top of page
  • Uitmelkbos

SAMBREEL IN DIE WIND


“Men at work”. Margaret Calvert in haar ateljee by een van haar bekendste padtekens. Noem die naam Margaret Calvert en die meeste mense reaksie sal waarskynlik wees: Margaret Wie? Tog sien omtrent almal haar handewerk gereeld – elke dag as’t ware as ons agter die stuur van ons motors inskuif; op pad werk toe, skool toe, op sakereise en vakansies, langs snelweë en agterpaadjies.

Padtekens van alle soorte kom van haar tekenbord, hier en in talle oorsese lande, van Brittanje tot China. Ook die mooi skoon lettertipe waarin die name van stede en dorpe geskryf is. Die beste van alles, die wereld se “Mev. Padteken” is ‘n Suid-Afrikaner van geboorte.

Margaret – nou 80 – is in 1950 op 14-jarige ouderdom na Brittanje waar sy haar as grafiese kunstenaar bekwaam het. Eindelose verkeersknope op Britse paaie het gelei tot die besluit om ‘n netwerk snelweë te begin bou in die jare 50. Aan die tweeman-vennootskap Jock Kinneir en Margaret Calvert is die reusetaak toevertrou om bestaande padtekens te standardiseer, te herontwerp en nuut te ontwerp, waar nodig.

Leesbaarheid teen hoë snelhede was natuurlik ‘n deurslaggewende oorweging. Meermale is ‘n padteken vir net ‘n breukdeel van ‘n sekonde sigbaar. Om dit vinnig te kan inneem, is ‘n geheel nuwe lettertipe ontwerp. Dit was vir die span Kinneir/Calvert net die begin. Kleiner Britse paaie het in 1963 aan die beurt gekom. Later het lughawens, stasies en wat nog gevolg. Al hoe meer lande het ingekoop – ook – heel gepas, haar geboorteland, Suid-Afrika.

Wat my op Margaret se spoor gesit het , is een van die die internasionale prentjie-padtekens (beeldskildering, noem die woordeboek dit) wat derduisende motorryers in die Paasvakanie weer op ‘n lang lys paaie gaan teëkom – die bekende “men at work”-teken. ‘n Man met ‘n graaf word uitgebeeld.

‘n Spitsvondige vriend reken dit lyk vir hom meer soos ‘n ou wat sukkel om sy sambreel in die Kaapse Sedoos oop te maak. As die vriend een van die tekens sien, is sy voorspelbare kommentaar altyd: Die wind gaan weer waai vandag. En natuurlik is hy dikwels in die kol, want die wind waai maar dikwels hier in onse kontrei.

Oor ‘n wyntjie het ons een aand sit en wonder waar die padtekens vandaan kom. Sommer iemand iewers in ‘n munisipale kantoor wat dit teken? Maar hoe dan so eenvormig? Bestaan iewers ‘n sentrale bron en waar? Google se hulp is ingeroep. Margaret Calvert, Margaret Calvert, Margaret Calvert …. bladsye en bladsye vol inskrywings oor die geniale, kreatiewe vrou het op die skerm verskyn.


Sambreel in die reën of graaf in die pad?

Ons kom toe agter die sambreelgrappie is ver van oorspronklik. ‘n Skare mense het al daardie ooreenkoms raakgesien en daarmee gespot. Allerlei parodië het al die lig gesien, soos die “Singing in the rain”-ene hierbo. Trouens, Margaret sê self, met ‘n vrolike vonkel in die oog, dat sy gerus maar die graaf meer soos ‘n graaf en minder soos ‘n sambreel kon laat lyk het.


Die koei Patience.

Veral twee ontwerpe het oulike stories. Een is die waarskuwingsteken oor die teenwoordigheid van plaasdiere: die driehoekie met die koei. Daardie koei is nie sommer net enige ou Blommetjie nie. Sy het ‘n stamboom. Haar naam was Patience en haar tuiste die plaas van familie in Warwickshire.

“Patience” – wat ‘n nommerpasnaam. Hoe nodig raak “geduld” nie soms as jy op pad na ‘n plattelandse bestemming tussen beeste, bokke, hoenders en wat nog moet deurvleg nie?

Die teken van twee skoolkinders wat die pad oorsteek (“school children crossing”) is as ‘t ware ‘n “grafika-selfie”. Die meisietjie wat voor stap met die kleiner seuntjie aan die hand agterna is van niemand minder nie as die kleine Margaret in haar prille jeug.


Te oordeel aan die ouderdom van daardie meisietjie moet dit ‘n skets wees van Suid-Afrikaanse oorsprong – waarskynlik dan die bekendste SA ikoon ter wêreld; bekender selfs as Nelson Mandela. Stern, Dumas, Kentridge en daardie snare kan gaan slaap, as dit by internasionale herkenbaarheid kom, skat ek. Selfs Tretchi.

0 views

Recent Posts

See All

Probleme probleme

Die hoop het toe nie beskaam nie. Rapport het afgelope Sondag vorendag gekom met ’n noemenswaardige resensie – Trisa Hugo se skrywe oor Veldhospitaal 12, die nuwe roman deur Marinda van Zyl. Boek24? W

SKOONHEID SONDER SKROOMHEID

Op bladsy drie van Die Burger vanoggend verskyn o.m. berigte oor die Mej. Wệreldwedstryd waarin Shudu Musida SA se kroon dra, en ‘n motorfiets-uitstappie na die Hartebeespoortdam waarvan die afwesighe

Kommentare


bottom of page