top of page
  • Uitmelkbos

SALIGE URE BY YSLIKE VURE


Presies om 07:45 op Donderdag 1 Augustus is die uwe by Skukuza se besprekingskantoor uit met die kosbare besprekingsnommer in sy hand: Al ses hutte in Balule vir 21, 22 en 23 Julie 2014 in die naam van J.H. van Deventer bespreek.

Balule merk drie wag dus op die ses gryses van die jare 1959 tot 1960 wat so toegewyd aan die nuwe tradisie help bou. Nog ‘n okkasie vir groot ure om groot vure; van herinneringe opdiep, stories vertel, koningskos maak en hiënas-uit-die-bos kuier. Opperste saligheid!

Dink darem ek moet die ander vyf bokkers ‘n premie laat betaal. Sonder persoonlike moeite en opoffering kry ‘n mens immers nie meer in Julie in die Wildtuin plek nie; veral nie ‘n plek soos Balule nie … en dan boonop die hele kamp.


Ek en Tokkie moes in die nagtelike ure opstaan in Sabiepark, by die Krugerhek in ‘n tou agter ses taxi’s wag dat die horlosie sesuur slaan, en in Skukuza geduldig in ‘n tweede tou gaan wag op 07:30. Besprekingskantore landwyd open dan op die minuut. Talryke rekenaars begin gelyk namens angstige Wildtuinliefhebbers meeding om hul gunstelingplekke vir die wintervakansie voor ander op te raap.

Geweldige stres bou by die uitgemergelde aspirant-Wildtuingangers op terwyl almal oral handewringend sit en wonder of hul missie geslaagd gaan wees – party, sien ek in die koerant, al van die vorige dag af. Skielik droog die geselsery op. Almal hou mekaar dop: Wie gaan vir wie inloop?

Voel soos die wag vir matriekuitslae, merk ‘n mede-tousitter op. Erger, meen ek. Toe het jy plus-minus verwag wat die verloop gaan wees. Hier is jy totaal in die duister.Bedink dan die vreugde as die dame agter die rekenaar aankondig: I have your reservation number. Dit grens aan ekstase.

 Ons Kollege-spannetjie is vars terug van ons 2013-saamtrek. Watter drie dae was dit nie!

 Kom ons begin by die kos wat wat elke aand loshande vir die etiket van meesterlik kon kwalifiseer. Laat die TV-koskokkedore maar kom. By die liga van boskokke soos Nella Jacobs en Moraig Henning kan daardie ou lot vergeet om kers vas te hou.

 Uit die rudimentêre kombuisie (‘n paar gasplate en ‘n ketel) het al van vroeg die heerlikste geure gesweef. Kerse is later uitgepak en kleurryke tafeldoeke oopgevou vir die een na die ander onvergeetlike dis, met goeie wyn uit goeie glase – dit spreek mos vanself. Ons kon telkens by ‘n prentjie van elegansie aansit – dankie, dames.

 Die vleis het van die kole gekom, waar veral Cas Jacobs die kroon van baasbraaier met distinksie dra, met die res van ons entoesiasties in raadgewende hoedanigheid.

 Oor ons vure sou ‘n mens ekstra welsprekend kon raak. Ek het die Honda se agtersitplekke platgeslaan en ‘n klomp fris stompe uit Sabiepark saamgebring: rooibos, knoppiesdoring en nog wat. Piet Henning het van Louis Trichardt gekom met agter sy Isuzu ‘n Venterwa van die groot soort van hoek tot kant met bondels sekelbos vol gelaai. Ons kon vuur maak na hartelus – en, boeta, ons het!

 Pierre le Roux het hom as hoofstoker ontpop, met Manie Steyn en Benito Niemann ‘n gedugte duo van opstokers om hom steeds tot groter hoogtes aan te moedig. Ad destinatum persequor …

 Van vroeg skemer af was die oewerbos aan die Olifantsrivier elke aand in ‘n gloed gebaai wat die skouspelagtige sonsondergang in die skadu wou stel. Laataand was dit of die son sy kop lig.

 Daaromheen was die versamelde (en vrymoedige) wysheid van vele dekades. Altesaam 450 opeengestapelde lewensjare net aan die manlike kant!

 Soveel dae, soveel dinge, sê hulle. Natuurlik ook soveel stories en kwinkslae. As lag inderdaad goeie medisyne is, is ons almal na dese perdfris.

 Na twee Balule’s klink nie elke storie natuurlik meer heeltemal so sprankelvars nie. Maar wat … goed vertel, is enige storie altyd die moeite werd om weer na te luister, of hoe? Dan het ons tot Julie 2014 in elk geval almal ‘n hele jaar om ons eie versamelinkie weer af te stof en blink te poets sodat Balule se bosse opnuut weer kan dreun.

0 views

Recent Posts

See All

Probleme probleme

Die hoop het toe nie beskaam nie. Rapport het afgelope Sondag vorendag gekom met ’n noemenswaardige resensie – Trisa Hugo se skrywe oor Veldhospitaal 12, die nuwe roman deur Marinda van Zyl. Boek24? W

SKOONHEID SONDER SKROOMHEID

Op bladsy drie van Die Burger vanoggend verskyn o.m. berigte oor die Mej. Wệreldwedstryd waarin Shudu Musida SA se kroon dra, en ‘n motorfiets-uitstappie na die Hartebeespoortdam waarvan die afwesighe

© 2022 LitNet. Alle regte voorbehou | All rights reserved

bottom of page