Die tonele op TV waar Schabir Shaik gimlaggend en skynbaar perdfris uit die tronk die “dood tegemoet stap”, herinner aan Mark Twain se beskrywing van sy premature doodsberig as ‘n “oordrywing”.
Wat ons hier beleef t.o.v, mnr. Shaik se “teminale fase” is op die oog af dan – a la mnr. Twain – ten minste ‘n “growwe oordrywing”!
Nou kyk, dit is seker raadsaam om jou nie te veel op te werk oor die spekvet Schabir se mediese parool “om in waardigheid te gaan sterf nie”. Anders bereik jou eie bloeddruk dalk sulke ekstreme hiper-vlakke dat jy omkap terwyl hy nog in Morningside sit en kipper eet vir ontbyt.
Daarby is die dood natuurlik ’n (dood-)ernstige saak. Laat ‘n mens jou van ligsinnighede weerhou. As ‘n skeppie galgehumor in orde is, sal ek egter graag meedoen. Vir my lyk dit of mnr. Shaik dalk, volgens gewone waarnemings, op pad is om ‘n “eerste” te behaal wat vir hom seker ‘n plek in die Guinness Book of Records sal verdien.
Waar ander belangrike mense tot dusver na hul dood in staatsie gelê het, sal mnr. Shaik waarskynlik in staatsie rondloop!
Ek het hierbo na Mark Twain verwys. Ernest Hemingway was na ‘n vliegongeluk in 1953 eweneens die slagoffer van ‘n te haastige doodsberig. Hy het die “grafskrifte” – soos hierdie berigte by koerante bekend is – sorgvuldig gelees.
“Daar was sekere onakkuraathede” het hy later van hom laat hoor,” maar daar is ook mooi dinge gesê wat onverdiend is. Die meeste van die doodberigte sou ek nie naastenby so goed kon skryf nie!”
Watter “onakkuraathede” die pers na sy dood oor mnr. Shaik gaan opdis, is elkeen se raaiskoot!
‘n Laaste storie in die trant kom uit die Londense Times wat per ongeluk lord Desborough se doodsberig gepubliseer het in plaas van die oorlede Bessborough syne.
Die erg ontevrede oorledene het gebel om te kla. Hy kom toe by die redakteur se sekretaresse (dit was voor die dae van p.a.’s) uit: Ek lees in die Times ek is dood.
Sy: “Verskoon my, u edele, maar waarvandaan praat u?”
Van Morningside af, demmit!
Om op ‘n ernstige noot te sluit. My vriend Chris van Rensburg van Bloemfontein/Kleinmond spreek die wens uit om in hierdie dae ‘n redakteur te kon wees. Hy sou op die voorblad van sy koerant n kassie plaas om die naderende dood van Schbair Shaik af te tel: een dag nader, twee dae nader ….
Chris, die vraag is net: wat maak jy as die kassie naderhand ‘n jaar oud is? Dan sit jy darem met stokou nuus op jou voorblad, ou maat!
Comments