Trapsuutjie-beurte aan die begin van ‘n lopie-jaagtog, warrelwind-beurte aan die einde. Voor die TV-skerm raak die hande klam van sweet wat na paniek ruik, en kou ons ons naels stompies.
Genugtig. Wanneer, soos David Kramer in Skipskop sing, hou hierdie dinge dan op?
Teen Indië was dit end wel, alles wel … maar dit kon totaal anders gewees het as Robbie Peterson nie daardie drie geïnspireerde mokerhoue in die doodsnikke grens toe gejaag het nie
Dan was dit nag in Nagpur en die jubelinge ná die kritieke Wêreldbeker-wedstryd net verslaenheid, verwyte en trane.
Ruikers proteas vir Peterson, asook vir A.B. de Villiers, J.P. Duminy, Faf du Plessis en Johan Botha, vir hul onverskrokke kolfwerk teen ‘n allemintige agterstand.
Vrot tamaties vir die kaptein Graeme Smith vir sy stadige sukkelbeurt, Jacques Kallis vir, nogeens, ‘n demonstrasie van kasuele kan nie-omgee-nie terwyl dringendheid vereis word, en vir Hashim Amla vir oorversigtigheid in omstandighede wat waagmoedigheid verg.
Dis tog nie mortiere wat die Indiese snelboulers op die top-drie afvuur nie, of is dit? As dit is, hoe kry Peterson dit dan reg om in die laaste boulbeurt teen een van die einste “verskrikkings” so los te trek?
As ek ‘n sportskrywer was (een van my gefrustreerde ambisies), sou ek graag vir Smith en die afrigter, Corrie van Zyl, ‘n paar indringende vrae wou vra.
Hoe struktureer hulle ‘n jaagtog as hulle so plus-minus 300 lopies nodig het? Vir hoeveel mik ons span na 10 beurte, vir hoeveel na 20, vir hoeveel na 25?
Hoe hoog mag die vereiste lopietempo maar klim voordat die “topkolwers” hul sterte begin roer?
Watter lopietempo is billik om op die arme drommels ondertoe op die kolflys af te laai om te prober behaal?
Is dit nie ‘n skande nie om wedstryd na wedstryd soveel druk op veral die skitterende A.B. de Villiers te sit? Want Kallis is tog nie minder talentvol nie – wel ouer, luier en klaarblyklik minder avontuurlustig en vol vuur.
Maar vandag se sportskrywers vra mos nie vrae met byt nie. Hulle probeer net slim skryf, veral mooi skryf, en voer die lesers hul eie wyshede, terwyl ons smag na ware insig en voorligting.
Naskrif: ‘n Mens kan ook nie jou rug draai nie. Terwyl hierdie blog in reses was, het die temas opgelaai. By almal gaan ek nie uitkom nie, maar oor die verering van Nelson Mandela ná sy dood gaan ek nog skryf. Ook nog ‘n ietsie oor die Woordfees n.a.v. die gesprek met Francois Lötter in die Boektent.
Comments