hom tot dusver geleer het, is groter padbewustheid, meen hy. As die naald so opkruip en die enjin grom hier onder jou, durf jy jou nie afsluit van die verkeer rondom jou nie. Motorfietsry maak ook van jou ‘n beter motorbestuurder juis omdat jy skielik wakkerder begin inneem wat rondom jou gebeur, is sy indruk.

Dit was ‘n hele okkasie toe Jacko skuins na 09:00 by die Van D’s weg is. Ek was by met die kamera en Tokkie het kom wuif. By een buurhuis het ek die gordyne voor die venster sien roer. As al die aandag Jacko ietwat ontsenu het, het hy nie dit hoegenaamd nie gewys nie. Hy is hier in Penguin Place op asof hy met ‘n Gold Wind onder hom gebore is.

Bayete, my vriend. Mooi loop. Weet dat hierdie 71-jarige jou avontuurlus en ondernemingsgees bewonder. Maar darem nie dermate dat ek self begin jeuk nie.

1 view

Recent Posts

See All

Probleme probleme

Die hoop het toe nie beskaam nie. Rapport het afgelope Sondag vorendag gekom met ’n noemenswaardige resensie – Trisa Hugo se skrywe oor Veldhospitaal 12, die nuwe roman deur Marinda van Zyl. Boek24? W

SKOONHEID SONDER SKROOMHEID

Op bladsy drie van Die Burger vanoggend verskyn o.m. berigte oor die Mej. Wệreldwedstryd waarin Shudu Musida SA se kroon dra, en ‘n motorfiets-uitstappie na die Hartebeespoortdam waarvan die afwesighe

© 2022 LitNet. Alle regte voorbehou | All rights reserved

bottom of page