Snuif, proes, hoes; snuif, proes, hoes – dis die storie van die vroegsomer hier op Melkbos. Iets misterieus is in die lug wat die kanale aantas – veral van diegene wat al op verjaardae twee koeke nodig het om al die kersies te akkommodeer.
In my boekie “Tamatiestraat” is ‘n hoofstuk “Brille en pille tot krom en dom”. Een fase in die verouderingsproses noem ek daarin die fase van “dop en verstop”: twee glase rooiwyn en die neusj is bhot-toe van die sjinus!
Aitiesjoe! Ken ek hom nie. Maar nie al die snuiwers en proesers is sulke lojale wyn-verbruikers soos die uwe nie. Dalk ‘n groter gemeenskaplikheid is die stygende jare, soos weerspieël in die gryse hare en ‘n sekere onegaligheid van beweging.
Ook uit die hoofstuk “Brille en pille” kom oor die ouderdom se rol die volgende versie:
Ja, elke denkbare kanaal – van nasaal tot urinaal – Is verstop of skeef of krom, dis die kruis van ouderdom!
Die agteruitgang wat saam met veroudering kom, pak toenemend ook ons oumense se lugweë, lyk dit. Juis aan’t filosofere oor hierdie toedrag van sake kry ek van Henri van Biljon die volgende relevante e-pos: “Ai, die ou hoesie in die kerk Op ‘n plattelandse dorp waar die inwoners hoofsaaklik ouer mense is wat oorwegend Afrikaans magtig is, is verkoue een wintermaand erg in die omloop, en die predikant naderhand al taamlik omgekrap deur die hoesbuie in die kerk. Dit trek sy aandag af.
“Hy bespreek toe die probleem met sy koster, wat Engelssprekend is… seker die enigste op die dorp. Die koster gaan koop ‘n groot bottel hoesstroop by die apteek .
“Die volgende Sondag is die koster oorgehaal. Sodra iemand hoes, staan hy op, gaan voer die hoesende lidmaat ‘n lepel hoesstroop en fluister iets in sy oor.
“Die aldus aangespreekte staan op en stap uit. So hou dit aan en die kerk is later byna leeg. Na die diens vra die dominee vir die koster wat hy dan vir die mense gesê het dat hy later vir ‘n byna leë kerk moes preek.
“Nee, sê die koster, ek het net vir hulle gesê, ‘For cough!’”
Comments