Ek kom pas terug van The myth of Andrew & Jo deur Gideon van Eeden. Dit was die tweede van vier produksies – die stuk word nog ontwikkel vir ’n langer speelvak (waarskynlik oorsee ook).
Mense, dis knap.
Andrew en Jo se partners luister nie regtig meer na hulle nie. Dan begin hulle na mekaar luister en ... slaap saam.
Oeps.
Veral baie oeps as Jo swanger word.
Hoe gaan twee gay mans pa staan vir die kind? En wat van die baie butch lesbiër aan Jo se sy? Waar pas sy in? (Sy is immers die enigste man in hierdie vreemde verhouding.)
Uiteindelik gaan die stuk oor verhoudings en mense wat mekaar nodig het.
Dit is VREK snaaks. Dink net wat gebeur as ’n drag queen en ’n butch dyke begin baklei oor ’n rugbywedstryd. Julle wil dit sien. (Raai wie wen.)
Daar is egter diepte ook. Die butch dyke is nie verniet opgewonde oor ’n luiperd wat net ’n luiperd wil wees nie. Hier gaan dit oor mense wat soek na menswees.
As julle al ooit Harry Mulisch se De ontdekking van de hemel gelees het (in Engels beskikbaar as The Discovery of Heaven), dan sal julle weet hoe ver engele soms sal gaan om ’n kind te laat gebeur. Gideon van Eeden se stuk het ’n baie soortgelyke gevoel. (Gaan luister ’n bietjie hoe God se vroulike stem klink!)
Daar is Saterdag 28 November nog twee vertonings: 16h00 en 20h15 in ArtScape / KunsteKaap.
Gaan kyk. Dis wonderlik.
(Vir die res van die land, wees op die uitkyk vir Gideon van Eeden. Hy is besig om naam te maak.)
Comments