Slang, spinnekop, skerpioen …. Binne die eerste 24 uur in Sabiepark was al drie die vreeslike S-e op ons lysie van vakansie-ervarings.
Die slang het hom in Tokkie se kombuiskas ingewurm en op ‘n slaaibak vervel – een van daardie waarin jy ‘n slaai laat stol. Sy koppie is by die deksel ingevroetel. Moet sê: die ontdekking het nogal T. se bloed laat stol! Waar hy het ingekom? Waar is hy heen? Sulke tergende vrae bly onbeantwoord.
Die spinnekop was die hele tyd op die TV-skerm – senter, mister (van D) Venter! – terwyl die Crusaders die Stormers opfrommel. Seker ‘n voorbode gewees van die droewigheid wat sou volg!
Die skerpioen (darem ‘n kleintjie) het by Manie Steyn se kamer ingegelip toe hy ná donker sy skietding in sy bakkie gaan haal. Manie loop nog maar stadig ná twee knievervangings. Met sy ratse swaai van ‘n skoen met ‘n swaar sool skort egter niks!
Nog ‘n kameelperdjie is gebore – twee maande ná die skouspelagtige geboorte van onse Paasbaba wat van A tot Z deur die gesin Claassens in Wildevylaan gadegeslaan is. Hierdie bevalling het in Gwarriebos begin en later Apiesdoring se kant toe verskuif. Die ma steek haar jongste nog goed weg. Ons het maar net gehoor – was nie so gelukkig soos Brent, Marisa, Jacob, Thomas en Christopher nie.
Die slegte nuus is egter: daardie eerste outjie is weg. Het ná ‘n dag of twee soos ‘n GROOT speld verdwyn. Dat die kleinding bene en al deur hiënas verslind is, klink na die geloofwaardigste teorie. Maar hoe ook al, gedwonge verskuiwings staar hoeka ons reeds kleinerige kameelperdbevolking in die gesig. ‘n Groot uitdunning van wild lê weens ekologiese redes voor.
‘n Uitdunning van bobbejane? Daarvan hoor ons egter nie.
Luiperds (‘n luiperd?) loop al die hele week die park vol. Philip van Rensburg is een van die gelukkige fotograwe. Soos in die geval van die klein kameelperdjie hoor ek en Tokkie egter ook maar net daarvan.
En ditto tot dusver ook met die leeus wat elke twee of drie dae by die piekniekplek kom drink. Eergistermiddag het ‘n olifant hom glo vir een van die wyfies vervies. Heelwat pret verskaf aan die gelukkige toeskouers.
Die kommunikasies van daardie Sjangaanse vrou van min woorde Lucy het nog ‘n gedenkwaardige sê-ding bygekry. Toe sy Tokkie die eerste keer sien, lig sy haar omtrent bo haar kop en swaai haar soos ‘n poppie in die lug. Sy kap-kap na T. se sitkussings en brom afkeurend: “Too thin, too thin”. Kan nie juis van L. se oordeel verskil nie!
Gister het Constance kom huis skoonmaak. Sy raak toe weg. Ná ‘n ruk kry Tokkie haar in die buitekamer. ‘n Vlakvark hou haar gyselaar.
Die klein nagapies vier op die oomblik fees. Die grotes skitter nog in hul afwesigheid. Slegs een het tot dusver kom oë wys. Dalk kry hulle koud. Sabiepark is darem nie vriesend nie, maar soos elders is temperature aan die skraal kant!
Comments