top of page
  • Uitmelkbos

SKAT TUSSEN BERG EN SEE


Uit ‘n fonteintjie waar jy telkens verbyry, drink jy eendag dalke soete water. So ‘n vermaledyde “fonteintjie” wat later ‘n aangename verrassing besorg het, is die nasionale botaniese tuin Harold Porter op die R44 by Bettysbaai.

Woud, fynbos, bergvistas, ‘n rivier, watervalletjies en strepies see in die verte span saam vir ‘n genotvolle natuurbelewenis.

Die berg is natuurlik die Kogelberg, anker van die biosferiese reservaat met dieselfde naam wat op sy sowat 70 000 hektaar – een van die rykste biodiversiteite op aarde met 1 300 verskillende plantspesies per 10 000 vk. km. Die Harold Portertuin is sowat 200 hekaar groot, en bied, genestel tussen berg en see, op kleiner skaal ‘n skatkis van plantspesies.

Iewers raakgelees dat 77 spesies in die reservaat net hier by Bettysbaai voorkom – nêrens elders op die planeet nie. Dis inderdaad ‘n tuin met iets vir almal – kenners èn gewone natuurliefhebbers.

‘n Betreklike maklike stappie op netjiese geplaveide paadjies neem jou verby ‘n verskeidenheid ekosisteme – fynbos, vleiland, duine – en tuine – proteas (ook die manjifieke koningsprotea), allerlei erikas, aalwyne – na die Disakloof. Disas is op die oomblik in blom, hoog teen die hange van die Kogelberg by die Disakloofwaterval in die Dawidskraalrivier aan die voet van Voorberg.

Lekkerste van daardie stap was vir my die digte woudlandskap met sy Kaapse boekenhoute, assegaaiboom, rooiels, without en geelhout wat weerskante van die slingerpaadjie hul groot skadu’s gooi. Dis skaars ‘n kilometer van die hek tot by Disakloof.

Vir die meer avontuurlike bestaan ander uitdagender staproetes. Op die Luiperdskloofpad moet jy glo lere kan klim – wees dus voorbereid met die regte stapskoene, ens.

Die fynbos spog met prikkelende name soos vrouebossie, rotstert, lapmuis, krimpvarkie, Boesmankers, vleiboegoe, katstert en dies meer. Die vrouebossie doen glo sy naam gestand. Word vir vroue aanbeveel vir allerlei toestande waarvan manlike leke (genadiglik) min weet.

Deurgaans was ek van ‘n uitbundige voëlgekwetter bewus, maar die outjies het goed weggekruip (soos die meeste diertjies). Ons had nie verkykers by ons nie en het ook nie tyd gehad om soek-soek te vertoef nie. Brosjures deel mee in die tuin is plus-minus 100 spesies: onder meer Kaapse suikervoels, oranjeborssuikerbekkie en witvlerkkanarie.

Bobbejane (seker burgers van Bobbejaanskop) het ons naby die hek verras met ‘n gulsige strooptog op ‘n paar speldekussings in blom. Daardie soet (?) blomme is met arms wat soos suiers werk, in die mond geprop. Ons had ongelukkig ook nie kameras by ons nie.

My vriend Chris van Rensburg (Bloemfontein/Kleinmond) merk in ‘n stadium op: “Iemand wat fynbos skade aandoen, pleeg ‘n misdaad”.

Herinner my aan ‘n aand by die Kaapse presidentswoning van die 80’s Westbrooke waar ‘n paar gaste onwyslik en tot die gramskap van die gasheer, P.W. Botha, gewaag het bedenkinge te lug oor die verwoesting van Fynbos by De Hoop om ‘n missiel-toetsterrein in te ruim.

Een van die geesdriftigste fynbos-pleitbesorgers was ‘n Kaapse LUK, Pietie Loubser. Hy is deur P.W. goed die kop gewas. Toe Loubser loop, skryf hy net voor my in die gasteboek: “P.W. bly my man fynbos of te not!” Moes glimlag – ‘n politieke loopbaan het sy gevaarsones.

Maar die Harold Portertuin – moenie, soos ek, aljaar net verby ry nie. Dis tot jou eie skade.

Naskrif: Gegroet vir eers – ry more vir ‘n week Suid-Kaap toe.

2 views

Recent Posts

See All

Probleme probleme

Die hoop het toe nie beskaam nie. Rapport het afgelope Sondag vorendag gekom met ’n noemenswaardige resensie – Trisa Hugo se skrywe oor Veldhospitaal 12, die nuwe roman deur Marinda van Zyl. Boek24? W

SKOONHEID SONDER SKROOMHEID

Op bladsy drie van Die Burger vanoggend verskyn o.m. berigte oor die Mej. Wệreldwedstryd waarin Shudu Musida SA se kroon dra, en ‘n motorfiets-uitstappie na die Hartebeespoortdam waarvan die afwesighe

Comments


bottom of page