Fanie van Wyk, klip in die hand, en sy vrou, Maretha
Die kalwers van 1939 loop raak vanjaar 70. Niks buitengewoon daaraan nie, buiten dat daardie kalwers hope van my matriekmaats op Potch-Volkies en mede-eerstejaars in Kollegetehuis, Tukkies, insluit. As een verjaar, kan jy maar vra: “Jy’s nie dalk vandag 70 nie?” Die antwoord sal dikwels bevestigend wees.
Ook my swaer Fanie van Wyk – ‘n kleurryke karakter – word vanjaar 70. Dit gaan Donderdag (5 Februarie) ‘n besige dag wees in sy aftreehuis in Limietbergstraat, Klaradyn, Brackenfell, raai ek. Gelukwensings van vriende gaan gewis instroom, veral uit Harrismith waar hy lank ‘n gewilde hoof van die laerskool was. Die voordeurklokkie gaan ongetwyfeld lui en lui soos die Klaradyners kom geluk sê.
Fanie maak maklik nuwe vriende en ken die kuns om ou vriendskappe rotsvas in stand te hou. Hy is in ‘n goeie sin wat ‘n mens kan noem ‘n allemansvriend, ‘n mens-mens wat ook as storieverteller uitblink, met ‘n aansteeklike geesdrif, jovialiteit en lewensvreugde wat dit lekker maak om in sy geselskap te wees. So iemand word nie eensaam en alleen 70 nie.
Omdat ek hom nie geld skuld nie, gaan ek nie net die heuningkwas swaai nie. Fanie is nie net hartlik en wellewend nie – hy het ook maar sy kwota draadwerk. Kom ons stel dit eufemisties en sê een nuk is dat hy nogal uitermate opgewonde kan raak. As daardie opgewondenheid uitbars, moet jy koes!
Een keer toe die tuinman, arme drommel, op ‘n Saterdagmiddag op Harrismith sy besproeiing stukkend spit, was dit sulke tyd. Met water wat in ‘n boog hoog die lug in spuit, trek swaer Fanie bulderend los soos ‘n kampioen-markagent wat volstoom op dreef is.
Skoonsuster Maretha skrik haar boeglam vir die onaardse lawaai en storm nader. Sy tref ‘n onstuimige en papnat Fanie aan wat verbete die gat probeer toedruk. Telkens wil hy sy woordevloed met ‘n handgebaar beklemtoon. Dan laat los hy die stukkende pyp – en kry opnuut ‘n skoot water direk in die gesig.
Te midde van die tirade ontwaak die buurman oorkant die straat uit sy middagslapie. Hy hoor die gegil en sien Maretha hardloop. “Bel die ambulans,” skree hy vir sy vrou, en duik by die venstrer uit net in sy onderbroek. Sy vermoede was dat Maretha vir Fanie met die bakkie omgery het.
Ander eienskappe is o.m. sy traagheid om van sy swaarverdiende geldjies afstand te doen – hy koop nie sommer ‘n ding as hy hom verniet kan kry nie! – sy, noem dit maar, versigtigheid vir hoogtes en allerlei ander gevare, asook sy ongeneeslike versameldrang.
Ek en my vrou, Tokkie, sy enigste suster, vat die Van Wyks een middag saam rugby toe op Nuweland. Waarmee ons nie rekening gehou het nie, is die posisie van die Naspers-losie wat soos ‘n vinknes hoog bo die veld hang. Fanie is handeviervoet af na sy sitplek en het met swetende hande die hele middag aan die reling vasgeklou sonder om links of regs te kyk.
Sy hande was ewe sopnat gesweet toe ons om Chapmanspiek ry – en toe ons in Sabiepark in 1998 op die ou wandelpad gaan stap waar ‘n onverwagte ontmoeting met die een of ander gevaarlike dier nooit uitgesluit was nie. Fanie sal my hopelik nie verkwalik nie as ek verklap hy het met ‘n klip in sy hand op ‘n veilige afstand agter die voorhoede en al murmurerende die afstand afgelê.
As die stomme man maar kon weet ek het voor die avontuurtjie van die brug oor die Sabierivier af ‘n olifant naby die einde van die pad gewaar. Ek het hom en skoonsuster Maretha dus met voorbedagte rade letterlik om die bos gelei om juis op daardie tydstip te gaan stap. Hy sou my sommer met sy klip bygedam het.
Maar om sò naby ‘n olifant in die bos te kom, het tog vir enigeen sy bekoring. Later kon Fanie in die gasteboek manhaftig neerpen: “Met ‘n klip in die hand stap ek tot teenaan die olifant!”
Fanie versamel boeke, bonsais, seëls, skilderye, wyn en wat nog. Trouens, wat versamel hy nie? Maretha probeer maar altyd om stilletjies die opgegaarde bates tot realistiese vlakke te reduseer, en so skenk sy in ‘n stadium stilletjies ‘n klompie ou boeke vir ‘n kerkbasaar of iets. Fanie val by die boektafel vas en vergaap hom aan al die waardevolle eksemplare waarvan replikas, so dag hy toe nog, in sy eie studeerkamer pryk.
Tuisgekom, is hy dadelik tot barstens toe voldaan na sy boeke toe. Die gapings verklap dadelik dat Maretha ietwat uitgedun het. Het ek gesê Fanie kan opgewonde raak!
Sy kinders kla ook hul pa gaan haal altyd die bobbejaan agter die berg. Daarop het Fanie ‘n vindingryke antwoord. As hy die bobbejaan hoor boggom, weet hy mos hy’s daar!
Ja, Fanie is ook ‘n vindingryke man. Op ‘n dag moes hy ‘n span bandiete op sy dak oppas terwyl hulle verf. Toe raak die verf op. ‘n Boer maak ‘n plan. Fanie het eenvoudig die leer verwyder en met ‘n geruste hart winkel toe gery terwyl die vasgekeerde bandiete die uitsig op Platberg van sy dak af geniet!
‘n Jaar of vyf voordat ons paaie gekruis het, het die nimlike Fanie vriend en vyand verras deur vir die steratlete van stedelike spogskole weg te hardloop en die Suid-Afrikaanse 440-tree-kampioen vir seuns onder negentien te word. ‘n Stuk of ses van sy atletiekrekords staan nou al meer as 50 jaar jaar ongeskonde by die Hoërskool Bultfontein. Dis glo die plate duwweltjies op Bultfontein se atletiekbaan wat hom sy bene – en sy kaalvoete! – leer dra het.
Fanie sal nie weer ‘n 440 hardloop nie – die asempies raak soms maar min. Mag hy egter, soos die atleet wat hy was, die pas in die pylvak warm maak. Op pad wenpaal toe het ek vir my ou swaer, by alles, twee spesiale wense:
dat hy nog lank die lus sal behou om sy duisternis stories met dieselfde entoesiasme te vertel vir almal wat wil luister, en dat hy ook steeds ontvanklike gehore sal vind wat die ene ore sal bly;
dat sy kleinseun met die groot name, Alesandro Domenico Stefano Brocchetto (die Stefano kom natuurlik van Fanie se Stephanus), altyd vir Oupa Fanie so ‘n loutere vreugde sal bly soos in sy eerste ses maande in die Van Wyk-geledere.
Vat vyf, Fanie! Sewentig sakke seën vir jou – en via Fanie sommer ook vir al my ander maters wat vanjaar die 70-baken bereik.
Comentários