Of Superkok Sarel boerewors braai, vetkoek bak, souskluitjies optower of biltong maak, hy het altyd die een of ander spesiale doepa byderhand. Mapstieks man, sy padkos is iets uit ‘n ander wêreld. Selfs sy slaptjips is superieur.
Nee, hierdie blog gaan nie oor kos nie, wel oor Afrikaans, soos belowe. Die uitdaging wat ek wil stel, is: vertaal hierdie liplekker-inleiding in idiomatiese praat-Engels. Nie so maklik nie, né!
Al daardie woorde kom uit ‘n lysie van oud-kollega Tom Ferreira van Afrikaanse woorde en uitdrukkings wat hulle nie sommer so woerts-warts in Engels laat omsit nie. Dit, in reaksie op ‘n e-pos van ‘n stuk wat Irene de Bruyn vir die SA Klub in Perth geskryf het.
Irene skryf: “ Although I am now living in Australia, where English is the prevalent language, I still find myself using Afrikaans words and expressions, either because there are just no equivalents in English, or the Afrikaans version is so much more pithy. Often the Australians I speak to are intrigued by the words and find them expressive, even when I give them a censored translation of their meaning. (It depends on the company).”
Sy gee dan voorbeelde soos gril (nie ‘n “mixed grill” se gril nie!) , sommer, bakkie (in die kombuis en op die pad), voetstoots, dwaal, gogga, moffie, gatvol, gat sien, donder, jol, muti en kak en betaal.
Ek het daardie stuk rondgestuur met die opskrif “Hoera vir Afrikaans!”
Tom se reaksie: Pragtig! ‘n Mens kan byvoeg ….. dan noem hy al die woorde in die inleiding asook onderonsie, dit gaan klopdisselboom, kierang, luilekker, ondeund, niksnut, bossie, fundi, eish, taboe, kweperlat, en aangrypend (“gripping” is nie naastenby so aangrypend nie). Hy voeg ook die klassieke strikvraag by: Hoe vertaal ‘n mens “die hond kruip onderdeur die tafel”?
Ferdie Preller, ou skoolmaat, dra uit Pretoria die volgende by: skuins (dalk “slanted”, “at an angle from”, ens.) drafstap/draffie (nie dieselfde as ”jog” jnie), slenter (werkwoord en naamwoord) , bont/ rooibont (“red speckled”?), randjie (“ridge”, “hill”?) en vaal (beslis nie “grey” nie, nie dieselfde as “drab” nie, dalk iets tussenin.)
Eric Wiese, ook ‘n oud-kollega noem die woord vaak. “Lekker woord. ‘n Kind is vaak. Dis nie “tired” nie, dis nie “sleepy” nie. Dis vaak.” Aldus Eric.
Suné Greeff, mede-Sabiepark-eienaar, se bydrae is die woord bolangs, soos in bolangs skoonmaak.
Verdienstelike pogings die hele lot, meen ek. Ek beveel almal graag aan vir die lys wat iemand iewers skynbaar besig is om op die internet saam te stel en waarop tot dusver o.m. die volgende verskyn:
Van Irene de Bruyn self: jou bliksem, wag ‘n bietjie, nie so haastig nie, sakkie-sakkie, ou swaer, ja-nee, doedoe en doeks.
Van ene Rosie: naar (letterlik “bilious” maar ook “horrible”, “nasty”, “terrible” ens.), tjoepstil, moerse, morsdood en vrot.
Van ene Gavin: drol (“turd”, soos in daar’s ‘n drol in die drinkwater – “a turd in the drinking water”)!
Die uwe gooi graag ook ‘n paar in die pot. Sommer in die bondel is my kandidate: bleeksiel, wasbleek, witgeskrik, doodmoeg, potblou, hemelsblou. muisvaal, skreeulelik, spiertier, penorent, koekerig, rot en kaal, oumeide met knopkieries, op die koffie en pimpel en pers, plus ‘n paar uit die natuur: duiker, wildebees, klipspringer, kruidjie-roer-my nie, haak-en-steek en piet-my-vrou.
Kan nie al wees nie, kan dit? Lekker speel met jul eie lysies!
Comments