top of page
  • Uitmelkbos

SING EN HUIL OP DIE LANGPAD

Johan van Wyk en Mammie (Zandra) se gedenkwaardige motorfiets-togte – sy as klouende passasier agter op die Honda Gold Wing 1100 GL – het ek in die vorige blog oor hom en Jacko Maree en hul groot fietse ligweg aangeroer. Albei is oor die 70 – Jacko trouens al 75.

In een van die kommentare bevel ene Laserstraal aan: “Vra vir Johan van Wyk om te vertel hoe sy swaar Gold Wing met hom en Zandra voor Lambertsbaai se hotel stadig omgekantel het en hulle onwaardig op die straat neergesit het. Terwyl mense op die hotelstoep dit aanskou.”

Dis ‘n storie wat ek nie ken nie, en waaroor ek Johan nog nie kan vra nie. Intussen het sy eie pen by my ‘n beeldryke vertelling aangekom oor sy en Zandra se epiese reise, wat nie sonder trane – soms emmersvol trane – verloop het nie.

Ploeg nie graag met anderman se kalwers nie. Gaan wel hierdie storie by Johan gaps en hier aanbied – in daardie raconteur par excellence se eie woorde (net ietwat verkort). Hoop nie jy gee om nie, kollega!

Johan skryf: “Vreemd, ja, maar motorfietsryers huil ook soms. Meer bepaald, hul passasiers. Veral vroue. Laat ons dit nou maar erken: selfs op die gerieflikste toerfiets is dit nie juis gemaklik agter op ‘n motorfiets nie. Elke keer as ek jong meisies, hulle boudjies in styfgespanne jeans doer in die lug, knieë opgetrek tot amper onder die ken, agter hulle kêrels se rug op die smal, harde sitplek van n super-fiets vir lewe en dood sien klou, kry ek hulle innig jammer. Dit moet n marteling wees.

“Ek dink hulle huil elke honderd kilometer. My vrou het darem beter gevaar op ‘n veel gemakliker Honda Gold Wing 1100 GL. Op landwye toere het sy net elke 500 kilometer gehuil. Maar wanneer ek weer ‘n padkaart nader trek en oor ver horisonne en interessante plekke begin droom, het haar oë geblink en het sy dadelik n nuwe jean gaan koop.

“‘n Huilende vrou agter op n motorfiets is nie n plesier nie. In hul droefheid versteur hulle jou balans deur na die verkeerde kant te leun om draaie. Wanneer hulle boudjies begin brand, skuif hulle rond, en as ‘n donderbui skielik uitsak, slaan hulle soos n nat kat hulle naels in jou lieste. As jy ooptrek en die naald op 180 begin bewe, verstyf hulle en tik waarskuwend met n vinger teen jou valhelm. Die ergste is wanneer hulle dreig om in die ry af te klim. (Dit kan ’ n aanloklike versoeking word!)

“Ter wille van die vrede en liefde hou jy maar uit, maar dis nie maklik nie. Jy wonder telkens hoekom jy haar nie by die huis gelos het nie. “My persoonlike strategie om jou Mammie so minsaam as moontlik te hou, is nie moeilik nie: Voer haar elke honderd kilometer roomys, sjokolade en koek. Op n toer deur Namibië het dit my duur te staan gekom, maar dit was die geld werd. Sy het net hier en daar liggies geween.

“Baie trane het egter voorgelê. Toe ons die oggend op Keetmanshoop wegtrek vir die lang terugreis Bloemfontein toe, in twee skofte oor Karasburg, Ariamsvlei, Nakop, Upington en Kimberley, besluit ek stilletjies om eerder deur te steek Kaap toe en swaai af Vioolsdrif toe vir die N7 deur Namakwaland, die Sandveld en die Swartland. Dis n mooi, helder herfsdag en die Gold Wing sing soos n gelukkige kanarie. Ek sing saam. Maar Mammie weet van niks. Gesus deur die fiets se sang, het sy agter my skouer ingesluimer en eers wakker geword toe ons oor die Oranje trek.

“Toe sy onthuts wou weet wat nou, het ek vet gegee en gesê: “Byt vas, vanaand slaap ons in die Kaap ! Sy het die heelpad, 899 kilometer afgery in ‘n dag se tyd, gehuil. Toe ons laatmiddag onder Tafelberg intrek was sy horingdroog.

“Vandag verkneukel ons ons daarin wanneer ons deur albums met foto’s van daardie onvergeetlike reis blaai. Dit was een van die beste dae van ons lewe … trane ten spyt.”

Weet nie waar die stuk al gepubliseer is, en of dit dalk nog gepubliseer moet word nie. Al wat ek weet, is dat ek daaraan groot plesier het.

Johan skryf voorts: “Jacko se besluit (om ook vir hom ‘n Gold Wing te koop) beteken dat hy nou 20 van sy 76 jaar kan aftrek. Dis wat met my gebeur elke keer as ek opsaal. Ná 42 jaar op drie motorfietse gebeur dit steeds.

“Soos vanoggend weer toe ek 250 km op die N2 en deur die Overberg se agterpaaie gery het. Ek ry minstens tweekeer per week. Jy moet om wakker en ‘bike fit’ te bly. ‘n Maand gelede het ek en Tobie Wiese oor twee dae meer as 1 000 km deur die Suid-Kaap en die Klein Karoo gery.

“In Mei gaan ons deur die Oos-Kaap toer. Ons kan hom nooi om saam te ry. Dis eers op die ver paaie dat ‘n 1800cc-Gold Wing soos sy nuwe tot sy reg kom. Dis ‘n swaar toerfiets (400kg) en nie geskik om in verkeer tussen onnosel motorryers en rondom die stad mee te poer-poer nie.

“Terloops: ‘n Johannesburgse grysaard van 85 ry steeds syne. Dit het glo al meer as n miljoen kilometer gedoen. Jou kop moet net oopbly.”

2 views

Recent Posts

See All

Probleme probleme

Die hoop het toe nie beskaam nie. Rapport het afgelope Sondag vorendag gekom met ’n noemenswaardige resensie – Trisa Hugo se skrywe oor...

SKOONHEID SONDER SKROOMHEID

Op bladsy drie van Die Burger vanoggend verskyn o.m. berigte oor die Mej. Wệreldwedstryd waarin Shudu Musida SA se kroon dra, en ‘n...

Kommentare


bottom of page