top of page
  • Uitmelkbos

SKILDERY VAN STORMSVLEI



Langs die N2 tussen Swellendam en Riviersonderend lê die verlate Overbergse “dorpie” Stormsvlei – ‘n paar ouderwetse geboutjies en murasies onder ‘n plaat bloekombome aan die Sonderend-rivier, wat jy skaars raaksien as jy verbyry.

Draai jy in, is dit soos ‘n ou skildery wat skielik lewe kry en driedimensioneel voor jou ontvou. Voor jou geestsoog skud Stormsvlei sy verlatenheid af en herleef dit as die strategiese klein handelspos op die ou Kaapse waroete, wat dit in die 1700’s, in die tyd van die Nederlands-Oos-Indiese Kompanjie, geword en twee eeue lank gebly het.



Voor jou geestesoog sien jy in die nou verlate straatjies die drukke wa-verkeer van vername amptenare van die NOIK, handelaars met pakke vol note, transportryers en vakansiegangers uit die binneland op pad see toe, wat lewe in die dorpie geblaas het, en veral ook in die knusse Stormsvlei Inn, waar gereeld opskoppe gehou is.

Jy sien bedrywige grofsmede en wa-makers hard besig om stukkende waens, voos geskud deur die swak paaie, op te knap en herstel; ‘n kerkie waar die klokke Sondag lui: “kom, sondaars, kom”; ‘n algemene handelaar wat na tabak ruik, ‘n slaghuis, ‘n meule …

Tot in die begin van die 1900’s, hoor jy, was Stormsvlei sommer ‘n woelige dorpie met heelparty inwoners en ‘n sterk ondersteunende distrik, ‘n eie skooltjie, drie berede polisiemanne wat die omgewing te perd patrolleer het (later ‘n motorfiets met syspan) en ‘n poskantoor met ‘n ry posbusse (wat nou ‘n skoonheidsalon huisves).

In 1921 het Stormvlei selfs voor Swellendam “elektrisiteit” gekry, met 110-volt-krag wat deur ‘n ou enjin, aangedryf deur Edison-batterye, opgewek is.


In dieselfde tyd is die Inn deur ‘n regte, egte hotel (Ta’ Mietjie se hotel) vervang, waar die Riviersonderenders graag ‘n snapsie kom maak het, omdat hul dorp in 1925 as ‘n sogenaamde “droë dorp” aangelê is. Stormsvlei was in daardie stadium ook bekend as Stokkiesbaai.

Ongelukkig was dit ‘n Dinsdag toe ons by Stormsvlei (Stokkiesbaai) inswaai – dan is die restaurant (bekend om sy kaaskoek en burgers) en blommewinkel toe. Maar die skadukol langs die skilderagtige riviertjie was die perfekte stilhouplek vir ‘n padkos-broodjie en bekertjie koffie uit die warmfles, al vermoed ek die Van Deventers het op private eiendom oortree.

By die indrukwekkende ou herehuis langs die Sonderend is drie karaktervolle selfsorg-eenhede wat op Engels seker as “rustic” beskryf sou word, en wat vir die geduldige reisiger met ‘n oog vir ou dinge ongetwyfeld ‘n aand van betowering kan beteken.

Die vraag wat my kwel, is hoekom toegelaat is dat Stormsvlei feitlik van die landkaart verdwyn. Vir my lyk dit of die intieme plekkie met sy geskiedenis, sy karaktervolle geboutjies en sy mooi rivierfront ‘n gewilde toeriste-attraksie kon geword het. Dan is dit boonop in die pragtige Overberg.

0 views

Recent Posts

See All

Probleme probleme

Die hoop het toe nie beskaam nie. Rapport het afgelope Sondag vorendag gekom met ’n noemenswaardige resensie – Trisa Hugo se skrywe oor Veldhospitaal 12, die nuwe roman deur Marinda van Zyl. Boek24? W

SKOONHEID SONDER SKROOMHEID

Op bladsy drie van Die Burger vanoggend verskyn o.m. berigte oor die Mej. Wệreldwedstryd waarin Shudu Musida SA se kroon dra, en ‘n motorfiets-uitstappie na die Hartebeespoortdam waarvan die afwesighe

© 2022 LitNet. Alle regte voorbehou | All rights reserved

bottom of page