top of page
  • Izak de Vries

Soeker


Hierdie pragtige boek het gister van die drukpers gerol. Lees môre in Rapport meer oor Pieter en oor sy boek.

Pieter Cilliers se opspraakwekkende outobiografie ’n Kas is vir klere is uit alle oorde geloof as ’n baanbrekerswerk. Dit het die debat oor homoseksualiteit in die Afrikaanse kerke aan die gang gesit en vir baie mense die deur oopgemaak na ’n eerliker bestaan.

Na aanleiding van die talle briewe wat hy oor die jare ontvang het, het Cilliers weer begin skryf. Wat aanvanklik as ’n bygewerkte heruitgawe van die oorspronklike boek beplan is, het ’n tweede boek geword. Saam met die eerste boek kry die leser nou ook ’n dokumentering van verwikkelinge rakende gays – en ander gemarginaliseerdes – wat wentel om kwessies wat in die briewe geopper word: Het Suid-Afrika se inklusiewe grondwet byvoorbeeld in die breë samelewing beslag gekry? En waar staan die Afrikaanse kerke vandag teenoor homoseksuele?

Cilliers – soos vele ander mense – is soekend, nie net na aanvaarding op grond van sy andersheid nie. Hy vra vrae oor tradisionele opvattings oor Christenskap en soek ook na antwoorde rakende spiritualiteit, geloof en godsdiens.

In sy eie woorde: "Waaroor ek sekerheid het, is dat ek met Jesus se leringe kan identifiseer. Net jammer die kerk sukkel met die implementering daarvan. "

Ek wil darem my dank betuig aan die Good Hope Metropolitan Community Church wat hierdie boek baie aktief bemark aan hulle gemeentelede.

Ek het dit al gesê, maar:

Kom luister hierna op die Stellenbosch Woordfees!

Boek: Soeker, deur Pieter Cilliers

Wie: Pieter Cilliers in gesprek met Yolanda Dreyer

Wanneer: Dinsdag 8 Maart om 15:00

Waar: Die Boektent, Woordfees, Stellenbosch

En aan almal wat ver van Stellenbosch is: Luister na RSG op Dinsdag 8 Maart, tussen 07:00 en 08:00. Cobus Bester gaan met Pieter gesels.

Julle kan ’n volledige Woordfeesprogram hier kry: http://www.woordfees.co.za/program/

Soeker is te koop by:Exclusive Books en by Kalahari.net.

2 views

Recent Posts

See All

Comments


bottom of page