Nogal ‘n bisarre belewenis as Skukuza, slagaar van die Krugerwildtuin, in die hart van die wintervakansie om 14:30 op ‘n weekdag ‘n verlammende kragonderbreking beleef.
Die winkel en poskantoor is stikdonker. In die donker hool van ‘n poskantoor sit die twee toonbankklerke soos spoke agter die toonbank. Selfs nie ‘n kers is in sig nie. Hul hande is afgekap. Kon nie eens aan Tokkie n posseël verkoop nie.
In die winkel is dit sake soos gewoonlik – wel, nie heeltemal nie. Winkelpersoneel vergesel die klante met priemende flitse in die donker gange. Een help Tokkie die piesangrak opspoor en skyn bedagsaam sy flits in haar handsak toe sy in die duisternis sukkel om haar beursie vas te vat.
Uit die waskamer klink vrouestemme in strelende harmonie – dit is die ledige wasservroue wat hulleself in ‘n impromptu-koortjie georganiseer het toe die wasmasjiene en tuimeldroers tot stilstand knars en die strykysters koud word.
By die vulstasie staan al die petrolpompe. Arme drommels wat dringend brandstof nodig het vir die reis verder moet maar wag en hoop ….
In die donker toilette moet jy goed mik.
Deur die ontvangskantoor se vensters val genoeg sonlig sodat ongeduldige toue toeriste wat wag op hul rondawels se sleutels, geholpe kan raak. Maar dit is ‘n harmansdrup-proses, lyk dit, so sonder rekenaars en ander broodnodige tegnologie wat van elektrisiteit afhanklik is.
Arbeid wat sonder ‘n oomblik se verposing voortgaan, is die van die suikerbekkies wat by die ontvangsblok met hul lang snawels die nektar uit die bloedrooi aalwyne in volle blom suig. ‘n Skare fotograwe met lang lense staan gereed vir ‘n prysfoto. Party staan knielend vir die regte oomblik en wag.
Moet darem sê dat karige lig vir die kameragarde geen problem was nie. In die helder sonlig was die aalwyne bloedrooi en die suikerbekkies se kleurryke klede so skitterend as kan kom.
コメント