top of page
  • Uitmelkbos

SEBRAS PRAAT NET ENGELS

Op grond van ‘n advertensie in Die Burger is ons gistermiddag van Melkbos oor Tygervallei toe om die animasiefliek Khumba in Afrikaans te gaan kyk.

 Ons het ons kleinkinders in Welgemoed opgelaai en ons kaartjies gekoop nadat ons ook op die bord by Ster-Kinkekor seker gemaak het die 17:15 -vertoning is wel in Afrikaans.

 Wat was s ons verbasing toe Khumba in Cine10 begin rol – die sebratjies  (en ander diere) het net Engels gepraat, party nogal met ‘n sterk Amerikaanse aksent. . 

 Agterna het ek by die bestuurder gekla. Ons het ver gery en duur betaal vir kaartjies – R265 vir ons spannetjie – weens ‘n misleidende, inkorrekte advertensie en misleidende, inkorrekte inligting op die bord by die kaartjieskantoor.

 Sy het ons ervaring as “horrible” beskryf maar tog haar skouers opgetrek. Geen sprake van kompensasie nie, jammer, al stem sy saam ons het nie gekry waarvoor ons betaal het nie.

 Ons fout, volgens haar, was dat dat ons nie opgestaan het en uitgestap het nie.  Maar as ons uitgestap het, wat dan?  Moes ons doodeenvoudig die teleurgestelde kinders by die huis gaan aflaai en terruggery het Melkbos toe – al die moeite, koste, tyd en energie dus maar op ons maag skryf en met ons hemp doodvee?  

 Ten tweede, as ons  uitgestap het,sou ons en ons kleinkinders nooit saam by enige Khumba uitgekom het nie, wat nog van by die Afrikaanse een.   Ek sou nie weer daarvoor van Melkbos af ry nie. Die kinders se program is boonop te vol.

 Ten derde, as ons uitgestap het en kompensasie is steeds geweier, wat dan?  Dan het ons R265 plus al die ander koste (petrol, springmielies en wat nog) in die water gegooi.

 Klaarblyklik was die vertoning van Khumba in Engels om 17:15 ‘n ligte mistykie. Iemand het ‘n verkeerde knoppie gedruk.  Ster-Kinekor het geen poging aangewend om die fout te verduidelik nie.

 Is dit maar net nog ‘n geval van minagting vir Afrikaans en Afrikaanssprekendes? Moet ons maar sluk en stilbly?

 Ek is beswaard, en ek dring aan op ten minste ‘n verskoning vir sulke onbeholpenheid.  Of ‘n bewys dat ek weens ‘n eie misgissing met my spannetjie in ‘n verkeerde Cine sit en kyk het.  Dan is ek die een wat om verskoning moet vra.

2 views

Recent Posts

See All

Probleme probleme

Die hoop het toe nie beskaam nie. Rapport het afgelope Sondag vorendag gekom met ’n noemenswaardige resensie – Trisa Hugo se skrywe oor Veldhospitaal 12, die nuwe roman deur Marinda van Zyl. Boek24? W

SKOONHEID SONDER SKROOMHEID

Op bladsy drie van Die Burger vanoggend verskyn o.m. berigte oor die Mej. Wệreldwedstryd waarin Shudu Musida SA se kroon dra, en ‘n motorfiets-uitstappie na die Hartebeespoortdam waarvan die afwesighe

© 2022 LitNet. Alle regte voorbehou | All rights reserved

bottom of page