top of page
  • Uitmelkbos

RIVIER VAN SOET WATERS


Ek en olifante is dit eens: die Olifantsrivier se water is soet. Ons keer weer en weer terug – ek na die kamp doer bo op ‘n heuwel om sielsaligheid te vind, en die Grootvoete na die vlak, breë waters van die mooi rivier, ver benede die kamp, om te drink, te bad en te speel.

Die arendsnes-uitsig op die Olifantsriviervallei is skouspelagtig, die panorama so groots dat die tydskrif “Weg” se spesiale Krugerpark-gids dit waag om doodernstig te sê-vra: “Dit is immers hoekom jy hierheen (Olifants toe) kom, of hoe?” Daardie aanspraak is egter nie honderd persent juis nie.

Die rivier, hoe meesleurend ook al, is in my boekie net een van die magnete wat Olifants-verslaafdes telkens teruglok. Die plantegroei (kenmerkende mopanies en nabome by die hope), die rotsagtige Lebombo-wêreld en die uitleg van die kampterrein met sy norring inheemse bome dra by tot Olifants se karakter.

Een keer was die Van Deventers in ‘n hut langs ‘n Van Wykshout. Die moeder van die huis is ‘n Van Wyk. Dit was ‘n ontdekking hoe mooi haar boomgenant blom!

Ander, ewe kragtige, trekpleisters is moeiliker om in woorde uit te druk of met ‘n swaai van die arm aan ‘n eerste besoeker te wys. Dit is iets mistieks – iets opkikkerends in die lug, ‘n atmosfeer, ‘n gevoel van tuis kom wat jou oorweldig die oomblik as jy deur die hek met die kenmerkende reuse-olifanttande aan weerskante die kamp binnery. Jy hoef nie bo op die rotsrif te staan en op die rivier af te kyk om te ervaar dat Olifants Wildtuin is met ‘n hoofletter W nie. Jy voel dit al in jou gebeentes terwyl jy nog nader kom, soos die H1-4 stadigaan voor jou korter word, die blou Lebomboberge nader in die visier kom en die mopanies digter en meer raak.

Ek en Tokkie was in April weer in Olifants – die soveelste keer. Ons het sommer beskeie in die doodgewone rondawel 59 geslaap, waar ons die rivier net kon hoor. Ons genot was egter nie minder as diegene s’n wat tot donker op hul stoepies met verkykers die rivier en sy hinterland kon bespied nie.

Vir verskeie vriende het ons van ons stoepie af boodskappies gestuur: “Ons vuurtjie brand vanaand in Olifants. Dit voer ons gedagtes ver-ver terug.” Ver-ver, inderdaad. Saam met studentevriende, bure en ander goeie maats is goue tye hier deurgebring. Ou albums vertel hoe die tyd aangestap het. Die kinders op die foto’s raak groter, die grootmense gryser.

Pa en Ma Malan het ons aan Olifants bekend gestel. Ek onthou die eerste indruk: ‘n menigte roofvoëls wat in die lugstrominge bo die ravyn sweef. “Sweef soos ‘n arend …”

Daardie aand het ons in die restaurant gaan eet: outydse kos – sop, vis, twee vleisgeregte, groente, gebakte poeding, afgespoel met ‘n bottel Grünberger Stein en koffie. “Nes die Impala se kos”, het Ma opgemerk. Sy en Pa het daardie tyd die Impala-Residensie in Visagiestraat, Pretoria, bedryf.

Ma het ‘n keer haar goue horlosie (met enorme sentimentele waarde) in Olifants vergeet. ‘n Enkele oproep was nodig. Dit is by hul huis in Gezina afgelewer. Goeie ou dae.

Ek onthou hoe ons uiteindelik, na hoeveel nekrek-episodes, die seldsame witkopkiewiet op die sandbanke by die brug oor die Olifantsrivier op die H1-4 in Tokkie se Newmans kon afmerk; ook die enorme trop rooibokkies neffens die uitkykpunt net voor die afdraai na die kamp, en ‘n klaarblyklike seekoei-konferensie – net swart lywe en snoete waar jy kyk – naby die laagwaterbrug by die intieme, klein kampie Balule, waar ek in Julie ‘n nag gaan deurbring – die vervulling van ‘n ou droom.

Van Olifants onthou ek, helaas, ook enkele teenspoedjies. Een is my skrik toe ‘n bobbejaanmannetjie by die uitkykpunt by my in die kombi spring en my broodjie uit my hand pluk. ‘n Ander is hoe dieper die draadstoele se pote in die nat grond wegsak terwyl ek en studentemaat Manie Steyn al hoe dieper in die wynbotteltjie loer, en ook al hoe dieper by ons vroue in onguns beland.

Annette van Rensburg van Bloemfontein was nie min verontwaardig nie toe ‘n geveerde van onbekende herkoms op haar kroontjie tjorts. En uiters ontstellend was die gloede van brande, brande, brande ver op die horison in 2001 toe dit wou lyk of vlamme die park wou verswelg.

Gelukkig is die natuur se salf altyd ‘n wondergom wat die kwaaiste littekens verberg.

Deesdae gaan my kierie van Transvaalse kiaat met die spoggerige vlakvark-tand al saam Wildtuin toe, nie uit vertoon nie maar uit noodsaak. Tokkie dra ewe sorgsaam die swaarste bagasie om die ou man se kranklike heup te beskerm. Gelukkig is ons darem nog nie te oud vir Olifants nie!

2 views

Recent Posts

See All

Probleme probleme

Die hoop het toe nie beskaam nie. Rapport het afgelope Sondag vorendag gekom met ’n noemenswaardige resensie – Trisa Hugo se skrywe oor...

SKOONHEID SONDER SKROOMHEID

Op bladsy drie van Die Burger vanoggend verskyn o.m. berigte oor die Mej. Wệreldwedstryd waarin Shudu Musida SA se kroon dra, en ‘n...

Comentários


bottom of page