top of page
  • Uitmelkbos

SALUUT VIR ‘N SPANMAAT


Johan van Wyk, Johan Uys en Hennie van Deventer by die rooster

In ‘n dekade van hard werk en hard speel in Bloemfontein – die dekade 80 – was Johan Uys, Vrystaatse streekbestuurder van die SA Vervoerdienste – een van die groot geeste. Waar vrolikheid was, was Johan nooit ver te soek nie.

‘n Manier van trakteer met die Uys-stempel was om ‘n groepie gaste per selfaangedrewe trolliewa na ‘n stasie iewers te bring. Dan kom die piekniekmandjies uit vir ‘n eersteklas-kuier. Die stasie Olifantskop, tussen Bloemfontein en Kimberley, was veral ‘n besonderse kuierplek. Sy mooi tuin was ‘n gereelde pryswenner. Dit is (was) seker ook die enigste stasie met ‘n “trein” wat deur die stasiemuur bars – darem nie ‘n regte, egte trein nie, maar die replika van ‘n outydse stoomlokomotief.

Ek onthou haltetjies met romantiese name soos Vispan en Bosvark waar ons klikke-klak met Johan se trollie verby is. Seker ook al toegegroei onder die gras.

In die 80’s het die sogenaamde Skoutrein ontstaan. Die gaste is in ‘n skommelende eetwa van die Sentrale skouterrein na Brandfort en terug: ‘n reis met lekker geselskap, ‘n gawe spyskaart en uitstekende wyn. Johan was een van die vaders van die idee.

Ek en hy was spanmaats in die krieket-uitnodingspan “Colin se Kallers”. Ons het jaarliks teen “Bill se Bulle” kragte gemeet. Colin was Colin Hickling, Bloemfontein se burgemeester; Bill was Bill Odendaal, Welkom se eerste burger. Die “Bulle” het die “Kallers” in ons eerste wedstryd in 1986 met 40 lopies afgeransel. Van Deventer en Uys was teen die einde van ons sukkelbeurt in ‘n hardnekkige maar vrugtelose vasskop-vennootskap betrokke.

Ons was dieselfde jaar ook spanmaats in die Hennie van Deventer-braaispan teen ‘n span van Ewald Fichardt en Flip Barnard, boer van Dewetsdorp. In my span was, buiten Johan Uys, ook Johan van Wyk, die nimlike Oom van Stop van Myne, en Piet Theron, ‘n kollega en braaier van faam.

In ‘n epiese stryd by die rooster op ‘n perfekte aand in laat April in die pragtuin van Job en Alida Pretorius in Besselsenstraat, Universitas, het vleis van die beste gehalte op die kole van doringhoutstompies gesis: biefstuk, tjops, wors en lewer in netvet. Die HvD-span het alles ingewerp om sy neus voor te kry , o.m. met bykosse soos ‘n unieke groentepotjie van die Oom en les bes ‘n geurige paptert van Petro Theron, wat, volgens Van Wyk, “Maximes van Parys se hong-pelong na ‘n mietpaai sou laat smaak”.

Uiteindelik het die beoordelaars onder aanvoering van prof. Hennie Heyns, vleisekspert van die Vrystaatse Universiteit, net-net ten gunste van ons teenstanders beslis. Ons was gekrenk, maar het nie omgegee om ‘n paar stewige vonkelwyntjies in blink glase saam met ons oorwinnaars te klink nie!

In my huis op Melkbos het ek twee soeweniers uit die Johan Uys-stal waarop ek nogal ‘n ogie sou hê indien ek my eie ‘n erfgenaam kon wees. Albei dra ‘n Spoorweg-etiket uit ‘n vergange era. Een is ‘n koper-lokomotieffluit, gemonteer op ‘n stuk soliede dwarslêer. Stoomtrein-entoesiaste se hande sal seker begin bewe as hulle dié versamelstuk sou sien. Die tweede is ‘n koffietafel. Die blad is van ryk kiaat wat uit dwarslêers herwin is. Dit rus op pote van rowwe, onafgewerkte hout. Die bonkige boute is van die soort waarmee treinspore vasgewoel is.

Johan Uys het lank, te lank, van my radarskerm verdwyn. Gister kry ek uit Bloemfontein die nuus dat hy oorlede is. Die gewer van daardie twee geskenke na aan my hart – amper vyf jaar jonger as ek – se hart en lewer was kapoet. Hy word vandag langs sy eerste vrou, die dierbare Lettie wat begin 90’s oorlede is, in die familiebegraafplaas op Elandskraal, distrik Mooinooi, begrawe.

Daarmee is nog ‘n skakel na ‘n goue verlede, helaas, daarmee heen.

Ek salueer my spanmaat met ‘n versie uit die Joan Baez-weergawe van “Freight train, freight train going so fast”:

“When I’m dead and in my grave No more good times shall I pray, Place a stone at my head and feet, Tell the world that I’ve gone to sleep; Place a stone at my head and feet, Tell the world that I’ve gone to sleep.”

“Slaap” rustig, ou vriend.

Naskrif: Een van ons destydse maats, wat ons ongelukkig halfpad deur die dekade ontval het, was Carel Leonhartdt, fyn beskaafde streekbestuurder van die SAUK. Gister, kort ná die nuus van Johan Uys se dood, kom ‘n poskaart van Joan Leonhardt om te rapporteer: als wel aan daardie kant. Sulke periodieke skrywetjies skerp die herinneringe verder in oor netwerk van vriendskap wat oor ‘n bree spektrum ons lewens in die 80’s in Bloemfontein so oneindig verryk het.

1 view

Recent Posts

See All

Probleme probleme

Die hoop het toe nie beskaam nie. Rapport het afgelope Sondag vorendag gekom met ’n noemenswaardige resensie – Trisa Hugo se skrywe oor Veldhospitaal 12, die nuwe roman deur Marinda van Zyl. Boek24? W

SKOONHEID SONDER SKROOMHEID

Op bladsy drie van Die Burger vanoggend verskyn o.m. berigte oor die Mej. Wệreldwedstryd waarin Shudu Musida SA se kroon dra, en ‘n motorfiets-uitstappie na die Hartebeespoortdam waarvan die afwesighe

© 2022 LitNet. Alle regte voorbehou | All rights reserved

bottom of page