Vrolikheid op die Opera in 2013.
Hande op, almal wat op 28 Maart in Tafelbaai die groot wit skip die MSC Opera bestyg vir sy romantiese vaart van 19 dae na Venesië.
Mense, Tokkie, kyk net die bekendes. Hier is kollega Paul en Cora Marais. Hier Servaas en Magrietjie Hofmeyr van Melkbos. En daar? Dis mos ook Melkbossers Soos ons die skip verken, gaan die lys bekendes aangroei. Min twyfel daaroor.
Op die Opera het die Van Deventers in Februarie 2013 saam met ‘n span vriende ‘n vaart na Walvisbaai en Luderitz onderneem. Dit was doelbewus so gereël. Die groep was almal lede van die Probusklub vir afgetredenes op Melkbos, of vriende van lede. Ons het van mekaar geweet.
Hierdie keer is die samesyn ter see ‘n verrassingspakkie. Ons hoor van mekaar op die vreemdste maniere. In Januarie val ons bv. uit die bloute by Paul en Cora Marais in Centurion in vir ‘n koppietjie koffie. Skaars gesit, toe my kollega aankondig: Julle het ons aangesteek.Ons gaan ook nou vaar.
Wanneer: 28 Maart? Waarheen? Venesië. Watter skip? MSC Opera. Die storie hou nie daarop nie. Ons is boonop albei op dek 9 (die Normadek), blyk dit. Maar wag hiervoor: Die Van Deventers is in kajuit 2220; die Marais’s in 2219! Dis voorwaar ‘n uitroepteken werd.
Twee oud-redakteurs van Die Volksblad, kollegas sedert die 60′s en in die 80′s in buurkantore, nou dekades later skuins oor mekaar op ‘n reuseskip – al het hulle maande uit mekaar en totaal onbewus van mekaar bespreek. Nee, ongelooflik soos dit mag klink, dit is NIE uit die duim gesuig nie. Dis die volle waarheid en niks anders as die waarheid nie hierdie Njannieskopella.
Kollegas in die 60’s – ‘n jong HvD en ‘n jong Paul Marais.
Van Servaas en Magrietjie, twee mede-Melkbossers, het ons gehoor by ‘n gemeenskaplike vriend, Thys Slabber. Die twee het in Januarie afgehaak. Soort van ‘n wittebroodreis dus. Hulle weet weer van ander Melkbossers wat ook saam vaar.
Eensame afsondering hoef ons klaarblyklik nie te vrees nie! Ook nie hongersnood of droefgeestigheid nie. Dit kan ek uit ervaring met vertroue neerpen.
Eat, drink and be merry.. for tomorrow ye diet. Aan dié gevleuelde woorde wat in ons Tukkiedae een jaar op die spyskaart van Kollege se huisdinee was, het studentemaat Pierre le Roux van Mosselbaai my in die ornate eetsaal van die Opera die La Caravelle op dek 5 (Aidadek) gou herinner. Ek en hy was toe bure op dek 8 (die La Traviatadek) in kajuite 8195 en 8197.
Saam met Pierre en Esther le Roux op die Opera.
En ja, eet en vrolik wees het ons inderdaad bekwaam gedoen – ook in die L’Approdo op dek 6 (Otellodek), asook in die Le Vele en die Il Patio op dek 11 (Toscadek).
Die vyf dae ter see het ons met ons tande ‘n pad deur iets soos 80 ton vars kos geploeg. Twaalf bakkers het elke dag 900 kilogram heerlike brood bygedra: van croissants tot pumpernickel-rogbrood. ‘n Bataljon kelners, hoofsaaklik van Indonesiese afkoms, het net grinnikend bly aandra. Geen wonder nie die kok het met die voorstelling van die kaptein en sy offisiere loshande die meeste applous ingeoes.
Oor hoeveel bottels wyn verorber is, bestaan statistieke genadiglik nie.
Synde ‘n Italiaanse skip moes daar natuurlik ‘n Italiaanse aand wees – ‘n vrolike besigheid met onder meer al die kelners in groen, wit en rooi, Italiaanse wyne teen NET $10 ‘n bottel, Italiaanse roomys, Italiaanse pasta en ‘n sappige Italiaanse koek waarvan ek die gelyke nog nie geproe het nie.
‘n Feestelike hoogtepunt was toe almal op die maat van ‘n heerlike Italiaanse lied hul groen, wit en rooi servette bo die kop begin swaai. Die vrolikstes onder die vrolikes het treintjie gemaak en deur die eetsaal begin kronkel.Laas het ek nie saamgekronkel nie. Dié keer is ek voor in die koor!
(Die Opera se droomvaart sluit in St. Helena; die sonnige Lanzarote op die Kanariese Eilande; die prentjiemooi Spaanse stad Cadiz; die kleurryke Valletta, hoofstad van Malta; die Griekse eiland Corfu met sy pastelkleurige huise en oulike systraatjies; Dubrovik, idilliese Mediterreense juweel, en uiteindelik romantiese Venesie met sy kanale, brue en gondels, manjifieke kunswerke en unieke argitektuur. In Palermo wag die ingenieurs egter al op die die skip. Hy is volgende op die MSC se lys van vergroting en vernuwing – dieselfde soort “renaissance” waardeur die Sinfonia pas is.)
Comments