top of page
Uitmelkbos

SLEGTE DAG OP KANTOOR

Snelbouler I. Nicholson van Zimbabwe het Vrydag teen die Proteas in Benoni 74 lopies in sewe boulbeurte afgestaan, minstens twee lelike veldwerkblapse begaan en toe, op die koop toe, sy paaltjie vir ‘n eendjie verloor.

In die idioom van sportkommentators had die stomme man waarlik “ ‘n slegte dag op kantoor”.

Sy l-a-a-ang, swart agtermiddag het my herinner aan my eie “slegte dag op kantoor” op die krieketveld vyf dekades en ‘n ietsie gelede. Ek was in matriek op Volkies, Potchefstroom, ‘n brose 16 jaar oud en is skielik ontdek as ‘n skraal outjie (ja, glo dit!) wat ‘n krieketbal nogal kon slinger. Ek was pas bevorder tot die nommer-twee-snelbouler vir die eerste span (Antonie Richards, toe in standerd nege, was ons vinnigste man), en was danig in my skik met die nuwe status.

Op ‘n middag speel ons teen Potchefstroom-Dorp. Een van die aanvangskolwers was wyle Harry Newton Walker, Springbok-voorryman met arms soos voorhamers.

Ek kom op my langerige aanloop, trap vas en bestook hom met my eerste blitsbal. Hy slaan die bal minagtend oor my kop vir ‘n ses.

Die volgende dryf hy vir ‘n vier. Toe kom nog twee reuse-sesse voordat hy die res van die beurt, genadiglik, verdedigend uitspeel.

Dat my nooientjie Marie langs die veld was om die uwe se vernedering te beleef, het sake nie makliker of lekkerder gemaak nie.

Soos ek “Byl in my bos” oor die ervaring skryf, het dit die jongeling ten minste nederigheid geleer. Miskien moet I. Nicholson uit daardie woorde moed put. Hy sal werklik nie in die toekoms ‘n tekort aan nederigheid kan hê nie!

1 view

Recent Posts

See All

Probleme probleme

Die hoop het toe nie beskaam nie. Rapport het afgelope Sondag vorendag gekom met ’n noemenswaardige resensie – Trisa Hugo se skrywe oor...

SKOONHEID SONDER SKROOMHEID

Op bladsy drie van Die Burger vanoggend verskyn o.m. berigte oor die Mej. Wệreldwedstryd waarin Shudu Musida SA se kroon dra, en ‘n...

Comments


bottom of page