top of page
  • Uitmelkbos

RUGBYREDDER?

Ek is maar net ‘n verwarde 74-jarige (amper-amper 75) rugbyliefhebber van Melkbos. Dalk kan mnr. Thelo Wakefield of een van die ander wyses vir my klarigheid bring.

Soos ek dit het, was mnr. Wakefield WP se rugbybaas toe Allister Coetzee afgerig het, en gereeld op sy mooi, beskaafde manier moes verduidelik hoekom sy span dan verloor wanneer hulle moes gewen het.

Soos ek dit het, was mnr. Wakefield WP se rugbybaas toe besluit is dat vir ‘n beter toekoms vir WP-rugby liefs ‘n ander afrigter aangestel moet word. Die stomme Coetzee was skielik in die buitenste duisternis. Die kavalieragtige huursoldaat Eddie Jones het met wapperende mantel en swaard in die lug sy buiging gemaak.

Prins Eddie se verblyf op Nuweland was, helaas, van korte duur – korter as die spreekwoordelike ou vrou se dans.

Eddie Jones is verlede tyd by die WP. Nou is Heyneke Meyer ook verlede tyd by die Springbokke, Opvolgers word naarstig gesoek.

Mnr. Wakefield self is kliphard op soek op TV en in koerantkolomme. Maar nee, hy soek nie vir ‘n opvolger vir Jones op sy tuisbasis nie. Dit is die groter nasionale toneel wat die rugbybaas se alleraandag geniet.

Hy weet wie is die man wat in Meyer se skoene moet stap, verkondig hy ingenome. Dis Coetzee natuurlik. Allister se tyd het aangebreek. Hy moet kom red en sommer die hele land agter hom verenig.

Kom weer.

* As Coetzee sulke buitengewone kwaliteite het, waarom o waarom het die WP dan nie met opwindende, verbeeldingryke wenrugby alles voor hom platgeloop nie? * As Coetzee inderdaad so ‘n blink blink ster is aan die nasionale rugbyfirmament, waarom o waarom het die WP hom deur sy vingers laat glip? * As hy skielik in Japan daardie deurslaggewende kwaliteite ontwikkel het, kan ons nie van daardie Japanse doepa invoer vir al ons ander afrigters ook nie? Of moet jy minstens ‘n maand of twee Kobe se water gaan drink?

Thelo, help. Die oom verstaan nou dolus eventualis mooi. Hy sukkel regtig om te verstaan hoe die vurk in die hef steek dat iemand wat nie by die WP die mas kon opkom nie, hom skielik as die ridder op die wit perd in SA rugby gaan ontpop.

As die vrae irrelevant is, vergewe tog maar. Oumense beland hulleself soms in onnodige doolhowe met te veel vrae oor vandag se dinge, wat dikwels bo hul vuurmaakplek is.

0 views

Recent Posts

See All

Probleme probleme

Die hoop het toe nie beskaam nie. Rapport het afgelope Sondag vorendag gekom met ’n noemenswaardige resensie – Trisa Hugo se skrywe oor Veldhospitaal 12, die nuwe roman deur Marinda van Zyl. Boek24? W

SKOONHEID SONDER SKROOMHEID

Op bladsy drie van Die Burger vanoggend verskyn o.m. berigte oor die Mej. Wệreldwedstryd waarin Shudu Musida SA se kroon dra, en ‘n motorfiets-uitstappie na die Hartebeespoortdam waarvan die afwesighe

© 2022 LitNet. Alle regte voorbehou | All rights reserved

bottom of page