Wie resenseer die resensente?
Niemand nie. Almal mor, met nou en dan ‘n uitbarsting. Soos nou tussen Joan Hambidge en Charl-Pierre Naude. Dan weer maande waarin iemand nou en dan die hel in raak ,en dan afgekoel word deur mense wat beter weet.
Basta!
Hierdie blog is met liefde opgedra aan resensente en die redakteurs van Boekeblaaie.
Eerste aan die beurt: Marina le Roux. Op haar dag die vaskop-voorryvrou van Iskemus op Stellenbosch. ‘n Wandelende ensiklopedie oor kinder- en jeugboeke.
Wat haar in die oë van dr. Gerrit Brand, Boekeredakteur van Die Burger, die ideale persoon maak om PG du Plessis se Fees van die ongenooides te resenseer.
Maar die geleentheid was te groot vir haar. Pasende Maandag het sy haarself verby die plaasvervangersbank van resensente gedemoveer met ‘n resensie van PG se kragtoer van ‘n roman.
Verbeel jou, ‘n hele resensie sonder ‘n enkele verwysing na die TV-reeks waaruit die boek gespruit het. Of ‘n bespeigeling oor die karakters wat uitgeskryf is vir die boek nie.
En vaderland – geen bespreking van PG se uitdagende besluit om die roman teen die konvensie in te lanseer en dit in die verlede tyd te skryf nie!
Aan die einde van die resensie beken ons gewikste oud-voorryvrou dat sy onwelkom gevoel het by die lees van die roman. Smaak my die fout lê by haar, nie by PG of die roman nie.
Slotsom: Geen toevoeging tot die kanon van goeie resensies nie. Dis ‘n vertoon van woordeskat, ‘n aftellysie van jargon, ‘n louwarm klap in die gesig van PG, wat meer respek verdien het van sowel resensent as boekeredakteur. Vir só ‘n boek soek mens iemand soos Louise Viljoen of Henriëtte Roos as resensent as Deon Opperman of Chris Barnard nie beskikbaar is nie.
Tweede is Zandra Bezuidenhout – ‘n minor poet wat deur dr. Brand aangelê is om Geskrifte van ‘n vermiste digter, Henk Rall se terugkeer tot gepubliseerde digkuns, vir Die Burger te takseer. Die uitgewer, Protea-Boekhuis, kan tereg die hel in wees. ‘n Lang, kwasi-substansiële resensie waarin sy eintlik net probeer wys dat sy die bundel gelees het – en dit is beslis nie die doel van ‘n koerantresensie nie.
Het die boekeredakteur nie aan Bezuidenhout verduidelik dat mense koerantresensies lees omdat hulle ‘n oordeel verwag – én ‘n aanduiding of hulle die bundel moet koop of nie?
Die vraag het al weliswaar by my ontstaan of Die Burger se boekredakteur dít het wat nodig is. Veral as mens dinge in ‘n groter konteks beskou. As Deon Meyer deur die nageslagte getakseer moes word volgens die respons van die Die Burger se resensent, dan kan hy nou maar van beroep verander. Mariana Malan reageer baie positief op Meyer se 13 uur – maar die resensie is in slaapwandelaar-styl geskryf. Hoe opgewonde was jy, Mariana? O, ek sien.
Ek het kollegas wat met wydgesperde oë aangemeld het vir werk ná ‘n nag van verbete lees om 13 uur te verorber. Mariana glo skynbaar in die verlangsaming van geesdrif. Gelukkig dan vir Deon Meyer en ons nageslagte dat daar resensente soos Gert van der Westhuizen van Beeld is. Sy resensie van 13 uur toon nog al die tekens van beginner-resensieskryfwerk. Maar gode sy gedank: hy dra sy geesdrif oor.
Wie is Beeld se boekeredakteur? Klop op die skouer, my maat. Nie net vir Van der Westhuizen se resensie nie. Ook vir Jan-Jan Joubert wat Brian Pottinger se The Mbeki Legacy vir Beeld geresenseer het. Hy’s ‘n redaksielid van Die Burger, maar jy sal dit nie glo as jy sien hoe sprankelend hy die kuns van resensieskryf bemeester het nie.
Comments