top of page
Uitmelkbos

RIDDERORDE VAN DIE DUIKER!


‘n Luislang-lummel het verlede week naby Cullinan n impala gevang en selfs die koerant gehaal oor sy kortdaatstuk. Nou misgun ek die ou grote nie sy ete of sy publisiteit nie, maar in Sabiepark het ons al geleer dat luislange nogal lief is vir duikervleis.

Geen toejuiging wag egter daar op die aggressor nie. Ons Sabieparkers is deur die bank aan ons duikers se kant. Trouens, in die algemeen bestaan ‘n natuurlike aangetrokkenheid tot hierdie kleiner alleenloper-bokkies. Hegte verhoudings kom tot stand. Van die mooiste Sabieparkstories spruit uit sulke mens-bokkie-verhoudings.

Een is die storie van Bok-Bok. Dit begin toe Annatjie Strydom van Rustig (erf 333 uit Apiesdoringlaan) so tien jaar gelede een dag in haar tuintjie werskaf. Sy hoor ‘n vreemde geluid.Dit klink soos ‘n gekerm van iets wat in groot nood verkeer. Voetjie vir voetjie begin sy agter die klank aan beweeg. Sy is egter skrikkerig. Sê nou ‘n luiperd spring iewers uit! Maar dis of ‘n magneet haar trek.

Met gespitste ore beweeg sy stadig deur die droë lopie agter hul lapa. Die gekerm raak sagter, kom sy nou agter. Terselfdertyd raak sy bewus van geluide wat soos ‘n stoeiery klink. Toe bemerk sy ‘n duikerooitjie wat teen ‘n wal op en af hardloop. Haar oog val ook op ‘n opgekrulde jong luislang in ‘n sloot. Die ooitjie is skynbaar met die slang in ‘n hewige stryd gewikkel. Die dapper bokkie hardloop teen die wal af en gee hom ‘n skop. Dan weer bult-op. Dan weer af teen die wal. Sy skop en sy skop.

Annatjie staan versteend. Sy sien nou die luislang het ‘n duiker-lammertjie in sy dodelike greep. Elk keer as die lammertjie in doodsangs blêr, versterk die greep. Die slang knyp sy prooi al hoe vaster en vaster totdat die koppie skynbaar leweloos grond toe sak. Die agterpote gee ‘n laaste swakkerige skoppie.

Die ongelykheid van die stryd maak Annatjie kwaad. Sy weet net sy wil daardie duikertjie uit die slang se kloue kry – ook ter wille van die ooitjie wat so onverskrokke bly storm en skop om haar kleintjie te probeer red. Op daardie oomblik kom haar man, Dawie, en hul dogter, Lientjie, aangery. “Ouboet, kom help my!” skreeu sy vir hom.

Dawie aarsel. Die natuur moet sy gang gaan, is sy eerste reaksie. Die Strydoms staan egter vasgenael. Na ‘n rukkie gaan haal Lientjie die kamera. Dawie neem ‘n foto van die slang om die bokkie waaruit die laaste asem skynbaar nou gepers is. Sy tongetjie hang slap uit sy mond.

“Ouboet, ons moet help,” hou Annatjie vol. En asof hy haar hoor, blêr die bokkie ‘n laaste wanhoopsblêr. Dawie neem ‘n vinnige besluit. Hy gryp ‘n vingerdikte stok en druk dit in by die hoek van die slang se bek wat styf om die lammertjie se nek sluit. Hy woel die stok in sy keel af. Toe gebeur ‘n snaakse ding: die slang laat sy prooi skielik los. Hy rol weg en seil na sy gat agter ‘n klip ‘n entjie verder.

Die duikerooitjie het op kort afstand staan en kyk. Ook toe Dawie haar kind optel en hom na die lapa dra, staan sy steeds asof gehipnotiseer. Dawie onthou op daardie oomblik sy ma se resep as iemand groot geskrik het. Bring gou suikerwater, vra hy. Annatjie roer vinnig ‘n paar lepels suiker in ‘n beker water en bring dit vir haar man. Dié het intussen voel-voel vasgestel geen bene is blykbaar gebreek nie. Die duikertjie wat net sy twee hande vol lê, het dalk tog ‘n kans. Dawie dwing die mondjie oop en laat stadig ‘n paar druppels suikerwater inloop. Hy herhaal die proses ‘n paar maal. Toe gooi hy ‘n bietjie water oor die lyfie. Hy voel hoe sy in sy hande begin beweeg.

Toe hy haar neersit, is sy egter te swak om te staan. Haar bene vou onder haar in. Uit die hoek van sy oog gewaar Dawie die ma het intussen stadig nader gekom. Sy staan by die punt van die lapa en kyk pleitend na haar kind se weldoeners. Dawie tel weer die kleinding op en sit haar versigtig op haar voete neer. Wonder bo wonder bly sy regop. Val-val begin sy na haar ma toe waggel. Dadelik soek sy ‘n speen. Steeds onvas op haar voete, begin sy gretig drink. Die ooitjie knip geen oog nie. Sy staan net daar, doodstil, en laat haar kind drink totdat sy genoeg het. Toe stap sy weg, steeds ewe bedaard, met haar kind wat amper dood was, agterna. ‘n Oomblik van groot vreugde vir die Strydoms. Hul ervaring laat hulle besef hoe groot die veggees van ‘n dier is.

Die volgende oggend is Annatjie weer by die lapa doenig. Hier kom die ma en haar kind aangestap. Asof hulle wil kom sê: baie dankie julle wonderlike mense. Hulle staan ‘n bietjie daar rond en gee toe heel rustig pad. Trane van aandoening het in die Strydomhuis gerol.

Die Strydoms is huis toe op Outeniekwastrand in die Suid-Kaap. Toe hulle ‘n jaar later in Sabiepark kom, stap ‘n volgroeide ooitjie uit die bos nader. Glad nie wild nie. Annatjie twyfel g’n oomblik nie. In haar hart is sy seker dit is die outjie wat sy en Dawie gered het. Voorheen het sy nooit vir diere kos gegee nie Nou is sy egter so opgewonde dat sy dadelik ‘n bietjie pap uitgooi. Sy roep: “Bok-bok”. Die ooitjie kom dadelik nader.

Twee jaar hou dit so aan. Sodra die Strydoms uitgepak het, hier kom Bok-Bok. Sy gaan lê onder ‘n jakkalsbessie en hou hulle dop. As hulle roep “Bok-Bok,” wikkel die oortjies en kom sy vinnig nader. Veral as aartappelskille op die spyskaart is. Sy kom ook vir koolblare of ander kos. Die derde jaar kom Bob-Bok nie. Soos dit maar in die natuur gaan, was sy spoorloos. Dalk het ‘n luiperd haar gevang. Of ‘n luislang… Dawie en Annatjie se trane het weer gerol.

Bok-Bok se aanvaller is nie die enigste luislang wat oor ‘n duiker sy moses in Sabiepark teëgekom het nie. ‘n Veel groter en gedugter uitgawe het vir sy gesondheid ook te naby aan ‘n duikerooitjie gekom. Nog dragtig boonop. Die eienaar wat daardie duikertjie as sy eie aangeneem het, Piet Möhr, het nie ‘n oomblik geaarsel nie. Hy storm met ‘n sambok op die bedreiging af en moker die monsterslang links en regs. Dié koes en sis van woede. Die houe bly egter reën totdat die slang die aftog blaas.

‘n Paar jaar was ons seun, Johan, en sy vrou, Mariza, in Sabiepark. So ‘n week voor Kersfees vertrek hulle vroeg die oggend om te gaan gholf speel. Op die motorpad sien hulle ‘n lang dik sleepspoor. Hulle bespiegel dat dit ‘n luislang kon wees. Hulle was nie verkeerd nie.

By die kantoor hoor hulle later die luislang was besig om ‘n duikertjie in te sluk. Toe val ‘n luiperd hom aan. Die luislang was in ‘n krisis. Al wat hy kon doen, was om sy prooi uit te spoeg ten einde te ontsnap of terug te veg. Maar dit was te laat. In ‘n japtrap was hy ‘n luiperdmaal. Die duikerkarkas het onaangeraak eenkant bly lê.

Johan en Mariza het dadelik die dooie duikertjie gaan soek. Hulle kry die kadawertjie toe op die toneel van die aanval net langs ons motorpad en neem ‘n foto – ook een van die luislang se sleep.

Daardie luiperd verdien die Ridderorde van die Duiker!

2 views

Recent Posts

See All

Probleme probleme

Die hoop het toe nie beskaam nie. Rapport het afgelope Sondag vorendag gekom met ’n noemenswaardige resensie – Trisa Hugo se skrywe oor...

SKOONHEID SONDER SKROOMHEID

Op bladsy drie van Die Burger vanoggend verskyn o.m. berigte oor die Mej. Wệreldwedstryd waarin Shudu Musida SA se kroon dra, en ‘n...

Comments


bottom of page