top of page
  • Izak de Vries

Silwer medaljes en die nuwe media

Viva! Uiteindelik! Suid-Afrika het ’n medalje!

Khotso Mokoena het met 8,24 m gespring tot in die harte van menige sportliefhebber.

Maar wie is Khotso Mokoena? Griet, dit lyk nogal na ’n moeilike een.

Mokoena is nie ’n nuweling in die wêreld van atletiek nie, dis net dat ons nog nie veel kennis geneem het van hom nie. Verlede jaar het hy goud gewen in die Binneshuise Wêreldspele in Valencia, Spanje en in 2004 was hy die Junior-Wêreldkampioen.

Hoe weet ek al die goed? Wel, ek het die internet. Google die knaap en jy kry wonderlike inligting.

Ek is versigtig vir die Wikipedia omdat enige ou kan deelneem. Ek kan ook, en ek het al. Verder het ek al gruwelike foute raakgeloop op die Wiki. En tog... Tog is ek altyd verstom oor hoe vinnig die Wiki reageer. Binne minute was die inligting vuurwarm en op datum. Kyk gerus.

Gelukkig kon ek my feite nagaan deur na Mokoena se bladsy op die amptelike webruimte van die Olimpiese Spele te gaan.

Maar, ek moes effens giggel. Iewers in Naspers se groot gebou het ’n joernalis hier om en by huistoegaantyd opdrag gekry om gou iets oor Mokoena te skryf. Mokoena wie?

Die ongenoemde joernalis het moedig geveg en, soos ’n goeie navorser, alle bronne genoem. Kliek gerus vir die mooi storie. (Dit is om 17:13 voltooi.)

Die feit is, ons kan deesdae blitsig reageer. Binne minute kan ons skryf en lees oor wat daar in Beijing aangaan.

Hoe anders was dit nie in die ou dae nie? Dié staaltjie sal dit mooi verduidelik.

Die middag voor Zola Budd teen Mary Decker sou hardloop, in die Olimpiese Spele van 1984, het die redaksie van die Natal Witness 5 koppe voorberei vir die volgende oggend se koerant:

· Zola wins!

· Zola second!

· Zola third

· Decker wins

En, om net almal se agterente te cover:

· 3 000 m STUNNER

Almal het gaan slaap, en toe vroeg opgestaan.

Ek het ook opgestaan om te luister. Ek het op ’n ou radio’tjie geluister. Ons het gewag en gewag. Nog gewag en nog gewag. En nog gewag. Toe, uiteindelik, baie lank na hulle geskeduleerde tyd, toe hardloop hulle ...

Julle kan raai watter opskrif die volgende oggend op die Natal Witness verskyn het. Vir die wat wragtie nie weet nie, lees gerus hierdie mooi beriggie oor dít wat Mary Decker-Slaney deesdae met haar lewe aanvang, of google dit!

Die internet en die nuwe media maak dit moontlik dat hierdie blog binne minute regdeur die wêreld gelees kan word. In die verlede sou ek dit eers twee dae na Mokoena se medalje ’n opiniestuk kon plaas. (Dis nou as die redakteur sou dink dis die moeite werd, al hierdie getjommel!) Nou is dit onmiddellik by julle.

Viva Google!

Terloops: Mary Decker is al 50. Ag hemel, mense. Hoe oud is ek nie?

2 views

Recent Posts

See All

© 2022 LitNet. Alle regte voorbehou | All rights reserved

bottom of page