top of page
  • Uitmelkbos

“SIEK” GRAPPIES


Hierdie smaaklose stukkie “humor” oor ‘n soettand-beetjie is gisteraand vinnig van Facebook verwyder nadat ek dit ernstig bevraagteken het. Dalk was ek te skerp …

Maar verstaan mooi, ons gesin ken nogal diabetes na die intieme saam leef met die siekte vir 40 jaar. Ons seun, Johan, is op ses maande met “diabetes mellitus” gediagnoseer. Geen dag van sy lewe het daarna verbygegaan sonder sy insulienspuitjie nie. Dis geen grap nie. Ons vind geen diabeet-grappie oulik of snaaks nie.

Hierdie is geen mediese blog nie. Oor die implikasies en komplikasies van daardie slopende siekte wil ek dus nie hier probeer uitwei nie. Die statistieke vertel hul eie verhaal. Diabetes hardloop voor saam met allerlei kankers, HIV-vigs, hartvatsiektes en ander sogenaamde “killer diseases” as ‘n oorsaak van dood wêrelwyd. Google gerus “diabetes mellitus”, as julle dink ek vat sommer kanse.

Met Kobus Galloway se sogenaamde “Idees vol vrees” het ek in die algemeen vrede. Vir elke diertjie sy plesiertjie, en van sy sketsies is heel oulik. Daardie enetjie, helaas, nie. Ai, mnr. Galloway , oor ontelbaar ander dinge kan slim grappies gemaak word – kom ons los tog maar spitsvondighede oor siektes wat vir andere pyn, leed en ellende bring eenkant, asseblief.

Let wel, ek praat in die meervoud van siektes. Verstaan my betoog dus asseblief nie net as een ter wille van diabete omdat ek diabetes se donker kant ken nie. Elke siekte het immers sy donker kante. Elke lewensbedreigende siekte het kwalik enige ander kant as donker kante vir slagoffers en hul geliefdes.

Wees dus maar bedag, liewe humoriste, komediante, grapjaste en dies meer, oor die potensiële seer wat jul “onskuldige” grappies dalk vir geteisterdes inhou.

Iemand wou my op Facebook die lessie leer dat “humor groter is as die individu” , en was vinnig om my van “oorgevoeligheid” te beskuldig. Die kort antwoord op sulke verwyte is natuurlik: sou ‘n grappie oor ‘n diabeet vir iemand snaaks gewees het as hy self ‘n kind op insulien moes groot maak?

Sou daardie grappie hom laat giggel het as ‘n geliefde, soos een van my vriende, pas agt weke lank in die hospital in ‘n stryd gewikkel was om sy been van amputasie te red, of as hy, soos ‘n vriendin, in dieselfde tyd langs die graf moes staan van ‘n diabeet-broer wie se toon geamputeer is?

Sou Galloway se beetjie iemand geamuseer het wat self besig was om blind te word weens diabetes?

Ek beskuldig mnr. Galloway en sy bewonderaars nie van kwade wil nie, hoogstens van onkundigheid, ongevoeligheid en selektiewe moraliteit. Oor kanker sal hy byvoorbeeld nie so maklik ‘n karikatuur teken nie – arrie nee, dis tog ‘n taboe! Almal vrees die groot K. Ook nie oor vigs nie, want politiek korrektes sou vinnig hul stem dik maak as hy daardie vigs-strikkie iets onbehoorliks sou laat aanvang.

Maar diabetes – dis mos sommer ouens wat nie suiker mag eet nie? En Alzheimer – ook ‘n teiken van grapmakers waaroor ek iets meer wil kwytraak – dis mos ouens wat so maklik vergeet? Sulke oppervlakkige persepsies het ongelukkig diep ingeburger geraak, en mislei mense om onnadenkend siek grappies (siek in meer as een opsig) te maak.

Hemel, ek weet van ‘n predikant met ‘n Alzheimerkliniek in sy blok, wat kans sien om van die kansel af Alzheimerkwinkslae te maak. Dan moet die geliefdes van die bejammerenswaardige pasiënte in hul doeke, gestroop van alle menswaardigheid en veilig agter slot en grendel toegesluit, maar verleë saamgrinnik.

Ek verwag om gekap te word oor my “humorloosheid”. Ek glo egter mense waag slegs grappies oor hongersnood as hulle self kos op die tafel het, oor gestremde kindertjies as hulle met ‘n normale kroos geseën is of oor siekte as hulle self blakend gesond is. Om my tot ander insigte te bring, sal kritici my moet oortuig dat hulle nie uit die geledere van daardie bevoorregtes kom nie.

14 views

Recent Posts

See All

Probleme probleme

Die hoop het toe nie beskaam nie. Rapport het afgelope Sondag vorendag gekom met ’n noemenswaardige resensie – Trisa Hugo se skrywe oor Veldhospitaal 12, die nuwe roman deur Marinda van Zyl. Boek24? W

SKOONHEID SONDER SKROOMHEID

Op bladsy drie van Die Burger vanoggend verskyn o.m. berigte oor die Mej. Wệreldwedstryd waarin Shudu Musida SA se kroon dra, en ‘n motorfiets-uitstappie na die Hartebeespoortdam waarvan die afwesighe

© 2022 LitNet. Alle regte voorbehou | All rights reserved

bottom of page