top of page
  • Uitmelkbos

SKURKE VAN DIE OORLOG


‘n Vername element in die “ontmaskering van die legende van Breaker Morant” (vanoggend se boekeblaaie in Afrikaanse koerante) het ietwat verlore geraak. Dit is die bydrae van my vriend Piet Henning, voorheen self van die historiese plaas Sweetwaters, Louis Trichardt, waar sy broer, Poog, nou boer.

Piet het vir my die boek present gegee en geduldig al my vrae beantwoord. Ek ploeg plek-plek lekker met Piet se kallers. Amper 50 jaar gelede het Piet vir my op Tukkies Aynn Rand se klassieke “The Fountainhead” present gegee. Hy kies sy boekgeskenke fyn uit! Dankie, Piet.

In die finale vorm van die resensie is enkele feite bygewerk. Hier is die oorspronklike:

‘n Onverkwiklike stuk geskiedenis het in my persoonlike, taamlik ingewikkelde, legkaart van die uitgerekte, uitmergelende en plek-plek onbegryplike Anglo-Boereoorlog tot dusver nie tot sy reg gekom nie.

In die laaste fase van die oorlog van twee jaar en agt maande, van 11 Oktober 1899 tot 31 Mei 1902 het, verskuil agter geografiese, historiese en dalk ook emosionele ontoeganklikheid, een van die pynlikste hoofstukke van die oorlogsdrama hom in die Soutpansberge afgespeel.

In ‘n bloedige skrikbewind deur die sogenaamde Bushveldt Carbineers van “Breaker” Morant in die Louis Trichardt-kontrei van Mei 1901 tot April 1902 is oorlog gereduseer tot die wrede vesel van ‘n bittere stryd tot die einde: vat geen prisoniers nie, skiet om dood te skiet.

Ongewapende, siek Boere, bibberend weens koors, is, selfs onder die wit vlag, gewetenloos, tot agt op ‘n slag, neergevel; op weerlose vroue en kinders is roekeloos losgebrand; ‘n onskuldige sendeling met al sy “papiere” is koelbloedig vermoor; swartes is voor die voet afgemaai.

Op 5 September 1901 is, in ‘n buitengewoon, nare gruweldaad in die Mooketsivallei op Boerewaens begin vuur terwyl vroue en kinders se opgeruimd gesels opklink. Twee Grobler-boeties (14 en 6) is in mekaar se arms doodgeskiet. Hul sussie (9) is ernstig in die nek gewond.

In sy boek “The legend of Breaker Morant is DEAD and BURIED” gee Charles Leach, ‘n amateur-historikus van Louis Trichardt, ná sewe jaar se navorsing, ‘n broodnodige Suid-Afrikaanse perspektief op die wandade wat tot Morant en sy regterhand, Peter Handcock (korrek), se uiteindelike skuldigbevindinge deur ‘n krygshof en teregstelling deur ‘n vuurpeleton gelei het.

Ene Manie Eloff noem Leach iewers “‘n blerrie rooinek-toergids” wat vir hom nuwe insigte oor sy eie plaaslike geskiedenis gebring het. Omvattender hulde is aan hierdie “blerrie rooinek-toergids” vir sy blootleggings verskuldig, meen ek. Sy boek vertel ‘n storie helder en op die man af. Dit is uiters professioneel deur homself uitgegee en gedruk, en verdien die wydste, waarderendste leserskring.

Morant geniet in sekere geledere in Australië amper heldeverering. Terwyl hy in allerlei vergoelikende boeke en rolprente as net ‘n sondebok vir groter Engelse onheilighede of as romantiese kwasi-held uitgebeeld word, en aktiviste Doer Onder selfs nou nog vir hom en Handkock ‘n Britse pardon nastreef, brandmerk Leach hulle finaal en oortuigend as gewetenlose moordenaars en skurke, wie se dade selfs erger was as wat in die krygshof uitgekom het – waarskynlik klassieke, strafwaardige “oorlogsmisdade.”

Vir hierdie afstammeling van Boerestryders in die Vrystaat (my Oupa Visser was ‘n krygsgevangene op Ceylon) was hierdie dinge agter die “Soutpansberggordyn” net vaag bekend – so vaag dat ek onder die indruk was die naam Morant word Meurant gespel en dat die naam van sy regterhand, Peter Handcock (korrek) geen klok sou lui nie. Om van die res van die ongure offisierekorps van die Carbineers (die Wittons, Lenehans, Taylors, Hannams, en andere, amper almal landgenote van Morant en Handkock) nie eens te praat nie. Ná die lees van die boek – wat nie net ou littekens meedoënloos en sielsnydend oopkrap nie, maar nuwe wonde byvoeg – sal ek weet met hoeveel minagting ek voortaan op die hoor van daardie name sal reageer.

Insidente soos die reeds gemeldes, en o.m. ook die bloedbad van Ballymore waar agt Boere doodgeskiet is, die moord op Roelf van Staden en sy twee seuns op die plaas Sweetwaters, en die teregstelling van die jong Floris Visser ná ‘n vlugtige verhoor deur ‘n boendoehof het nuwe plek en betekenis in my kortbegrip van die Anglo-Boereoorlog verwerf.

Hoekom daardie geskiedenis so verborge en half-vergete geraak het en so onverstaanbaar gelokaliseerd in die oorlog-oorleweringe figureer, bly ‘n vraag om oor te bespiegel. Sou dit wees omdat daar geen “helde-veldslag” was nie en dat die Soutpansberg gevolglik minder aandag getrek het as die oorlog elders? Is dit omdat die krygshofrekord in 1920 vernietig is, sekerlik ‘n verligting vir die Engelse wat die Carbineers se eerlose doen en late verstaanbaar so dig moontlik probeer hou het?

‘n Ander rede, geopper deur Piet Henning, is dat in die “Verre-Noorde” minder Boere in verhouding aan die ABO deelgeneem het as elders. Etlikes het geskuil in die Laeveld, ander weer in Suid-Rhodesië. Die meeste was eenvoudige, nederige mense, soms ongeletterd.

Die skrywer Leach het teenoor Piet Henning gegis dat die trauma so groot was dat die oorlewendes die herinneringe liefs uit hul lewens sou wou wegruk. Toe ‘n Australiese geselskap drie jaar gelede daar was om die Morantstorie opnuut na te vors en een van Leach se “Zoutpansberg Skirmishes”-toere (reeds 4 000 besoekers) meegemaak het, was van die derde geslag van slagoffers wat hulle besoek het, nog erg emosioneel oor die gebeure van byna 110 jaar vantevore.

Kan daardie diep verskuilde bitterheid en emosie die diep-diep wortels wees van die politieke weerbarstigheid wat tradisioneel met die Waterberg (dan ook Soutpansberg) verbind word? Die bastion van aarts-konserwatisme is dalk nie sommerso so nie!

1 view

Recent Posts

See All

Probleme probleme

Die hoop het toe nie beskaam nie. Rapport het afgelope Sondag vorendag gekom met ’n noemenswaardige resensie – Trisa Hugo se skrywe oor Veldhospitaal 12, die nuwe roman deur Marinda van Zyl. Boek24? W

SKOONHEID SONDER SKROOMHEID

Op bladsy drie van Die Burger vanoggend verskyn o.m. berigte oor die Mej. Wệreldwedstryd waarin Shudu Musida SA se kroon dra, en ‘n motorfiets-uitstappie na die Hartebeespoortdam waarvan die afwesighe

© 2022 LitNet. Alle regte voorbehou | All rights reserved

bottom of page