Links: Karnallie tussen die kornoelies. Lente in Shenandoah.
Regs: Herfs in New England.
Die jaar word ryp in goue akkerblare,
in wingerd wat verbruin, en witter lug
wat daglank van die nuwe wind en klare
son deurspoel word; elke blom word vrug,
tot selfs die traagstes; en die eerste blare val
so stilweg in die rookvaal bos en laan,
dat die takke van die lang populiere al
teen elke ligte môre witter staan....
‘n Skilderagtige jaargety is herfs inderdaad, en skilderagtiger kan niemand die natuur hierdie tyd van die jaar in woorde omsit nie as N.P. van Wyk Louw.
Ekself kan maar net die meester se wonderlike waarnemings woordeloos beaam: die goue akkerblare, die wingerd wat verbruin, die witter lug, die klare son, kaal bleek takke van die lang populiere – ons sien die eerste tekens om ons heen. Herfs is op ons.
In Amerika raak dit natuurlik nie nou herfs nie. Oral in die noordelike halfrond bars die lente vrolik uit. In Amerika blom die legendariese dogwood (regtig kornoelie, soos die woordeboek beduie?) van Florida af in die suide tot diep in New England.
Ons was bevoorreg om in die lente van 1995 per motor van New Orleans via Florida Boston toe te ry. Die manjifieke dogwood was oral, veral in Noord-Carolina en Virginia, waar dit die nasionale blom is, Atlanta waar hulle ‘n reuse-dogwoodfees hou, en in die wonderskone nasionale Shenandoah-park. Die sogenaamde Skyline Drive deur die park Washington toe was ‘n prentjie.
Washington DC self is natuurlik kersiebloeisel-wêreld – daar is in die lente ‘n “cherry blossom festival”. Kan ook nie woorde kry om hierdie historiese stad in sy lentekleed te beskryf nie.
Eintlik is ek tog met hierdie skrywe op pad na die Amerikaanse herfs, wat in September kleurryk aanbreek. Veral in New England – waar die bome vroeg September in Maine en Vermont begin verkleur, dan in New Hampshire en Massachusetts en uiteindelik ook op die suidpunt van die komplilasie van state, in Rhode Island en Connecticut aan die einde van Oktober.
Wie nog nie die Amerikaanse “Fall” beleef het nie, mis iets skoupelagtig. Die gewone skakerings van groen, so volop in die oostelike state, raak ‘n dieprooi, helder geel, bruin en oranje. Van sekere punte is die hele landskap, so ver die oog kan sien, soos ‘n palet waarop die kleure deur ‘n reusehand deurmekaar geskommel is. Aangrypend mooi.
In ons Amerikaanse jaar, 1976/77, het ons die herfs ingedrink in naweek-uitstappie op naweek-uitstappie met my Toyota Corona-stasiewa, met sy matrassies agterin waarop die Van Deventers hulle in ‘n verskeidenheid “trailer camps” kon uitstrek. In albums van daardie tyd is verdroogde blare, blare, blare en hope foto’s van die kinders, Johan (toe 5) en Marisa (3), wat onder reusebome in ‘n uitgestrekte, ritselende bont mat sit en blare opskep.
Wonder of N.P. van Wyk Louw ooit gesien hoe die jaar in daardie geografiese regterskouer van daardie groot land “ryp word”. Slegs ‘n woordkunstenaar soos hy sou die woorde kon vind om dit te beskryf soos ek dit graag aan lesers van hierdie blog sou wou skets. Die foto hierby is mooi. Die werklikheid is mooier.
Comments