top of page
  • Uitmelkbos

SLANG IN DIE GRAS


Tokkie vang slange in Sabiepark

Vir die drie vreeslike s’e van die bos, slang, skerpioen en spinnekop, het ek ‘n ingebore skuheid. Van al drie se teenwoordigheid raak ons in ons bosplek in Sabiepark, waarheen ons juis Desember weer op pad is, gereeld bewus op wyses wat nie die vrese besweer. As jy in die bad klim, kan jy jou maar klaarmaak vir twee of meer arige, harige spinnekoppe wat vanuit die verskyn niet om die verrigtinge te monitor. Ek is oortuig die motief is om die weerlose, bleek lyf in die water te intimideer.

Een het hom in die badkamerskaal ingewurm. Daar sit hy nou soos ‘n museumstuk permanent agter die glas verewig in die omstreke van die liga waarin my massa val – nie juis ‘n aanmoediging om gereeld te monitor wat die uitwerking van elke aand se braaivleis en Kaapse “kultuur” by die groot maat is nie.

Buitelug-spinnekoppe versondig jou siel op ‘n ander manier. Hulle span hul webbe op gesighoogte van boom tot boom, selfs oor strate — sonder inagneming van die onplesierigheid wat dit vir stappers kan veroorsaak as die draderigheid in hul monde en hare beland. Tokkie noem dit Sabiepark se eie “internet” (of S-web). Een verskil: hier is geen keuse van webwerf nie….

Skerpioene het ook die nare gewoonte om die badkamer saam met jou te besoek. Miskien besef hulle jy’s in bepaalde badkamersituasies redelik onparaat.

Met daardie geniepsige kalante had ons veral een vakansie oor Kersfees en Nuwejaar meer insdente as tevore. Ek kan aan minstens tien uitgevrete lummels dink wat net-net misgevat of misgetrap is. Brrr!

Tog, toe ons wegpak, haal die uwe ewe onbehoedsaam ’n geblokte foto van die stoep-braai se skoorsteen. Ek deins terug toe ’n vet skerpioen op die een punt vir my sit en gluur, oorgehaal vir aksie.

“Daar’s twee,” kondig Tokkie aan. Jou waarlik. Op die ander punt teen die donker klinkermuur sit klaarblyklik Mev. Skerpioen met haar vrag van wriemelende skerpioen-telgies spierwit 65 op haar rug ingeryg. HvD kon sy vingers lelik verbrand het.

Om skuifdeure toe te hou, is een van die basiese boswette. Voordat jy kan sê mes, glip ’n opportunistiese slang binne. Tokkie bewe nou nog oor die ene wat op pad swembad toe uit die skuifdeur se gleuf op haar kaal skouer neergedaal het.

‘n Slang so dik soos ‘n pofadder (bedoelende daardie lekkerny wat jy braai: ‘n geurige wors met lewer, niertjies, vet, afval en ander lekker goed in ‘n dikderm gestop) het my my boeglam laat skrik. Die lummel het skemeraand glibberig uit die gras te voorskyn gekom en geruisloos voor my voete oor die lapa se baksteenvloer gewoerts. Trippe-trappe-trone, slang snuif aan my tone!

In die flou lig van twee flitse het Tokkie later ‘n regte, egte pofadder voor die pakkamer die ewigheid ingehelp. Brent Claassens, my skoonseun uit die Kaap, het in ‘n heldhaftige oomblik sy aversie vir slange oorwin, en ‘n Oostelike tierslang met die braaitang behendig tot oorgawe gedwing.

Kort daarna gewaar my oplettende vrou twee “groenetjies” in die riffies van die huis se bakstene. By die geringste stoornis, wurm hulle hulle dan blitsvinnig in die kleinste gaatjie onder die grasdak in. Dadelik tower my verbeelding skrik-scenarios op van wriemelende reptiele wat in die nag uit die dak op die slapende Van Deventers neerstort.

Ons gaan leen by die kantoor die “slangstok” – ‘n lange van so twee meter met ‘n lussie aan die punt. Dit moet om die slang se kop gegooi word. Dan trek jy dit net styf. Siedaar, jy het jou slang!

Tokkie paradeer stok oor die skouer al om die huis en oefen. Blaartjies en takkies, hoog en laag, kry sy met die slangstok beet. Die slangetjies bly egter buite bereik. Sy dreig later: sy gaan Doom Fogger koop en die “boggers” uit die dak “fogger!”

Sy besluit tog om eers hul skuilplekke met gewone Doom aan te val. Dit werk met die kleinste slangetjie. Dié swig met ‘n blitsende tong voor die aanslag. Die kantoor se vangstok, ruime aanwending van die “geheime wapen” en ‘n paar kaphoue met die graaf beteken sy einde. Die groter “loseerder” kom weg. Ongelukkig.

Dit spyt my om te rapporteer dat die uwe met die graaf bewapen was toe hy grond vat. My reaksies was, helaas, hopeloos te stadig. Dat hy sy as afgeskrik het – seker vir Tokkie se Doom – is egter ‘n feit. Hy het nie teruggekom nie

Een middag keer ons terug van ’n uitstappie en tref Lucy, die huishulp, grootoog aan. “A snake, a big one,” is hier om die huis van die huilboerboon se kant af vorentoe. Hy’t hier langs die swembadjie af verby die haak-en-steek ge-“walk” en ge-“walk” en hy skuil nou in die wilde

katjiepiering ’n entjie van die voorstoep. Gelukkig het ons paaie ook nie weer gekruis nie.

Toe ons in Julie daar weg is, was ‘n nuwe enetjie egter in ‘n gaatjie in die muur. Sy koppie het geblink as die son op hom skyn. Sy “trousers” – Lucy se woord vir die vel wat in die vervelling agtergelaat is – hang in ‘n dakbalk.

Of die “Pest Magic” jou van sulke ongemaklikhede kan vrywaar, soos iemand in kommentaar op die vorige blog hoopvol verneem het, twyfel ek – buiten miskien in die geval van die spinnekoppe. Al sou dit ook sou dit egter op Sabiepark niks help nie – vir ultra-soniese beskerming het jy elektrisiteit nodig! Naskrif: Deesdae is dit wet in Sabiepark: geen slang word doodgemaak nie; roep asseblief die kantoor.

3 views

Recent Posts

See All

Probleme probleme

Die hoop het toe nie beskaam nie. Rapport het afgelope Sondag vorendag gekom met ’n noemenswaardige resensie – Trisa Hugo se skrywe oor...

SKOONHEID SONDER SKROOMHEID

Op bladsy drie van Die Burger vanoggend verskyn o.m. berigte oor die Mej. Wệreldwedstryd waarin Shudu Musida SA se kroon dra, en ‘n...

Comments


bottom of page