top of page
  • Uitmelkbos

‘SKUUS VIR DIE WALS


Deftig en formeel uitgevat vir ‘n swierige bal later, geniet Queen Mary 2-passasiers aandete in die manjifieke tweeverdieping-restaurant die Brittania.

 Natuurlik gaan ek en Tokkie ook ‘n walsie waag – indien nie vroeër nie, gewis die aand van die Valentynsbal wanneer elkeen ‘n ietsie rooi moet dra en die Weense walsmusiek (asook die rumba, die dans van die liefde) oor die dek van die Queen Mary 2 gaan weerklink.

Dit sal die uwe se eerste wals wees sedert Marisa se huwelik op 31 Desember 2000.  Pa en dogter het op die maat van Eddie Calvert se O mein pappa “grasieus” oor die vloer gegly by Oude Libertas op Stellenbosch. Eers later het ek gehoor O mein pappa is geen wals nie!

Die Valentynsbal is een van die sewe  formele aande van ons 22 ter see; party met temas soos die swart-en-wit-bal, die Afrikabal en die “roaring twenties”-bal. Vir formele aande bestaan uitvoerige klerevooorskrifte.

Vir mans word tuxedo’s aanbeveel, vir vroue aanddrag.  Mans kan selfs aanddrag op die skip huur om hulle behoorlik uit te vat. ‘n Swart tuxedo jaag jou ‘n koele $90 aand uit die sak – amper R1 000 teen die huidige wisselkoers,. Elke kledingstukkie het sy prys.  Die goedkoopste is ‘n sakdoek teen $5 en ‘n strikdas teen $6,95.  Ek sal die huuropsie liefs laat verbygaan.

My ou swart dubbelbors-pak en fluweelstrikdas uit ‘n vorige era is voldoende, meen ek.

Saam met die voorskrifte vir die swart-en-wit-bal kom ‘n waarskuwing: Jy kan ‘n rooi rok aantrek as jy wil, maar jy gaan uit voel!

Vir die Afrika-bal word flambojante Madibahemde en batik-rokke “ïn an African spirit” aanbeveel. Ek krap in my kas en kry ‘n rooi das met landsvlaggies oweral. Tokkie diep vir my ‘n kleurryke lapelwapen in die vorm van Afrika uit. Dit sal die ding moet doen.

Vir die “roaring twenties” word ‘n dubbelborspak met fyn strepies aanbeveel. Myne het nie strepies nie, maar toemaar.  Vir vroue is die aanbeveling die beroemde “flapper-voorkoms” van die 20’s toe vroue die juk afgewerp en waarlik uitdagend na vore begin kom het, ook in hul manier van aantrek.  Vere is deel van die “flapper”-voorkoms.  Ha, TvD besit gelukkig ‘n rooi volstruisveer-boa wat moet koffer toe.

Van ons vriende frons oor die vreeslike ge-aantrekkery op vakansie. Op Cunard se webwerf lees ek egter dinge verloop deesdae minder formeel as tevore. Voorheen was daar meer formele aande per week.  Die afskaling tot twee het nie oral goed afgegaan nie.  Tradisionaliste het geglo dis ‘n toegewing aan wat Paula van der Leck van 7de Laan “banale voorstedelikheid” sal noem.

Moet sê: Vir my lyk dit deel van die kultuur en die sjarme van ‘n lewenservaring op ‘n skip met styl en tradisie. Ek onderwerp my gewilliglik – so ver my klerekas kan bykom.  Tot siens vir eers, ons moet gaan inpak. Dinsdag vaar ons.  Gesels weer einde Februarie.

1 view

Recent Posts

See All

Probleme probleme

Die hoop het toe nie beskaam nie. Rapport het afgelope Sondag vorendag gekom met ’n noemenswaardige resensie – Trisa Hugo se skrywe oor Veldhospitaal 12, die nuwe roman deur Marinda van Zyl. Boek24? W

SKOONHEID SONDER SKROOMHEID

Op bladsy drie van Die Burger vanoggend verskyn o.m. berigte oor die Mej. Wệreldwedstryd waarin Shudu Musida SA se kroon dra, en ‘n motorfiets-uitstappie na die Hartebeespoortdam waarvan die afwesighe

© 2022 LitNet. Alle regte voorbehou | All rights reserved

bottom of page