Hoe meer dae hoe meer dinge. Dat bogenoemde woorde ooit bo ‘n HvD-blog sou verskyn, was, om dit sag te stel, tot dusver uiters onwaarskynlik.
Vanoggend het ek egter aan my vriend, Jacko Maree, ‘n deurlugtige oud-Matie op die Atlantic Beach-gholflandgoed hier naby, ‘n briefie gestuur, wat dinge verander het.
So lui daardie briefie:
Beste Jacko
Nou laas nadat die Maroentruie die arme Tukkies in die Varsitybeker so liederlik op hul herrie gegee het, het ek oorweeg om jou met ‘n skitterende sege op die rugbyveld geluk te wens.
Die versoeking het gelukkig gou oorgewaai. Grootmoedigheid het sy perke, jy weet.
Na die aankondiging van die skoonskip in die Stellenbosch-raadsverkiesing van mense met harte vir Afrikaans het ek geen gewetenswroeging om ‘n buiging na jou kant te maak nie.
Trouens, as jy ‘n gedruis hier van Penguin Place se kant hoor kom, is dit hierdie lojale Tukkie wat die eerste keer in sy lewe saam deklameer: “Rom, rom, rom, Stellenbosch kom!”
Felisitasies – dit was ‘n eervolle stryd wat bekwaam gestry is.
HvD
Comments