Van die borg van woorde gepraat: ek sou reken vir die borg van die woord “koeksister” behoort bataljonne bevoorskote Suid-Afrikaanse vroue as aspirante op te ruk – elke denkbare vrouevereniging se lede, gemeentesusters, klubdames, gewone moeders, noem maar op.
‘n Koeksister is immers g’n hierjy-ding in Afrikaans nie. Die enigste monument is allesbehalwe daardie yslike ene in Orania. Ouetehuise, orrelgalerye, kinders se graadsertifikate … oral verkondig iets die eer van dié gevlegde soetigheidjie wat só welaangenaam die smaakkliere van soettande kan kielie (of hoe Oom Oubaas?)
Dalk is die woord “koeksister” wel geborg, die WAT (Woordboek van die Afrikaanse Taal) maak verstaanbaar net die uitverkorenes bekend waarvoor R5 000 opgedok is om hulle vir altyd en altyd eksklusief agter die naam te kan skryf, soos onder andere “Afrikaans”. Op daardie lysie van elf is “koeksister” nie.
“Skon” is wel. Waarom dié Skotse baksel – só gewild met ‘n skeppie room by alle Ingelse op aarde (en by ‘n klomp andertaal-praters ook) – enige Afrikaanse liggaam, instansie of individu dermate bekoor, is vir die uwe nogal ‘n raaisel.
Hy het immers nog grootgeword met die Hiemstra-istiese edik dat “skon” direk uit die Ingels kom – nare anglisisme! – en dat botterbroodjie die regte naam is vir daardie stukkie fyngebak wat saam met ‘n koppie Vyf Rose só voortreflik proe.
Maar geborg is hy, en geborg is “koeksister” nog nie. Geleentheid, geleentheid! “Opportunity knocks but once,” soos my wyle kollega Blaar Grobbelaar vir ‘n maer meisietjie met die bynaam Kierie vermaan het toe sy ons huilend die onwelkome attensies meedeel van ‘n lelike vent wie se onbekende gesig een oggend skielik in die bolig van haar voordeur verskyn het.
Dit nou maar daar gelaat. Eintlik wou ek net iets sê oor die Groot Elf, wat elkeen sy storie moet hê hoekom hy in daardie erelys pryk. Afrikaans is deur Afriforum ingekatrol en om klaarblyklike redes, soos ek in my vorige blog gemeld het. Solidariteit is seker op die lys met die komplimente van die gelyknamige organisasie.
Dagbreek – sou dit die Dagbrekers van Stellenbosch wees (daardie groot Matiekoshuis waarin groot geeste veral in hul eerste jaar tuisgegaan het) wat daarvoor verantwoordelik is?
Bemagtiging – ‘n mens kan interessant bespiegel, maar een ding is seker nie altemit nie: dis nie vrind Julius Malema wat die borg-geldjies daarvoor in harde kontant op die toonbank neergesit het nie.
Die ander vyf op die lys is “dankie”, “vrede”, “hoop” en “waardes” (vier mooi woorde in Afrikaans, elk met ‘n prysenswaardige betekenis) en dan “sukkel” (‘n woord waarvan die teenwoordigheid in sulke hoge geselskap seker by elke mens onder die son uit eie ervaring ‘n meewarige deernis-glimlaggie sal uitlok.
Dat ek nou “koerant” en “joernalis” borg, het ek al deeglik oor gespog. (Vir die sertifikaat, klaar geraam, het ek vinnig plek gemaak teen “my muur” in ons woonkamer op Melkbos.) Wens werklik ek was so dik in die pitte dat ek my borgskap van R100 vir elk kon optop tot R5 000 – om dit vir altyd net vir myself in te palm.
Iemand weet nie dalk van ‘n goedgesinde iemand wat HvD met ‘n R10 000 of wat sal wil borg nie?
Comments