top of page

“SKOOLGELD”

  • Uitmelkbos
  • Sep 6, 2011
  • 2 min read

Op hierdie einste blogplek is ek onlangs, wanneer. nogal kwalik geneem oor my onvriendelike opmerkings oor die Hof van Kleineise (‘n “hof met melktandjies”) en my gebrek aan motivering om met ‘n aksie voort te gaan uit vrees vir onnodige beslommernis en ekstra koste.

Toegegee, nie alles wat ek kwytgeraak het weerspieel uitermate kundigheid oor die funksionering van daardie eerwaarde liggaam en sy regspreking vir sogenaamd die gewone man nie. In die proses het ek heelwat geleer, en ek dank medebloggers vir hul geduld met die ou man en hul vriendelike advies.

My lugtigheid en bedenkinge was egter nie volledig uit die lug gegryp nie. Na die pynlike ervaring van Melkbosse vriende met ‘n ” klein eisie” is ek hoegenaamd nie meer onseker oor wat my te doen staan nie. Ek bly ver weg!

Die vriend se Venterwaentjie is van agter flenters gestamp in Blouberg. Telkens as dit by die betaalslag kom, trek die skuldige egter kleinkoppie.

Toe’s dit Hof vir Kleineise toe. Maar o wee, die eerste keer beland almal voor dooiemansdeur. Vername amptenare van die hof skitter in hul afwesigheid. Vir my sou dit beteken het dat ek, soos kiepie, twee vrugtelose reise van Melkbos na George onderneem.

Die derde keer is almal op hul plek. Die hamer val. Doef. Die hof kom in sitting.

Gelukkige einde? Moenie glo nie.

Waar’s die deskundige getuie wat oor die Ventertjie se agterligte kan getuig, wil die voorsittende beampte streng weet.

Maar hier’s dan drie skriftelike kwotasies vir die stukkende ligte, protesteer die klaer.

Aikona, dis onvoldoende en gebrekkig. Hier moet iemand wees vir wie vrae gestel kan word. Daarmee basta.

Daar stap die verweerder – wat boonop sonder rybewys was – toe skotvry by die deur uit. Die arme slagoffer byt op sy tande en gaan huis toe. Geen ander uitweg nie: hy sal maar self moet opdok.

So laat hierdie duusman hom nie moerak nie. Ek skryf maar my skade af as “skoolgeld” – duur “skoolgeld”

Recent Posts

See All
Probleme probleme

Die hoop het toe nie beskaam nie. Rapport het afgelope Sondag vorendag gekom met ’n noemenswaardige resensie – Trisa Hugo se skrywe oor...

 
 
 
SKOONHEID SONDER SKROOMHEID

Op bladsy drie van Die Burger vanoggend verskyn o.m. berigte oor die Mej. Wệreldwedstryd waarin Shudu Musida SA se kroon dra, en ‘n...

 
 
 

Comments


© 2022 LitNet. Alle regte voorbehou | All rights reserved

bottom of page