top of page
  • Chomsetussenbetragtings

Snaaks en sad gelyk...

Die onderstaande stukkie is helaas nie deur myself geskryf nie. My nefie Vester

Dis alombekend dat ek uit n hegte gesin kom, maar verder as die ouerhuis kan ons nou nie juis beskryf word as familievas nie, hoofsaaklik weens die feit dat die een kant van ons familie uit 'n onbehoorlike agteraf bloedlyn stam. Hulle woon almal so teen die weskus op en die wat verder as st.6 gekom het, bly al vir jare so kol-kol teen die buitewyke van die Paarl.

Buiten dat hulle op hulle beste dag eenvoudig wêreldvreemd is, is die hele lot bysiende. As gevolg van 'n hoogs noodlottige en oordraagbare klier, word dit erger by die geslag. So dik is hulle brille, op n warm dag brand hulle 'n gat in jou hemp as jy te lank groet.

Oogkontak vermy jy heeltemal, daai oë kyk vir jou soos goudvisse uit die hêl. My ouma sê, Kyk net af, hulle sal vir jou hipnotiseer dat jy jou hele boedel opgee. So sit Ant Minnie se kombuis al vol bebrilde dogters, toe raak sy weer swanger. My ouma sê dis kindermishandeling, die stomme goed lyk soos n bottelstoor, wie gaan met hulle trou?

Dalk het sy geweet dit kon nie erger nie, of dalk is sy daai tyd betaal, maar so kondig Ant Minnie aan hulle soek vrywilligers, sy doen een van die eerste watergeboortes in die land. Drie weke voor die beplande datum laat hulle haar toe te water en na een van die morsigste halfure in die mediese geskiedenis kom my nefie Vester die lewe binne met n helse tekort aan suurstof. Standerd 7 toe snak hy nog steeds na sy asem.

Boonop is hy so bysiende, hy moet omtrent 'n Pyrex bak dra om iets te sien. Die kind lyk soos n lasagne, sê ouma. Julle moet hom laat aanneem.

Niemand sit voet naby Vester nie, en van die min suurstof wil sy kos ook nie verteer nie, dit loop sit direk aan sy buitekant. Standerd 8 toe is hy so breed soos die straat.

Kersfees moet ons gaan kuier. My pa sê hy slaan ons dood, ons moet met Vester ook gesels, ons sê ons gaan opgooi. Ouma sê dis by die skool ook so. Geen mens wil by hom inmeng nie. Sy pa wil hom glad uit die skool uit haal, maar wat doen jy dan, as jy so sleg lyk, vat net die polisie jou. Is jy mal, sê Ant Minnie, hy skryf dan gedigte.

Iewers deur dit alles moes Vester seker begin ontuis voel. Die skole het net gesluit toe verkoop hy sy duiwe aan n kleurlingman en begin die hok uitmekaar haal. Hy sit ure in die biblioteek en teken ingewikkelde grafieke in 'n boek. Soggens vroeg kap en timmer hy in die agterplaas, die familie gaan kyk nie eers nie, hulle is te bly hy is besig.

Twee weke voor Kersfees storm een van die dogters by die kombuis in. Vester bou twee vlerke aan die buitetoilet vas, sê sy.

Daar is macaroni op jou bril, sê ouma en daarmee is dit ook vergete.

Drie dae voor Kersfees dra Vester die karavaan se yskas by die toilet in. Niemand sê 'n woord nie. Die volgende dag dra hy n koffer in. Niemand sê 'n woord nie. Oukersdag dra hy 'n boks crackers in.

Die aand sit ons om die boom. My pa lees uit die Bybel en ons gril vir die niggies. Buite in die toilet trek Vester 'n vuurhoutjie. Voem!! sê die toilet en trek by die lawn uit. Ons storm almal na buite. Soos 'n ster trek Vester oor die Taalmonument.

Anderkant die Paarlberg haal 'n plaaskoor asem vir Kom Herwaarts, toe tref Vester die plaaspad. Lank staan die koor tjoepstil. Ons sing ontsettend kak sê die tenoor.

Drie dae na Kersfees staan die hele familie langs die graf. Dit is 'n snikhete dag. Ouma sit met n bottel en gooi water al om haar opvoustoel. As die son vandag daai brille vang brand hierdie berg dat hulle hom sien tot in Amerika, sê sy.

Ant Minnie haal 'n stuk papier uit. Dit is een van Vester se gedigte sê sy. Toe kyk sy ons een-een in die oë. By die goudvis kom 'n reuse traan uit. Hy rol onder die bril uit en val op die papier.

Eendag, lees sy,

Eendag gaan ek wegvlieg

na 'n land van groot, groot mense

met baie min te sê

waar ek ook 'n familie het

waar almal halfpad blind is

en waar die liefde lê (Outeur onbekend)

8 views

Recent Posts

See All

Net 9 disse?

Kom ek op hierdie interessante berig in die Sowetan af vandag, en herken myself toe baie goed! Alhoewel die studie onder die Britte gemaak is, dink ek dis tot 'n groot mate op ons van toepassing. Sal

My kortverhale (wow, dit was pret!)

Hy klap die agterdeur met 'n dawerende slag agter hom toe. Sy bly op die vloer sit, en vryf oor haar brandende wang. *** "Mamma, waar's Pappa?" Sy sug, vat haar dogter om haar maer skouers en lei haa

Joeeeeehoeeee! Ek's terug! (dink ek...)

Hallo liewe blogvriende! Ja, vir die eerste keer in VIER maande het ek weer soortvan internettoegang! Dankie vir die van julle wat my nie vergeet het nie, en so nou en dan 'n boodskappie gestuur het (

© 2022 LitNet. Alle regte voorbehou | All rights reserved

bottom of page