top of page
  • Izak de Vries

Solet Scheeres: Ek weet nie of dit in RSA sal werk nie


solet

Foto deur LAPA verskaf Solet Scheeres is die skrywer van die Glam-Diva-reeks. Sy woon en werk tans in Nederland, maar te vore het Solet by die SABC gewerk, waar sy onder meer ’n reeks programme met die oog op geletterdheid ontwikkel het en ’n boekinsetsel aangebied het. Sy was ook ’n deeltydse dosent aan die Universiteit van Johannesburg. Solet sê sy is versot op boeke vir kinders en tieners omdat hulle ’n opregtheid het wat volwasse lesers nie noodwendig meer geniet nie. Ek het haar gepols oor die idee van #IreadYA en het ’n paar lekker antwoorde gekry! In die VSA word #IreadYA-week gevier. Ons is meer geneig te praat van jeuglit as jongvolwasselit. Is dit ’n leemte? Deesdae is ek regtig konfoes oor die indelings van die verskillende genre’s. Ek dink daar is kinderboeke (5-12jr.) en dan is daar jeuglektuur (11-16)  en dan is daar jongvolwasselektuur (basies boeke wat in die Gossip Girl /Akward groep val: laat hoërskool en  universiteit, maar dan met seks. MAAR dan kry ’n mens nou soveel cross-over lit wat eintlik nêrens inpas nie bv. John Green se boeke, The Book Thief, The secret life of bees, Extremely Loud and Incredibly Close, ensovoorts. As jy dink dat daar ’n leemte is omdat bepaalde boeke in die Suid-Afrikaanse mark deur die mat val omdat dit nie as jongvolwasse bemark word nie, dink ek jy is reg. ’n Boek soos Valsrivier, Spud, of dalk Die Kruppel Engel, sou goed bemark kon word as jongvolwasselit, maar dit is nie jeuglit na my mening nie… Om vir hierdie mark te skryf is bitter moeilik. Hoekom doen jy dit? Ek dink dat die Glam-divas jeuglit is en na my ervaring lees woes baie kinders in Graad 7 en 8 dié boeke. Toentertyd met die Huis Kokkerot-reeks was ons van mening dat as jy iets skryf wat oor studente gaan, kinders in graad10-12 dit sal lees. Ek vermoed die veronderstelling geld nog steeds? Ek skryf maar wat ek ken en wat vir my lekker is – ek het ook al ’n prenteboek of twee geskryf maar niemand wil dit uitgee nie ;-). Op die oomblik is ek besig met ’n boek wat op graad 6 en 7’s gemik is. Daar is ’n verskil tussen kinderlitaratuur en jeugliteratuur. Wil jy verduidelik hoe jy dit sien? Goed hier is ’n paar gedagtes oor jeugliteratuur: Die groot verskil tussen jeug- en jongvolwasseliteratuur is na my mening die vlakke van geweld wat gebruik word asook temas wat jou moedeloos en erg, erg terneergedruk sal laat. Verder is ek ook oortuig daarvan die manier waarop daar oor seks geskryf word in die boek ’n rol kan speel. Hoe ouer ek word hoe meer glo ek dat jeugboeke ’n mens se gees moet oplig en bly maak (al is dit op ’n aweregse manier). Ek dink dat die fokus in Europa die afgelope 3 – 4 jaar weg beweeg het van regte kinderboeke omdat uitgewers skielik ontdek het dat jy jongvolwasseboeke kan uitgee en twee vlieë met een klap kan slaan. Daar was nou ’n oormaat van bomenselike karakters, vampiere, zombies, vampiere-en-zombies, heldinne in oorlewingsgevegte en dergelike boeke en juis daarom het John Green met sy sicklit so ’n enorme aanhang (en hy skryf goed). Die spinoff van sy soort boeke begin nou ons rakke tref. Ek hoop van ganser harte dat die fokus weer sal terugskuif na jou leser tussen 9 en 14 jaar, want hulle het boeke nou méér nodig as ooit tevore. Hiermee bedoel ek nie dat jongvolwassenes vergete moet raak nie, maar dat daar weer ’n mooi balans kom. As ons nou van jong volwassenes praat: Watter drie jongvolwasselitboeke sal jy aanbeveel? Daar is só baie jeugboeke in Afrikaans waarvan ek hou dat ek liefs niks wil uitsonder nie. Ek dink nie daar word woes baie boeke spesifiek vir jong volwassenes in Afrikaans geskryf nie – maar ek dink dat ’n groot klomp van jou jong volwasse lesers vroeg-vroeg oorskakel na volwasse liefdesverhale. In Nederlands is ek veral dol op Jean-Claude van Rijckeghem en Pat van Briers se historiese romans. (Nicol Stassen het Galgenmeid vertaal na Galgmeise, maar ek weet nie hoe die boek gevaar het nie.) Ek is ook dol op die boeke van Simone van der Vlugt – sy loop ’n bietije die tightrope tussen volwasse en jongvolwasseboeke en jong lesers is mal oor al haar boeke as gevolg daarvan. Een van my grootste heldinne is Floortje Zwigtman: sy skryf historiese verhale wat so dik is dat jy iemand daarmee kan doodslaan, maar sy onderskat haar lesers nie vir ’n sekonde nie. Een van haar boeke gaan oor Oscar Wilde en daarin beskryf sy ’n paar stewige steamy seksscenes tussen twee seuns (16 jaar oud). Ek weet nie of dit in RSA sal werk nie… Ek hou van John Green se boeke. Van my all-time gunsteling jeugboeke is: Koning van Katoren, Holes, The curious incident of the dog in the night time, Stargirl, Suurlemoen, daai boek van Fanie (Betower), My kat word herfs en Boom, bomer, boomste. Ag en so kan ek aangaan…

1 view

Recent Posts

See All

Comments


bottom of page