Ondier, deur Jan Vermeulen. Resensie: Jonathan Amid (Boeke24) Wanneer mens reeds ’n boek gelees het en dan eers na ’n resensie daarvan kyk, wonder jy dikwels of jy die resensie self anders sou aangepak het. Ek kan nie dink aan ’n ander manier as dié wat Amid gebruik het nie: Inligting, verhaal, en altyd ’n implisiete waarskuwing dat die roman nie geskik sal wees vir mense wat nie die grafiese voorstelling van geweld en die gevolge daarvan kan hanteer nie. Die kuns is natuurlik hoe mens laasgenoemde verpak, en Amid kry dit oortuigend reg sonder om ooit te klink of hy self gesteier het voor die aanslag. Hy moet net versigtiger omgaan met die begrip argetipes.
Wanneer bloekoms dans, deur J.M. Gilfillan. Resensie: Anna Kemp (Rapport-Boeke) Dis goeie nuus dat J.M. Gilfillan weer ’n bundel kortverhale gepubliseer het. Wat ek van Anna Kemp se resensie daarvan hou, is die oorgawe en begrip waarmee sy die verskillende verhale benader en takseer. Wat my wel van die resensie pla, is dat sy geen aanduiding gee van hoe die verhale bou op Gilfillan se vorige bundels, en waar die ontwikkeling en nuwe groeipunte in haar skrywerskap is nie.
Jan, Piet, Koos en Jakob, deur Loftus Marais. Resensie: Louise Viljoen (Boeke24) Louise Viljoen skryf nie ’n swak resensie nie. Niks ontgaan haar oog nie. As sy ’n bundel resenseer soos sy hierdie nuwe worpeling van Loftus Marais resenseer, baat sowel digter as resensieleser. Wat is die een waarneming oor die bundel wat ek sa onthou? Die een waarin sy die eienskap noem wat Marais van al se eweknieë onderskei – humor.
Comments