top of page
  • Izak de Vries

Resep vir die nuwe jaar

Die een is spesiaal vir Jan Nel. Hy het gekla (in ’n antwoord op my vorige blog) dat ek darem te rof was met sy oorlede markagent, genaamd Manto. Onder Manto het Jan glo besondere goeie verkope van aartappels, beet en knoffel gehad.

Nou, ja. Met die sokker om die draai en die hordes wat op ons gaan toesak, wil ek ’n bydrae lewer tot plaasgemeenskap en die kleinhandelaars in Suid-Afrika. Dis een van my resepte wat ek graag vir buitelanders kook.

Kom ons noem dit sommer Izak se Somerhoender, want as ek dit sou durf waag om dit iets soos 2010-hoender, of Wêreldbekerhoender, te noem, dan gaan FIFA een van hulle prokureurs op my sit. Sug.

Hoekom nou blog oor kos en nie boeke nie? Wel. Ou Jamie, die Naked Chef, verkoop baie meer boeke as ek. Dalk moet ek ook iets soos die Kaalkok gaan aanbied. Of nog beter: Kaalkok en vriende. Dink net hoe lekker sal dit wees om vir Sonia Cabano op so ’n TV-reeks te hê... Mmm. Die probleem is, my komkommer sal dan permanent in die pad van skerp messe bly staan.

So, dalk moet ek maar liewer aanhou skryf. Maar eers, Izak se Somerhoender.

Bestanddele

– Vier ontbeende hoenderborsies

– Een groot, sappige mango

– Agt tot tien lietsjies

– Drie eetlepels botter

– Twee lekker groot eetlepels gekapte knoffel

– Drie eetlepels suurlemoensap

– Een opgehoopte teelepel gekapte gemmerwortel (opsioneel)

– 100 ml soet sjerrie (opsioneel)

Voorbereiding

As julle (en die gaste) van gemmer hou, begin met Stap 1, maar as daar iemand wat is wat gemmer pes (snaaks genoeg daar ís intelligente mense wat nie van gemmer hou nie), los dan hierdie stap uit.

Stap 1

Kap die gemmer lekker fyn (skil eers die wortel af as jy die rou gemmer koop) en gooi dit in die sjerrie. (Die ideaal is om die gemmer oornag in die sjerrie te laat trek.

Stap 2

Skil die mango en sny dit in repe (so amper asof jy aartappels sny vir slaptjips).

Stap 3

Skil die lietsjies, halveer hulle en ontpit hulle.

Stap 4

– Gooi die botter in ’n pan.

– Maak die pan lekker warm en gooi die knoffel by.

– Sit die hoenderborsies in en braai hulle vinnig tot hulle bruin is aan albei kante.

– Draai die plaat na laag.

– Gooi die suurlemoensap, mango en lietsjies in.

– As jy die gemmerding gedoen het, gooi nou die sjerrie in die pan. (As jy BAIE van gemmer hou, kan jy die wortel ook ingooi, anders kan jy die sjerrie deur ’n siffie gooi sodat die gemmerwortel agterbly.)

– Laat die hele spulletjie saggies prut tot die mango en die lietsjie lekker warm is.

Bedieningswenk

Dié gedoente is heerlik op geelrys, maar dit werk ewe lekker met slaptjips. So, koop die aartappels by Jan, maak ’n beetslaai en laat waai!

Gesondheid!

(En koop maar liewer Sonia se kookboeke, dan hou julle my dalk van die TV af! Besoek haar webruimte hier: http://www.soniacabano.co.za/)

4 views

Recent Posts

See All

© 2022 LitNet. Alle regte voorbehou | All rights reserved

bottom of page