top of page
  • Uitmelkbos

ROK, ROK, ONDERROK-ROK!

“One ‘o clock, two ‘o clock, three ‘o clock rock…rock …rock …rock around the clock!” As Bill Haley en sy Comets dié ruk-en-rol-treffer van die 50’s laat dreun, dan wip en swaai die rokkies dat die beentjie tot doer bo in die noorde gesien kan word.

Die onderrok – sogenaamd “full flair – met laag op laag stokstywe kant wat parmantig en pikant onder die rokkie uitloer – wip en swaai saam met die energieke sprongetjies van die dansers. Dis mos die bedoeling, my Sheila!

Kyk, oor meisies se ondergoedjies is ek bra onkundig. Onthou darem met bittersoet nostalgie die jare 50 en sy bekoorlike “petticoats”. Die Afrikaanse “onderrok” is mos maar ‘n verbeeldinglose, onromantiese naam. Die woord “pet” roep, daarenteen, aangename beelde op, in werkwoordvorm sowel as selfstandige naamwoord!

Dink aan “Teacher’s pet”. Maar raadpleeg liewer die woordeboek!

Hoe kom ek op dié onderwerp? N.a.v. my beeldspraak in my vorige blog. “Gerafelde onderrokke” is nie juis ‘n relevante idioom in die moderne tyd nie, is ek vriendelik deur jonger bloglesers op Litnet ingelig. (Bestaan “organdy” en “crinoline” darem nog?) Nietemin, die ligte tikkie op die ou man se vingers sit my herinneringe toe in trurat.

Meen te sê, van my eerste Tukkiemeisies in 1959 en daarna had in hul kaste sulke uitklok-onderrokke, dikwels met kleurryke ingevlegde lintjies, en by geleentheid self versterk met hoepels om lekker wyd te kan opskop. Hoor ek iemand iets van stysel, suikerwater en selfs walvisbeen sê? Dit was, as ek my reg herinner, deel van die geheim.

As daardie nooientjies hul lang hare in uitdagende poniesterte gekam het en kort, gekleurde sokkies gedra het wat net bo die skoentjies uitsteek, soos die guitige enetjie op die CD-omslag hierbo, was hulle die perfekte prentjie van jou droomnooi, oor wie jy ure kon idealiseer. Hulle moes net nog só op hul toontjies staan as hulle jou ‘n piksoentjie gee – “sexy” verby!

Ook in rolprente het ikone soos die Grace Kelly’s en Doris Day-e van my dae onvergelyklike onderrokkies gedra. Jy sit op die punt van jou fliekstoel in die voorste, goedkoop rye dat jy nie dalk ‘n beweging mis wat jou ‘n vinnige flitsie van die “spergebied” gun nie.

My niggie Elise Smith (nou Elise Viljoen) van Pretoria was in matriek toe ek tweedejaar op Tukkies was. Ek het nou nie die presiese feite met haar gekontroleer nie, maar ek onthou sy het met só ‘n onderrok-gevaarte op ‘n Kersdag agter op ons neef, wyle Bertus du Plessis, se motorfiets geklim. Ons familie het altyd Kersdag by die Fonteine in Pretoria deurgebring, en Bertus en Elise sou per motorfiets kom.

Hulle daag nie op en daag nie op nie. Wat nou? Bertus, wat toe in die Kweekskool op Stellenbosch sou gewees het (of op pad soontoe), is tog ‘n verantwoordelike jong man. Uiteindelik kom die nuus: Elise se kantskepping het in die motorfiets se wiel en goeters verstrik geraak (voorbeeld op die tweede foto). Sy is semi-ontklee in die proses. Die motorfiets het aarde toe geploeg – vol duike. Bertus is plek-plek deurgeskuur.

My Tant Minnie – Elise se ma – was nie een wat haar onbetuig gelaat het nie. “Ek kan my haar-re uit my kop trek dat ek haar agter op daardie ‘mouterbaaik’ toegelaat het,” het sy die hele Kersdag deur gelamenteer.

Oor ‘n ander onderrok-mode (of sonder-onderrok-mode) skryf ek later. Hou hierdie ruimte dop – dalk vir ‘n geheime glimps!

3 views

Recent Posts

See All

Probleme probleme

Die hoop het toe nie beskaam nie. Rapport het afgelope Sondag vorendag gekom met ’n noemenswaardige resensie – Trisa Hugo se skrywe oor...

SKOONHEID SONDER SKROOMHEID

Op bladsy drie van Die Burger vanoggend verskyn o.m. berigte oor die Mej. Wệreldwedstryd waarin Shudu Musida SA se kroon dra, en ‘n...

Commentaires


bottom of page