top of page
  • Uitmelkbos

SELDSAAM SOOS ‘N DRIEPONDNOOT


Die twee gryses, HvD en BvR, klink 'n glasie op 'n lang vriendskap by Sabiepark se piekniekplek

Die twee gryses, HvD en BvR, klink ‘n glasie op ‘n lang vriendskap by Sabiepark se piekniekplek


My woonstelmaat, kollega, vriend en vertroueling met baie geheimpies, Ben van Rensburg (83), is vanoggend om 06:30 in die Mediclinic Vergelegen, Somerset-Wes, oorlede. Sy vrou, Rina, met wie hy in Maart 2011 getroud is, was aan sy sy.  Het Maandagaand nog saam met Ben ‘n wyntjie of twee geniet op Beeld se 40ste verjaardag op die jaarlikse Beeld-geselligheid by Salie en Lisa de Swardt, buite Stellenbosch.

Sou ook nog gister saam met Ben en Rina gekuier het. HUlle sou Melkbos toe kom om saam met ‘n spannetjie Volksbklad-kollegas Piet en Petro Theron van Bloemfontein se Goue Bruilof te vier.  Gisteroggend het Rina laat weet: ‘n Klomp toetse moet op Ben gedoen word. Hulle sal dit nie maak nie.  Dat dit so naby aan die einde was, het niemand besef nie.

As huldeblyk herpubliseer ek graag hier ‘n hoofstuk oor Ben by sy 80ste in 2011 in my boek Lewensgroot en GROTER. ‘n Geweldige tekortkoming van daardie hoofstuk is dat Ben se studentebynaam , Bennie Driepond, nie daarin vermeld is nie.  Die wellewende, sjarmante Ben was inderdaad so seldsaam soos ‘n driepondnoot.

WIELETJIE-MAN VAN (S)TAAL

DIE bekroonde motorskrywer Ben van Rensburg, ‘n gewese woonstelmaat in Bloemfontein, word ‘n op-en-wakker 80. By sy geskenkie skryf ek ‘n stukkie wat ek versigtig herlees. As jy Ben se toorn wil uitlok, moet jy met die taal mors.

Van my skitterende subspan toe ek in die middel 60’s hoofsub was, was Ben die beneukste lid. Verslaggewers se broeke het gebewe as hy hul naam bulder. Van ons ander het met die jare minder rigied geword oor die voorskrifte van die taalghoeroes L.W. Hiemstra en J.J.J. Scholtz, wat by ons ingedril is. Nie Ben nie. Hy bly onversetlik ‘n taalpuris.

Koerante en die SAUK jaag gereeld sy bloeddruk op met hul slordige taal; ook met onverskilligheid oor feite – iets wat deesdae algemeen voorkom.

Ben het vele passies. Die bynaam “Ben Wieletjies” verklap ook ‘n passie vir motors. Dat hy ‘n gerekende motorredakteur geword het, het nie uit die lug geval nie.  Hy besit ook ‘n versameling speelmotortjies wat ‘n klein fortuin werd moet wees.

Een van sy kenmerke as motor-verknogte is sy aandrang op die nakoming van padreëls en -regulasies. Van dag een af het het jy nie saam met Ben gery sonder dat jy vasgegordel is nie. Hy sluit ook van toeka af sy motor se deure, al ry hy net ‘n kort entjie. La-a-a-ng ente skrik hom nie af nie. Doerie tyd het hy maklik op ‘n Vrydag in Bloemfontein met sy “Kewer” weggespring om in die Kaap te kom kuier. Sondag was hy weer op pad terug.

Ben het ‘n passie vir die beroemde/berugte manskoshuis Wilgenhof op Stellenbosch (hy was van 1953 tot 1955 en toe weer in 1959 ‘n inwoner), vir Suidwes (nou Namibië), vir enigiets van moontlike historiese belang, vir tegnologie, vir goeie wyn, vir sy vriende … Die man se passies hou eenvoudig nie op nie.

Die lojaliteit van oud-Wilgenhoffers is legendaries (dit moet hierdie Kollegeman van Tukkies maar erken). Ek wonder hoeveel het hul lojaliteit al in dieselfde mate in praktiese dade omgesit as Ben. Hy het hom in ‘n stadium half morsdood gewerk om ‘n register van “Wilgenhoffers” saam te stel.

Praat hy van Namibië, kom ‘n glinstering in sy oog. Hy is lief vir daardie ruwe land waar hy in die 50’s vier jaar lank gewerk het, en wil net gedurig “sy plek” vir leef en beef gaan wys.

Sy historiese ingesteldheid sien jy in sy gedugte versameling boeke, foto’s, plate, CD’s, dokumente en wat nog. Ben en sy lewensmaat, Rina Koen, (met wie hy in 2011 getroud is) het begin April uit Langebaan na ‘n aftree-eenheid in “Villa Cortona”, Durbanville, getrek. Dit is ‘n maand later en hulle trek nog altyd, want om hul onderskeie besittings te akkommodeer, bied nogal ‘n uitdaging. Skrynwerkers is in en uit soos hulle links en regs ekstra kaste en rakke moet insit. Maar die mure kan ook nie net vol kaste en rakke nie, want al die foto’s en skilderye moet hang! (‘n Latere trek was na Stellenboch.)

As jy iets wil weet oor die modernste GPS-, rekenaar-, selfoon-, kamera- en elke ander tegnologie, gaan vra maar vir Ben. Hierdie 80-jarige is gedurig aan’t opgradeer. En hy weet hoe elke nuwerwetse vurk in elke nuwerwetse hef steek.

In “La Gratitude” in Bloemfontein – waar ons 1965 rond woonstelmaats was – het Ben my leer port drink wat hy in karba’s van “Stukvat” in die Paarl bestel het. Van al die dinge waaroor ek aan Ben dank verskuldig is, is daardie bekendstelling aan die “Kaapse kultuur” bepaald vermeldenswaardig. Deesdae geniet ek my wittetjie en hy sy rooietjie steeds terdeë.

Soos sy uitgebreide kring vriende uit sy studentedae, Suidwesdae, SAUK-dae, koerantdae, Toyota-dae en Langebaan-dae sal ek Sondag by Ben se 80-ste ‘n glasie op ‘n eersteklas-kollega en –kameraad klink. By sy geskenkie het ek geskryf dit is my hoop dat hy die volgende skof met dieselfde warmte vir sy vriende, entoesiasme vir die dinge wat vir hom saak maak en toewyding aan standaarde sal voortsit.  Ek wonder net of ek “standaarde” nie liewer met “maatstawwe” moes vervang het nie. Dis dalk beter Afrikaans!

Naskrif: Ben ry ook ‘n Honda CR-V. Ek voel nogal in my noppies dat ek op eie houtjie dieselfde motor as so ‘n kieskeurige kenner gekies het. Trouens, ek het voor Ben ‘n Honda gery.

6 Mei 2011

2 views

Recent Posts

See All

Probleme probleme

Die hoop het toe nie beskaam nie. Rapport het afgelope Sondag vorendag gekom met ’n noemenswaardige resensie – Trisa Hugo se skrywe oor Veldhospitaal 12, die nuwe roman deur Marinda van Zyl. Boek24? W

SKOONHEID SONDER SKROOMHEID

Op bladsy drie van Die Burger vanoggend verskyn o.m. berigte oor die Mej. Wệreldwedstryd waarin Shudu Musida SA se kroon dra, en ‘n motorfiets-uitstappie na die Hartebeespoortdam waarvan die afwesighe

Comments


bottom of page