top of page
  • Uitmelkbos

SEP … SEP … SEPTARIESE (?) SEWENTIG


Hoe draai die wiel (-e) nie …

Die sketsie hierbo word deur die verrassend baie bejaardes wat heel oulik op hul rekenaars is, onder mekaar rondgestuur om kamma ‘n glimlag uit te lok. Ons sê vir mekaar: jy moenie jou sin vir humor verloor nie.

Dis egter nie altyd maklik om opgewek te wees en te glimlag in die aangesig van stygende jare nie. In eerlike oomblikke erken ons aan mekaar: die ouderdom is nie vir sissies nie.

Vandag gaan dit egter nie hier oor skete en kwale nie. Dit gaan oor die vraag of my aanstaande 70ste verjaardag my ‘n bejaarde maak of nie.

Natuurlik maak dit my wel ‘n 70-jarige. Die Engelse sê “septuagenarian”, wat klink of jy aan ‘n

liederlike afwyking ly. Iets septaries – as so ‘n woord bestaan. (“Moet tog vir niemand sê nie, maar weet jy ou Hennie is ‘n ‘septuagenarian’”?) Ek sweer dit sal my langer vat om daardie “septaries”-woord uit te spreek (“s…s.. s.. sep.. te …..”) as om sewentig kersies dood te blaas, maar dit maar nou daar gelaat.


Wel, maak jou 70ste verjaardag jou ‘n bejaarde? Hang seker van jou kyk op sake af.

By “Die Volksblad” was een keer amper ‘n plassie in die redakteur se kantoor toe ‘n verslaggeefstertjie rapporteer van die “bejaarde” wat in ‘n ongeluk omgekom het. Die slagoffer was 55! Haar vergryp teen die goeie orde is verby die “waaksame” subredakteurs tot op die voorblad van die koerant. Goeie hemel!

Party 70-jariges sal weer hoopvol volhou dat 75 (selfs 80) die afsnylyn is. Dis die soort wat mekaar in die ribbes pomp en knipogend opmerk: “As sneeu op die berg lê, brand ‘n vuur in die kaggel … ha-ha.”

Bogenoemde suig hierdie oubaas nie uit die duim nie.

Volgens ‘n Amerikaanse peiling oor ouer word is dit ‘n natuurlike tendensie. Hoe ouer jy word, des te sterker is die persepsie dat bejaardheid eers later vir jou voorlê. Die bevinding was nie net dat ‘n gaping bestaan tussen hoe oud jy is en hoe oud jy volgens jouself voel nie, maar dat daardie gaping algaande groter word.

Die gemiddelde respons was dat ouderdom op 68 begin. Mense tussen 30 en 64 het gemeen dit begin plus-minus op 70. Diegene van 65 en ouer het die grens tot 74 opgeskuif. Respondente onder 30 het gevoel as jy 60 is, is jy oud, finis en verby.

Van vriende kom trooswoorde soos dat die “goue jare” op 70 aanbreek. Een vriend, ook al verby 70, het die “goue-jare-aanspraak, ietwat sinies, soos volg gekwalifiseer:

“The Golden Years have come at last! I cannot see, I cannot pee, I cannot chew, I cannot screw. My memory shrinks, my hearing stinks, no sense of smell, I look like hell. My body’s drooping, got trouble pooping. So, the Golden Years have come at last ? Well, the Golden Years can kiss my ass!”

Geen kommentaar. Ek is nog amper ‘n maand van 70 af en bevind my genadiglik nog nie in daardie fase wat uitgedruk word as “sonder tande, sonder oë, sonder smaak, sonder alles” nie. Ek kan darem ook nie dink dat al daardie verliese in ‘n oogwink sal tref nie.

Tog is ek nie onbewus daarvan nie dat 70 taamlik algemeen as die een of ander fisieke en psigologiese mylpaal bejeën word. Ek gaan op 2 Januarie as ‘n 69-jarige slaap. Dan is ek onder 70. Ek gaan op 3 Januarie as ‘n 70-jarige opstaan. ‘n “Septuagenerian”. Eina.

‘n Gewone nag in my lewe gaan die nag van Sondag 2 Januarie bepaald nie wees, omdat iets mistieks gaan gebeur – iets wat, indien niks anders nie, my ten minste gaan dwing om ‘n paar sommetjies te maak.

Ek was, trouens, gister op soek na die Konkordansie, omdat ek daardie Bybelse woord wou naslaan oor die mens se jare wat 70 is, en as jy baie sterk is, 80. Tokkie snork net. “Toe die Bybel geskryf is, was daar nog nie bloeddrukpille nie,” lewer sy ongevraagd kommentaar.

Naskrif: Die laaste paar weke van my 69ste jaar gaan ek in Sabiepark deurbring. Wees gegroet!

0 views

Recent Posts

See All

Probleme probleme

Die hoop het toe nie beskaam nie. Rapport het afgelope Sondag vorendag gekom met ’n noemenswaardige resensie – Trisa Hugo se skrywe oor Veldhospitaal 12, die nuwe roman deur Marinda van Zyl. Boek24? W

SKOONHEID SONDER SKROOMHEID

Op bladsy drie van Die Burger vanoggend verskyn o.m. berigte oor die Mej. Wệreldwedstryd waarin Shudu Musida SA se kroon dra, en ‘n motorfiets-uitstappie na die Hartebeespoortdam waarvan die afwesighe

© 2022 LitNet. Alle regte voorbehou | All rights reserved

bottom of page