top of page
  • Uitmelkbos

RESEP VIR HOOP

Die eerste maand van die jaar 2012 het pas verby sy halfpadmerk gehuppel. Wonder hoeveel nuwe sogenaamde “Nuwejaarsvoornemens” (of uitgestelde spertye vir ou voornemens), hetsy formeel of speel-speel, het teen hierdie tyd al gesneuwel. Die ongeluk is dat sulke voornemens hoofsaaklik rigiede dissiplines vereis. En die vlees is, helaas, min kere opgewasse vir die wense van die gees.

Self geen uitblinker met die afdwing van eie dissiplines nie – het ek in die 80’s nie omtrent 13 keer opgehou rook nie! – hou ek gewoonlik maar verby as mense hul programme vir ‘n nuwe jaar uiteensit. Makliker om in ou spore te bly stap!

Met een vaste (Nuwejaars-)voorneme het ek egter op 1 Januarie uit die kerkie op Skukuza gekom. Dit is om voortaan positiewer te probeer dink en doen in hierdie dierbare land van ons waarin so baie dinge die laaste twee dekades so ingrypend op hul kop omgekeer is.

Ds Gerrie Doyer van Witrivier het daardie oggend vir ‘n handjie vol kerkgangers uit Jeremia 29:11 ‘n inspirerende boodskap gebring. Ek wil dit sommer ook die credo probeer maak vir my eie nuwe lewensjaar – nommer 72 – wat op 3 Januarie begin het. Dit verg só min. ‘n Mens moet eintlik maar net die Here op sy woord vat.

Jeremia 29:11 behels ‘n aangrypende belofte aan ‘n verskeurde volk nadat hulle onder dwingelandy van Nebukadneser na die vreemde land Babel toe weggevoer is. “Ek weet wat ek vir julle beplan, sê die Here, voorspoed en nie teenspoed nie. Ek wil vir julle ‘n toekoms gee, ‘n verwagting.” (Nuwe vertaling, 1983).

In “Die Boodskap” (die Bybel in hedendaagse Afrikaans) wat ek graag raadpleeg vir bevatlike formuleringe klee Jan van der Watt en Stephan Joubert daardie aangrypende boodskap in die volgende woorde: “Ek beplan dat goeie dinge met julle sal gebeur en nie slegte goed nie. Ek wil hê dat julle hoop vir die toekoms moet hê.”

Hoop vir die toekoms! Ai, ons mense is darem so dikwels platgeslaan, só reddeloos terneergedruk oor wat die dag van more kan inhou. Die Here sê egter: “Ek gaan uitkoms bring, sê nie wanneer nie.”

Trouens, in die brief van Jeremia uit Jerusalem aan allerlei groot geeste word nie net vaagweg getroos en bemoedig dat beter dae eendag weer gaan aanbreek nie. ‘n Vaste resep word ook gegee vir ‘n konstruktiewe, vrugbare voluit-lewe in die nuwe omstandighede waarin ander die septer soms hard en genadeloos oor jou swaai.

“Bou vir julle huis en bewoon dit,” laat weet die Here vir hulle, “lê tuine aan en eet die opbrengs daarvan, trou en bring kinders in die wêreld, en laat hulle trou en kinders in die wêreld bring.” Ook: “Bid tot My vir daardie stad, want sy belange is ook julle belange.”

“Die Boodskap” se vertaling lui: “Bou vir julle huise in Babel om in te bly. Maak vir julle tuine en eet die kos wat uit die tuine kom. Julle moet ook trou en kinders hê. Sorg ook dat julle kinders maats kry om mee te trou. Doen ook julle deel dat daar vrede en voorspoed in Babel sal wees. Vra ook in gebed vir die Here dat dit goed sal gaan met die stad …… As dit met Babel goed gaan, sal dit ook met julle goed gaan.”

In hierdie groot woorde, versteek in ‘n soms vergete deel van die Ou Testament is inderdaad vir ons tyd ‘n betekenis en relevansie soos min opgesluit.

Enersyds: Skud die stof van moedverloor se vlakte nou van julle af!

Andersyds: Steek die hand uit die mou! Slaan die hand aan die ploeg! Arbei en bou! Help skep ‘n beter Suid-Afrika! Help skep só jul eie toekoms!

Wens ek kon met klinkende simbale ds. Gerrie Doyer se oproep tot in verre uithoeke help versprei, tot by almal van wie die hoop wankel. Hoop veral ook dat ekself nie more, oormore al weer gaan vergeet wat Jeremia 29:11 so glashelder uitspel nie.

“Ek wil vir julle ‘n toekoms gee, ‘n verwagting.” Kom ons glo dit, dink dit, doen dit dit in die jaar 2012. ‘n Ander pad na ‘n eie Kanaän bestaan immers nie.

1 view

Recent Posts

See All

Probleme probleme

Die hoop het toe nie beskaam nie. Rapport het afgelope Sondag vorendag gekom met ’n noemenswaardige resensie – Trisa Hugo se skrywe oor Veldhospitaal 12, die nuwe roman deur Marinda van Zyl. Boek24? W

SKOONHEID SONDER SKROOMHEID

Op bladsy drie van Die Burger vanoggend verskyn o.m. berigte oor die Mej. Wệreldwedstryd waarin Shudu Musida SA se kroon dra, en ‘n motorfiets-uitstappie na die Hartebeespoortdam waarvan die afwesighe

© 2022 LitNet. Alle regte voorbehou | All rights reserved

bottom of page