top of page
  • Uitmelkbos

SOLIED SOOS GRANIET


Sarel Venter (70) van Bloemfontein met sy “koerant” waarin jy alles vir soet-(verjaardag)-koek kon opeet!

Toe Oom Blackie Swart 80 word, het die SAUK ‘n verslaggeefstertjie na De Aap gestuur. “Hoe voel u nou op 80?” wou die blonde dingetjie weet. “Baie sterker as 80 jaar gelede,” was sy spitsvondige antwoord.

Dié storie het ek gisteraand by die viering van my kollega Sarel Venter se 70ste in ‘n bitterkoue Bloemfontein vertel om die punt te maak dat iemand van 80 – des te meer iemand van 70 – in die algemeen gesproke, veel meer mens as iemand van 0! Sy glipsies is ook minder katastrofies, tensy dit glipsies van dieselfde aard as ‘n baba s’n is!

Tog is 70 klaarblyklik die een of ander grens wat jy oorsteek. Die oomblik dat jy 70 word, raak jy die teiken van grapjastery oor oud word, waarvan die neerbuigende hovaardigheid van sommige ‘n nogal irriterende element is. Party windbolle glo 70 beteken jy is versukkeld, finish en klaar. Wel, Sarel is allesbehalwe versukkeld op 70. Hy is nog die man wat hy altyd was, iemand na wie op 70 opgesien, watwou van bejammer word.

In my heildronk het ek ook ‘n storie vertel oor my oud-onderwyser Johan Theodorus Claassen wat een van die slotte was in Avril Malan se seëvierende Springbokspan in die Britse eiland in 1960. Vir hom het die afrigter, Boy Louw, op daardie toer gesê: “Clasie, as jy in die span is, voel ons veilig. Daar is vastigheid.”

Dit is ‘n pluimpie wat Sarel ook deur en deur verdien, het ek die teenwoordige vriende meegedeel. Waar Sarel Venter in die span is, was nog altyd vastigheid; daar is dit solied soos graniet; dinge sal nie sommer net lostorring nie. Jy voel altyd veilig in die wete dat hy is waar hy is.

Soliede Sarel, wou ek hom noem omdat dit so mooi allitereer. Maar dit laat nie aan Sarel reg geskied nie. Rotsvaste Sarel pas beter.

In sy hoofartikelkommentaar as assistent- en adjunk-redakteur was sy oop kop en stewige hand ‘n kernelement. Sarel kon ‘n beginselstandpunt waterdig stel en helder formuleer. Oor kerklike sake was hy ‘n top-kommentator in die Afrikaanse joernalistiek. Veral een hoofartikel uit die tsoenamitye van die 80’s onthou ek goed. Dit was oor die getuienis van die sogenaamde Silverton-193, ‘n klompie reaksionêre NG-leraars, ná ‘n saamtrek in Silverton om mekaar teen die “liberaliste”, ook in die media, op te klits. Dié hoofartikel (natuurlik anoniem uit Sarel se pen) is deur Die Ligdraer, mondstuk van die destydse N.G. Sendingkerk, in geheel opgeneem “omdat dit getuig van besondere insig en groot betekenis het vir kerklike verhoudinge.”

Sarel was inderdaad as meningsvormer ‘n pilaar in ‘n dekade van Afrikaner-verwarring en -verskeurdheid. Ongelukkig kry sulke bydraes van formaat deesdae skaars erkenning. Hierdie hulde tel ongelukkig nie meer so vreeslik nie. Ek is ook ‘n “has-been”. Ek bied dit nogtans met ‘n lekker hart aan.

1 view

Recent Posts

See All

Probleme probleme

Die hoop het toe nie beskaam nie. Rapport het afgelope Sondag vorendag gekom met ’n noemenswaardige resensie – Trisa Hugo se skrywe oor Veldhospitaal 12, die nuwe roman deur Marinda van Zyl. Boek24? W

SKOONHEID SONDER SKROOMHEID

Op bladsy drie van Die Burger vanoggend verskyn o.m. berigte oor die Mej. Wệreldwedstryd waarin Shudu Musida SA se kroon dra, en ‘n motorfiets-uitstappie na die Hartebeespoortdam waarvan die afwesighe

© 2022 LitNet. Alle regte voorbehou | All rights reserved

bottom of page