My liewe Rapport
Geluk met jul “scoop” van vanoggend (3 Oktober) oor die Shosholoza Meijl wat slegs op twee roetes in Suid-Afrika nog loop – en ook slegs in sy duur, weeldeformaat, Die Premier Classe.
Ander koerante, die TV, die radio, nuustydskrifte en wat nie al nie, swyg hieroor soos die graf, hoewel duisende der duisende treinreisigers die laaste twee maande al (korrek!) deur die trein-fiasko ontwrig word.
Dit sluit honderde buitelandse toeriste in, honderde Suid-Afrikaners wat ten duurste pakkette gekoop het waarin ‘n reis of reise met die Premier Classe tussen Kaapstad en Port Elizabeth ‘n sleutelelement was, maar veral duisende, dalk tienduisende, gewone treinreisigers, wit en swart, wat doodgewoon van punt tot punt B met die trein wou/sou reis.
Hoeveel mense sonder werk sit en tande tel weens die wiele wat nie meer draai nie, sal ek nie eens probeer raai nie. Hoe die padverkeer toegeneem het van swaar busse wat al hoe meer slaggate in die teer ry, is ook nogal ‘n vraag.
Ek haal die woordjie “scoop” aan, omdat ek bedoel om sarkasties te wees. Op hierdie nimlike blog het ek al op 13 Augustus oor die gemors op ons land se spoorlyne geskryf. Dis nie ‘n nuwe storie nie.
Ek, liewe Rapport, het in daardie stadium self gesit met R3 000 se kaartjies op die Premier Classe van Kaapstad na George en terug vir my en Tokkie – vir “a journey that will live in your memory long after the trip has ended”, aldus die (peperduur) glansbrosjure. Ons moes maar inderhaas alternatiewe reisplanne maak. Om die een of ander rede het die land se media die storie bly misvat. Geen fotograaf en verslaggewer was ooit, soos ‘n mens sou verwag, op ‘n stasie om met woord en beeld oor die verslaenheid van gefrustreerde reisigers te berig nie. Geen inligting is ooit, soos ‘n mens sou verwag, verstrek oor watter treine loop en watter almal staan nie. Geen ontleding het ooit, soos ‘n mens sou verwag, verskyn van die geldkrisis, en die hondegeveg tussen Transnet en Prasa, wat die kern van die saak is nie.
Slegs klein, verwarrende beriggies het hier en daar opgeduik, wat oningeligte lesers laat vra het: “Is die ‘staking’ dan nog nie verby nie?”
Dit is asof die land se media oor hierdie groot storie – een wat dae op die voorblad kon geloop het – met ‘n blindheid en hardhorendheid geslaan is.
Nee, maar op 3 Oktober ontdek Rapport darem dat net die Premier Classe-roetes tussen Kaapstad en Jhannesburg en Durban en Johannesburg op die oomblik operasioneel is (na ‘n onderbreking).
Die beriggie is ook maar flenterig, met amper meer klem op die gesukkel om inligting te bekom as op die feite, omvang en implikasies. Sou dit nie dalk gehelp het om ‘n reisagentskap te nader nie?
Liewe land, as jy ‘n gryse, afgetredene is, moet jy liewer maar jou bek hou oor hoe dinge nou in koerante gedoen word. Oor die skreiende misvat van Suid-Afrika se groot treinstorie van 2010 sal die klippe dit egter uitroep as almal sou bly swyg terwyl die miljarde as ‘t ware in rook opgaan.
Die uwe
Hennie van Deventer
Comments