top of page
  • Uitmelkbos

“ROLTRAP NAAR DE HEL”


In die voorportaal of voorhuis van die eie huis of in die huise van familie en vriende het in ons jongdae redelik algemeen, dreigend of belofteryk (hang af hoe jy kyk), ‘n afbeelding van “De breede en de smalle weg” gehang.

Die “breede weg” is ‘n vrolike, verleidelike pad met vele verlokkinge en versoekinge. Die pad van die minste weerstand. Die onvermydelike bestemming, helaas, is vuur en verderf. Die hel.

Die “smalle pad” is ‘n vasbytpad. Jy beweeg daarop volgens Christelike waardes, beginsels en riglyne. Die eindelike prys is groots en heerlik. Jou bestemming: die reënboog-reinheid van die hemel en die ewige saligheid.

Die meeste kinders het seker met ‘n mate van trepidasie voor so ‘n geraamde prentjie gestaan, sidderend oor die immerteenwoordige gevaar dat die swakke natuur voor die lekker van die oomblik swig. Dit is so verdeksels maklik om die rug op die “nauwe poort”, die toegang tot die “smalle weg”, te keer … en daar gaan jy!

“Moer toe!” soos die ou op die fiets sonder remme uitgeroep het toe dit die afdraende vat.

Die effens vreemde Nederlands – die land waar die plakkaat blykbaar 130 jaar gelede sy oorsprong gehad het – het vir my begedra tot die gevoel van misterie wat die beelde in jou laat opwel. Onderaan was die Skrifverwysing: Mat. 7:13: “Gaan deur die nou poort in. Die poort wat na die verderf lei, is wyd en die pad daarheen breed, en dié wat daardeur ingaan, is baie. Maar die poort wat na die lewe lei, is nou en die pad daarheen smal, en dié wat dit kry, is min.”(Nuwe vertaling).

Dis onse Bybelstudie Woensdagaande wat ons ou klomp o.l.v. Francois Hanekom by die “poorte” bring. Ons trek by Spreuke 4 en steek vas by die pad van wysheid wat jou in die regte koers laat loop. Volgens oomblik toe soek ons net almal padmetafore vir ‘n vale.

Onder die moderne metafore is onvermydelik slaggate, stilhouplekkies, padtekens, padreëls, waaksaamheid en gehoorsaamheid agter die wiel, spietkops, tolhekke en dies meer.

Ek meen as ek nou ‘n moderne plakkaat moet ontwerp, sal ek die “smalle weg” vol “poorte” soos tolhekke maak, oral padtekens opsit oor hoe jy moet ry en hoe nie, en agter die bosse spietkops plaas om jou vas te vat as jy oortree. Iemand moet afdwalers immers op spoor hou.

Die spietskops op die “smalle weg” is ouers, onderwysers, leraars en almal in posisies wat ‘n positiewe invloed op soekende jong mense se keuses kan uitoefen, kom ons ooreen. Dis die Groot Owerheid daarbo wat hulle in hul ampte aanstel.

Ek is vuur en vlam oor my “moderne” weergawe van die “breede en smalle” weg. Wil net begin potlode skerp maak vir ‘n HvD-meesterstuk. Toe: ontnugtering, ontnugtering. Op Google moet ek lees ek is te laat. Ene Fokke de Vries uit Urk het reeds ‘n moderne variant ontwerp, wat fluks bemark word:

“Daarop zijn moderne beelden te zien als een computer en een auto, en zijn ook andersgelovigen te zien, zoals een vrouw met een hoofddoek. Mensen worden met een roltrap naar de hel gevoerd.”

Op die nuwe “breede weg” sien ek ook o.m. ‘n TV-skerm – dit beeld die seksualisering uit wat die samelewing ontwrig. En daardie flertsie in die hoek, is dit nie dalk ‘n poniekoerant nie? Nee, ek speel sommer.

Wat nie speletjies is nie, is daardie “roltrap naar de hel”. Dit is nogal ‘n beeld wat aan die ou man vat. Voor my geestesoog word al ons ou sondaars, ry op ry, as ‘t ware in die vlamme uitgespoeg!

0 views

Recent Posts

See All

Probleme probleme

Die hoop het toe nie beskaam nie. Rapport het afgelope Sondag vorendag gekom met ’n noemenswaardige resensie – Trisa Hugo se skrywe oor Veldhospitaal 12, die nuwe roman deur Marinda van Zyl. Boek24? W

SKOONHEID SONDER SKROOMHEID

Op bladsy drie van Die Burger vanoggend verskyn o.m. berigte oor die Mej. Wệreldwedstryd waarin Shudu Musida SA se kroon dra, en ‘n motorfiets-uitstappie na die Hartebeespoortdam waarvan die afwesighe

© 2022 LitNet. Alle regte voorbehou | All rights reserved

bottom of page