Sneeu op die pieke van die Maluti’s en die Drakensberg, ryp op huise se dakke en kraakwit op die gras onder jou voete, die helderblou uitspansel van die sogenaamde “big sky country” uitgestrek bo jou, die kwik al om die vriespunt … padwerke, padwerke, padwerke. Soos die dik kokistreep op die padkaart van die AA in my deursak beskryf hierdie “bakens” ons reis van Bloemfontein na Sabiepark.
Op die ver paaie (wel, ons het uiteindelik van O.R. Tambo af tot Tarlehoet presies 2004 kilometer gery) was ook ander bakens. Op pad na Winburg, naby die imposante nuwe tolplaza by Verkeerdevlei, het die bordjie “Josephinesdal” byvoorbeeld my herinneringe teruggevoer tot die heel laaste Geloftefees waar die uwe in 1991 (nog in die ou Suid-Afrika) die spreker was.
Later, in die Oliviershoekpas het die bordjie “Retiefklip” my herinner aan die Geloftefees by Kerkenberg, naby die monument van die kaalvoetvrou. Die “saal” is in ‘n skeur tussen twee groot rotse. Die reën het op 16 Desember 1980 só op die sinkdak gedawer dat my normaalweg forse stem kwalik die mas kon opkom. ‘n Vrystater se verklaring was: “Jou stem weier om die liberale dinge kwyt te raak wat oor jou lippe kom!”
Op Winburg het Tokkie poseer voor die ou Hotel Winburg waar ons op 31 Desember 1966 ons eerste huweliksnag deurgebring het, en by ‘n olifantjie-spuitfontein wat na bewering die hartjie van die Vrystaat is – die presiese middelpunt. Die ou hotel is nou in die proses van herskepping tot ‘n herberg.
Later, in die Koninklike Natalse Park, het sy ook poseer by die murasies van die eens deftige “Royal Natal” by Mount-Aux-Sources waar ons ons tweede huweliksnag deurgebring het. Gras groei nou waar die wittebroodspaar Van Deventer hand-aan-hand die swier van daardie vergange tye bewonder het. Maar daaroor meer in ‘n volgende blog.
Op Paul Roux het ons oornag by Tokkie se neef Piet Botes en Retha. Die wortels van my vrou se Roux-familie lê hier wyd – op plase in die distrik en ook in die verwaarloosde begraafplaas. Piet het my met sy bakkie na die treinhalte Kaallaagte gebring (hulle spreek hom uit Ke-láágte) waar ek en ma, Baby, altyd afgeklim het as ons van Kimberley af vir Oom Danie en Tant Susie du Plessis op die plaas kom kuier, onder meer met ons padkosmandjie en rolletjie beddegoed. Oom Danie het ons kom haal met ‘n kapkar met twee spoggerige, kopspelende perde in die tuig. Die seuntjie van Kimberley het hom verwonder.
Rondom 1947 het oom Danie vir hom een van daardie plat nuwe Hudsons gekoop, wat soos ‘n sigaar lyk. Die registrasienommer was ORE … iets. Die bynaam “Ore” het die goeie mense van Paul Roux nogal irriteer. Ewenwel, eendag het die Hudson (Hornet?) se dakstoffering in Bultfonteinweg, Kimberley, skielik losgeskeur en op oom Danie neergedaal. Hy, altyd vinnig van humeur, het die kar met ‘n hamer bygedam en hom vol knoppe gevoeter. Maar dis ‘n ander storie.
Ons is van Bethlehem af deur Golden Gate na Harrismith, waar ons ‘n boks vol nastergalkonfyt uit daardie kontrei gekoop het. Sowel die effense ompad met sy skouspelagtige Oos-Vrystaatse bergtonele as die eksklusiewe konfyt van bessies wat deur spanne swart vroue met die hand in die berge ge-oes word, word van harte aanbeveel. Die roete neem jou verby Clarens waar buite die dorp ‘n bord is: “Welkom in Clarens … praat gerus Afrikaans. Dis jou goeie reg.” Mooi skoot, Clarens!
Op Ladysmith is ons langs die rugbyveld verby waar my Tukkiekoshuis, Kollege, in 1962 die doeltreffendheidsbeker op ‘n rugbydag gewen het. Hierdie skraal vleueltjie is (weens vrot verdediging) uit die span vir die eindstryd gelaat, en het as vlagman opgetree. Die opponente skop en dis rakelings oor. Die uwe wys dis mis. Terug op my pos voor die paviljoen peper die toeskouers my: “Was dit oor of mis?” “Dit was oor,” bevestig ek die ander vlagman se aanduiding. “Hoekom wys jy dan dat dit mis was?” “Omdat dit amper mis was.”
Vir Vossie Grey, studentemaat, deesdae ‘n uithalerboer, is hierdie storie om die een of ander rede skreeusnaaks. Hy skud telkens opnuut van die lag as dit opgehaal word, soos daardie aand weer aan etenstafel op hul spogplaas, die JanVos-landgoed, naby Davel. Ek en Tokkie het by die gasvrye Greys oornag, Oor Vos se boerdery is baie om te vertel. Hou hierdie ruimte dop.
Op pad na Vos toe was daar ook nog bordjies “Dundee” en “Wakkerstroom” wat my gedagtes in trurat gesit. Op Dundee is ek op 3 Januarie 1941 in Sister Gilbert se Nursing Home gebore. Op Wakkerstroom was my Pa Malan in sy jong dae winkelier (Wakkerstroom Algemene Handelaar, was die naam, meen ek). Op Chrissiesmeer, anderkant Ermelo, het ons brandstof ingegooi. Pa-hulle het altyd by familie daar gaan kuier …. waar dit in die winter nogal ‘n gesukkel was om die ys soggens van die ou Studebaker se voorruit met ‘n knipmes en ‘n ketel warm water af te skraap.
Comments