top of page
  • Uitmelkbos

SALUUT VIR SAPA


Rus sag, Sapa. Hanlie Malan se treffende grafika vanoggend in Volksblad by my blog wat as middelblad-artikel aangebied is.


Vir joernaliste van die 50’s, 60’s 70’s, selfs nog die 80’s, was die telekskantoor met sy horde kletterende masjiene die hart van die koerant. Die dinamiek van koerante was in daardie geluid vasgevang.

Sapa en die teleks was sinoniem. Sapa was dus deel van daardie dinamiek. Miljuisende woorde wat op ‘n verre teleksmasjien uitgetik is, het onder Sapa se naam by die koerant ingestroom. Berigte van oral; jong bergies kopie wat gesif, vertaal en hanteer moes word. In elke uitgawe het Sapa gesorg vir ‘n soliede kern van nuus.

Die teleks is lankal deur die superstil rekenaar verdring.   Die nuus dat die laaste kluitklap op Sapa se kis oor net iets meer as ‘n maand gaan val, roep egter onwillekeurig die teleks-era by jou op. Ek kon my ore nie glo nie toe ek verneem:  soos die teleks stil geword, gaan Sapa ook nou swyg – ná een laaste stuiptrekking as die laaste punt presies om middernag op 31 Maart agter die laaste woord van die laaste berig geplaas is.

Ná meer as 75 jaar op die Suid-Afrikaanse koeranttoneel is sy rol  uitgedien. Sy tyd is verby. Soos koerante al geruime tyd sonder ‘n netwerk van plattelandse korrespondente (korries) klaarkom, gaan hulle sonder Sapa klaarkom.  Hoe, weet hierdie veteraan nie. Miskien onderskat hy die vermoë van allerlei paddastoel-agentskappe en die sosiale media as nuusbronne.

Hoe ook al, die son sak op ‘n gewigtige era. Die Ewige Verandering duur voort.

‘n Groot gros joernalistieke loopbane het in die jare her ‘n eerste beskeie skrede gegee met ‘n Sapaberiggie wat vertaal moes word, onthou ek. Ook my eie.

My eerste kennismaking met die koerant was in Desember 1958. Wiets Beukes, ‘n assistent-redakteur en later redakteur van Die Burger, het hierdie beurshouer van Die Volksblad op die vooraand van sy eerste skof vakansiewerk gaan rondwys.


HvD in die hoofsubstoel. Agter my is die luik na die telekkantoor.  Die kerse? Wel, in 1966 was ook kragonderbrekings - net minder en minder uitgerek.

HvD in die hoofsubstoel. Agter my is die luik na die telekkantoor. Die kerse? Wel, in 1966 was ook kragonderbrekings – net minder en minder uitgerek.


Die bysiende Bennie Lean het in die hiperaktiewe telekskantoor diens gedoen. Hy was besig om bladsy vir bladsy flink af te skeur soos Sapa en sy bronne (Associated Press en Reuter), asook susterskoerante en eie verteenwoordigers, die nuus van die dag in die tempo van geweervuur uitspoeg. Die volgende dag was die eerste beriggie wat ek gretiglik vertaal het, een van daardie. Dit is iewers op ‘n binneblad versteek. Maar was ek trots!

Op Vrydagaand 22 November 1963 het ek, nog relatief groen, danksy Sapa een van my eerste groot koerant-oomblikke beleef. Vroegaand het ek ‘n berig op kantoor kom tik. Toe roep Bennie (of was dit dalk sy adjudant, die getroue Smittie?). Uit Dallas, Texas, het die skokstorie uit Assoaciated Press se kantore begin rol oor die sluipmoord op pres. J.F. Kennedy by Dealy Plaza. Die een Sapa-“snap’ (flitsberig) op die ander.

Die ontvouende drama op die teleksmasjiene was intens boeiend. Gelukkig het die jongeling die teenwoordigheid van gees gehad om die senior assistent-redakteur, Bart Zaaiman, te bel. “O, gatta, ou Hendrik,” het hy gesê (hy het nie juis sterker taal gebruik nie),en die wiele aan die rol gesit vir ‘n spesiale poging die Saterdagoggend.

Die uwe was in die vertaalspan. Ek het die AP-kopie vertaal: Jackie Kennedy was “met bloed bespat”. Oom Bart het afkeurend gefrons. Met bloed bekoek,” was sy voorstel. Dit is soos dit in die koerant gestaan het.

Op 6 September 1966 was ek hoofsubredakteur toe Bennie die middag kort na 14:15 sy kop deur die luik tussen die telekskantoor en die subkantoor druk, bewend met ‘n Sapa-“snap” in sy hand: “Dr. Verwoerd stabbed by knife in Assembly”.

“Stop alles,” het ek deur dun lippe geskreeu en my sigaret (‘n Rembrandt van Rijn) sommer verkeerd-om in my mond geprop. Van die mees dramatiese, emosioneel-uitmergelendste en pakkendste ure in my koerantloopbaan is daarmee ingelui. Die gewone laat uitgawe, pas klaar, is onmiddellik ingrypend oorgemaak. Ons het koorsagtig aan ‘n nuwe gewerk. Die Verwoerd-drama is onder groot houtletters – wat gewoonlik vir ‘n oorlog gereserveer word – op die voorblad aangekondig: “Dr. Verwoerd vermoor”.

Dadelik daarna is met dieselfde verbetenheid ‘n spesiale uitgawe uitgegee. Toe dit van die pers kom, was Voortrekkerstraat (nou Nelson Mandelarylaan) gepak met lesers wat die koerant kom soek.

Soos die moorde op Kennedy en Verwoerd was vele ander moorde natuurlik “snap”-materiaal – ook ruimte-deurbrake en –rampe; die neerstorting van vliegtuie; vloede; staatsgrepe; rooftogte; politieke intriges; hartoorplantings; opspraakwekkende hofsake; menslike dwaashede en manewales; spitse op die sportveld.

Sapa was meesal die boodskapper en altyd ‘n betroubare dienaar – by geleentheid selfs met nuus oor die periodieke rekord-pampoen in ‘n plattelandse groetentuin!

Soos die Sapa-herinneringe vloei, kom die name en gesigte van groot geeste op. Eerbiedwaardige Sapa-joernaliste soos ‘n Arthur Classen, ‘n Robert Postma, ‘n Gordon van der Merwe en ‘n Bossie (naam vergeet). Almal Afrikaans, let wel. By hulle kon ek in my tyd as parlementêre verslaggewer (1963 en 1964) altyd gaan kontroleer as ek onseker was oor wat ‘n agbare lid presies kwytgeraak het.

Later het ek en Sapa se blymoedige Josh Brauer mekaar in die Vrystaat gedurig aan die een of ander perstafel raakgeloop – hy met sy een been en krukke; ek dalk te jonk en voortvarend om die ouer man altyd ondersteuning te gee. Toe het die bekwame Enid Rhodes in sy plek gekom. Met haar verbysterende snelskrif het sy tot die dag van haar dood haar ding gedoen.


Spoevraat Georjane van Zyl by twee groot geeste, Wilhelm Jordaan en Jaap Steyn, wat albei gerekende professore geword het. Voor is Herman le Roux en HvD, wat albei joernaliste gebly het.


Gesoute teleksmanne met bltsige tikvingers, soos Fingers (sic) van der Merwe en Willem Tenner, kon die klawers hamer dat die masjien rittel en bewe soos ‘n hond wat gif gekry het (Kollega Johan van Wyk se uitdrukking).

Daar was, as jy aan die spoedvrate hulde wil bring, bowenal Georjane van Zyl (later Groenewald, later Oberholzer) van Die Volksblad, wat soos ‘n sneltrein deur ‘n pak Sapa-kopie kon sif en ‘n berig op spertyd in minder as ‘n japtrap kon lewer. Nooit iemand teëgekom wat vinniger as Georjane kon produseer nie.

‘n Mens kan te haastig raak. Die nimlike Georjane op volspoed het op ‘n dag “Durban City’s goalkeeper” as “Durban se stadstronkbewaarder” vertaal. In ‘n tyd toe onsedelikheid taamlik in die nuus was, het ‘n jong redaksielid die “vice grip” in ‘n Sapaberig sonder weifeling ‘n “onsedelike greep” gemaak. Eina!

Ander ligte mistykies het so met Sapa saam opgeduik. Die oggend van ‘n toets op ‘n Springboktoer in Nieu-Seeland was Die Burger in ‘n wedloop teen tyd om ‘n spesiale uitgawe op straat te kry. Toe raak hul eie man – nogal die nimlike Phil Weber – se verslag en dié van Sapa op ‘n duistere manier hopeloos vervleg.

Eers toe die rolpers begin draai – 10 triomfantlike minute voor die Cape Times – is die onleesbare deurmekaarspul ontdek. Die rolpers is terstond tot stilstand gebring vir ‘n tydrowende uitsortering van die gemors. Die Cape Times was lank voor Die Burger op straat.

Eers heelwat later kon in Keeromstraat stroef geglimlag word oor die naamlyn by die berig: “Van ons spesiale Springwoordiger by die Verteenbokspan”!

1 view

Recent Posts

See All

Probleme probleme

Die hoop het toe nie beskaam nie. Rapport het afgelope Sondag vorendag gekom met ’n noemenswaardige resensie – Trisa Hugo se skrywe oor Veldhospitaal 12, die nuwe roman deur Marinda van Zyl. Boek24? W

SKOONHEID SONDER SKROOMHEID

Op bladsy drie van Die Burger vanoggend verskyn o.m. berigte oor die Mej. Wệreldwedstryd waarin Shudu Musida SA se kroon dra, en ‘n motorfiets-uitstappie na die Hartebeespoortdam waarvan die afwesighe

Comments


bottom of page