top of page
  • Chomsetussenbetragtings

Saambid? Nooit!

Jam Lekker se amper-eina storie oor die dame by die basaar het my laat onthou van 'n skryfsel wat ek verlede jaar uitgebewe het, nadat ek meeste van die goed wat ek daar noem self gadegeslaan het. Oftewel, ek't my eie stories gepaint rondom die mense wat ek daar gesien het. Maar my eintlike issue (en ek vra byvoorbaat groot, groot askies as ek op iemand hier se tone trap) was dat hierdie groep mense eintlik net sekere kleure gemeentelede toelaat, maar dit as heeltemal OK ag om ander se geld te vat. En ek het 'n groot issue daarmee (ek probeer gewoonlik my issues wegskryf, maar kry dit nooit reg nie). BASAAR-BLUES

Haar tafel is klaar uitgepak.

Sy staan verveeld en rondkyk na al die gewerskaf rondom haar.

Dis nog vroeg, skaars agtuur gewees, maar daar is alreeds ‘n geroesemoes by die kleretafel — eintlik vier basaartafels wat teenmekaar geskuif is — met die reuse-hoop tweedehandse klere op.

‘n Groep vroue kwetter in hulle eie taal om die tafel. Hulle lag en gesels terwyl hulle die een kledingstuk na die ander optel, ‘n vinnige skud gee en teen die lig hou. Mens kan eintlik sien hoe meet-en-pas hulle vinnig in hulle geestesoog die familielid by die huis vir wie dit moet pas.

Sy los haar “wit olifant”-tafel (wat volgens haar eerder die “kaggel-kakkies”-tafel moet heet) in Drienie se hande en drentel tussen die ander stalletjies rond. Sy wens sy was op ‘n ander plek.

Die meeste mense is nog besig met ‘n paar laaste afrondings aan hulle stalletjies. Die pannekoekbakkers met hulle simpel voorskote klits verwoed aan hulle beslag in reuse-emmers, en by die vetkoektafel hang die reuk van warm olie al klaar in die lug.

Sy weet al uit ondervinding om anderpad te kyk as sy by die poedingtafel verbyloop, maar sy kan haarself nie keer nie. Sy wil gril en giggel gelyk toe Tant’ Hannetjie haar reuse-bak met trifle eenkanttoe skuif — gril omdat die bak se inhoud so dril, en giggel oor Nataniël se beskrywing van basaar-trifle, wat so skreeusnaaks en in die kol was.

Sy stop by die boeketafel. Sy kan sweer die klompie Reader’s Digest Condensed Books was laasjaar ook op die tafel. Ou Mevrou Nel (hét die vrou ooit ‘n voornaam?) staar onbeskaamd afkeurend na die onderkant van haar toppie wat net-net oor haar langbroek pas. Sy wonder wat sal die ou voorbidder dink as sy weet van haar naeltjiering.

By die kleretafel het die aantal vroue intusen merkbaar vermeerder. So ook die geraas rondom die tafel. Sy verstom haar openlik aan die gemoedelike atmosfeer onder die vrouens... wil amper begin saamlag toe die een omtrent dubbelvou van die lag vir een van haar vriendinne se kwinkslae. Sy wonder of ander mense ook die ironie van die kontras tussen dié groep se uitbundigheid en die res van die mense se stroefnis raaksien.

Sy sien hoe een van die vrouens, in die uniform van die hotel oorkant die straat, stadig ‘n klompie kleingeld in Santie Boonzaaier se hand aftel, en ‘n klein bruin corduroy-broekie in haar handsak indruk. Sy wonder of dit vir ‘n kind of ‘n kleinkind is.

“More mies Elize!”

Dis Miriam wat haar gedagtes terugbring na die werklikheid. Haar huisengel, soos sy partykeer aan haar dink. Haar staatmaker, wat drie dae ‘n week stil-stil haar bes doen om orde in haar chaos-huis te bring. Wat koponderstebo die lapa skoonmaak as JC en sy vriende daar partytjie gehou het — van glasstukke tot kots tot stompies op die vloer. En woordeloos omdraai as sy haar in die badkamer sien die blou merke aan haar arms en gesig probeer toesmeer.

“More Miriam! Gaan dit goed?”

“Ja Mies, dit gaan goed! Ek het nie geweet Mies-hulle is in hierdie kerk nie?”

Sy wou nog antwoord, toe kom ou Sampie Stoltz se stem oor die luidsprekerstelsel. Hy maan almal tot stilte, want hy wil die basaar open met skriflesing en gebed.

Oudergewoonte kan sy nie lank op een ding gefokus bly nie. Haar oë dwaal oor die mense, waar hulle klompies-klompies bymekaar staan en luister na die voorlesing.

Sy sien ou Marie van die hospitaal luister ook nie — staan net en vroetel aan haar naels. Vrek seker vir ‘n sigaretjie, dink sy. Sy wonder of Marie dit sal waag om tussen die kerkmense ‘n dampie te maak.

‘n Man met kakieklere staar voor hom uit, waar hy skuins teen sy bakkie langs die vetkoekstalletjie leun. Die bakkie het nommerplate van ‘n ander provinsie, en sy wonder of hy dalk die man is wat die polisie so soek omdat hy die jong meisies langs die pad so pla.

Haar oë dwaal onderlangs na Miriam langs haar. Sy sien sy het die ou tekkies van een van die kinders aan wat sy laasjaar vir haar gegee het. Silwerskoon geskrop, maar verslete verby. Sy wonder hoeveel kilometers Miriam al met hulle afgelê het.

Sy is so verdiep in haar gedagtes dat sy nie eers agtergekom het dat ou Sampie al begin bid het nie. Sy maak skuldig-skaam haar oë vinnig toe, en probeer konsentreer. Dis gelukkig nie moeilik nie, want sy gebed vir die sukses van die basaar en die welsyn van almal daar is opreg en aandoenlik.

Hy’t skaars “amen” gesê, toe trek die kerk se orkes los met ‘n opgewekte boeremusiek-nommertjie. Daar val sommer dadelik ‘n karnaval-atmosfeer oor die geleentheid.

“Julle het ‘n lekker kerk, nê?” Miriam is blykbaar lus vir gesels. Sy beaam so hartlik as wat sy kan, en wonder wat sal Miriam sê as sy weet van die onmin onder die klomp susters oor die flippin altaarlappie.

“Ons kerk is ok orraait,” sê Miriam terwyl sy weer die een na die ander kledingstuk op die hoop optel, skud-en-bekyk en weer neersit. “Ons bid baie lekker daar. Ek bid vir Mies ok.”

Haar lammerige “haai-dankie-Miriam-dis-dierbaar-van-jou-ek-bid-vir-jou-ook”-leuen klink selfs vir haarself holler as hol.

“Kan ek eendag saam met jou na julle kerk toe kom, dan bid ons saam?”

Miriam se vraag neem die wind uit haar seile uit, en die asem uit haar keel uit.

Shit. Sy moes vir haar ma geluister het.

0 views

Recent Posts

See All

Net 9 disse?

Kom ek op hierdie interessante berig in die Sowetan af vandag, en herken myself toe baie goed! Alhoewel die studie onder die Britte gemaak is, dink ek dis tot 'n groot mate op ons van toepassing. Sal

My kortverhale (wow, dit was pret!)

Hy klap die agterdeur met 'n dawerende slag agter hom toe. Sy bly op die vloer sit, en vryf oor haar brandende wang. *** "Mamma, waar's Pappa?" Sy sug, vat haar dogter om haar maer skouers en lei haa

Joeeeeehoeeee! Ek's terug! (dink ek...)

Hallo liewe blogvriende! Ja, vir die eerste keer in VIER maande het ek weer soortvan internettoegang! Dankie vir die van julle wat my nie vergeet het nie, en so nou en dan 'n boodskappie gestuur het (

© 2022 LitNet. Alle regte voorbehou | All rights reserved

bottom of page