top of page
  • Uitmelkbos

“SNAPS” WAT SKOK


‘n Jong HvD aan Die Volksblad se subtafel circa 1964 (let op die das!). Links is Jaap Steyn (hoofsub) en Wiets Beukes (assistent-redakteur).

Teleks – in die gesels hier en op Facebook oor die telegram-era het die woordjie telkens ter sprake gekom.

Die bewoording op ‘n telegram is naamlik op ‘n verre teleksmasjien uitgetik en is dan raserig by sy bestemming se poskantoor ontvang. Dit is in strokies op die telegram geplak, vratte (meesal tikfoutjies) en al.

Berigte het op dieselfde wyse by koerante ingestroom. Die telekskantoor met sy horde kletterende masjiene was die hart van die koerant. Die dinamiek van ‘n vorige generasie koerante is in daardie geluid vasgevang.

My eerste kennismaking met ‘n redaksiekantoor was een aand in Desember 1958. Wiets Beukes het hierdie beurshouer aan die vooraand van sy eerste skof vakansiewerk gaan rondwys. Die bedrywige telekskantoor het my geboei en my bloed laat bruis.

Die bysiende Bennie Lean het die aand diens gedoen. Hy was besig om bladsy vir bladsy af te skeur soos dit onophoudelik uit ‘n verskeidenheid bronne opdaag, en vir die hoofsubredakteur se aandag te rangskik.

Van Sapa, Sapa-AP en Sapa-Reuter (deesdae net Reuters) is woorde in die snelle tempo van geweervuur uitgespoeg. Van die susterskoerante Die Burger en Die Oosterlig (daar was nog nie ‘n Beeld nie) en van die sogenaamde buitekantore (in Londen, aan die Rand en in die Goudveld) het nuus uit hul kontreie van eie verteenwoordigers ingestroom. Oor poskantoorlyne het korrespondente hul stories oor groot pampoene en dies meer uit die platteland hoopvol aangebied.

Op Vrydagaand 22 November 1963 het ek een van my onvergeetlikste teleks-ervarings opgedoen. Ek, jong verslaggewer, het vroegaand ‘n berig kom tik. Toe roep Bennie (of was dit dalk sy adjudant, Smittie?). Uit Dallas, Texas, het een skokstorie na die ander begin rol oor die sluipmoordmoord (die dubbele “moord” is glo nou die korrekte vorm) op pres.. J.F. Kennedy by Dealy Plaza. Die een “snap’ (flitsberig) na die ander.

Ek het die ontvouende drama met intense aandag gevolg, maar gelukkig die teenwoordigheid van gees gehad om die assistent-redakteur, Bart Zaaiman, te bel. “O, gatta, ou Hendrik,” het hy gesê (hy het nie juis sterker taal gebruik nie) en die wiele aan die rol gesit vir ‘n spesiale poging die Saterdagoggend. Die Volksblad was toe nog ‘n middagkoerant.

Die uwe was daardie Saterdag een van die herskrywers. Ek onthou ek het vertaal Jackie Kennedy was “met bloed bespat”. Oom Bart het afkeurend gefrons. Met bloed bekoek,” was sy voorstel. Dit is met akklamasie aanvaar.

Op 6 September 1966 was ek hoofsub toe Bennie Lean die middag kort na 14:15 sy kop deur die luik tussen die telekskantoor en die subkantoor druk, bewend met ‘n “snap” in sy hand: “Dr. Verwoerd stabbed by knife in Assembly”. (Dit was ‘n taalglipsie in die harwar van die oomblik van ‘n Sapaverslaggewer wat klaarblyklik Afrikaans ge-oriënteer was, soos vele van sy kollegas. Verwoerd is immers “by” “a messenger” ge-“stab”. “With a knife”.

Dit daar gelaat. Wat ‘n holderstebolder middag het dit nie ingelui nie. Die gewone laat uitgawe, pas klaar, is onmiddellik ingrypend oorgemaak met ‘n banier van groot houtletters – letters wat gewoonlik vir ‘n oorlog gereserveer word – op die voorblad: “Dr. Verwoerd vermoor”.

Dadelik is begin om kooragstig aan ‘n spesiale uitgawe te werk. Ek het nooit weer daardie middag gesit nie – net, hoewel self bleek en bewend van ontsteltenis, in staande posisie vooroor gebuig by my lessenaar berigte gekeur en opskrifte help skryf om die Bloemfonteinse leserspubliek oor die jongste nuus in te lig. In die koerant was o.m. ‘n aangrypende ooggetuieverslag van wyle J.J.J. Scholtz. Van die staatmaker (ook wyle) Alf Ries, politieke beriggewer, is ‘n raakvat-berig ontvang met al die vernaamste elemente. Van die redakteur was daar ‘n spesiale voorbladhoofartikel in ‘n rouraam.

Alles het begin met daardie “snap” en Bennie Lean wat onmiddelik gesnap het dis ‘n “snap” met nuus wat Suid-Afrika soos ‘n voorhamer sou slaan.

Die teleks is soms ook deur grapjaste misbruik, en veral een geval het nogal ‘n eienaardige nadraai gehad. Daarvan vertel ek ‘n volgende keer.

1 view

Recent Posts

See All

Probleme probleme

Die hoop het toe nie beskaam nie. Rapport het afgelope Sondag vorendag gekom met ’n noemenswaardige resensie – Trisa Hugo se skrywe oor Veldhospitaal 12, die nuwe roman deur Marinda van Zyl. Boek24? W

SKOONHEID SONDER SKROOMHEID

Op bladsy drie van Die Burger vanoggend verskyn o.m. berigte oor die Mej. Wệreldwedstryd waarin Shudu Musida SA se kroon dra, en ‘n motorfiets-uitstappie na die Hartebeespoortdam waarvan die afwesighe

© 2022 LitNet. Alle regte voorbehou | All rights reserved

bottom of page