Ek skryf self resensies. En dis vrek moeilik om ’n goeie resensie te skryf. Wees dus asseblief bewus daarvan dat ek nie dit het teen resensente nie.
Ook moet ek dit duidelik stel dat Cecile Cilliers ’n paar baie mooi goed oor my werk gesê het. Ek het byvoorbeeld ’n ruk gelede deelgeneem aan ’n kort-kortverhaalkompetisie en niemand het gedink myne is goed nie. (Dit was anoniem, sien, so hulle het gedink ek suig!) Ek is dus baie opgemaak dat die slim dok Cilliers die waarde van my kortwerk raakgesien het!
Dus, jy wen hier ’n bietjie, jy verloor daar ’n bietjie.
Wanneer ek ’n boek resenseer, probeer ek altyd om die werk as ’n geheel te beskou en te woeker met wat daarin in is. Dan probeer ek verstaan waarom die skrywer sekere goed gedoen het. Ek gaan dus van die veronderstelling uit dat die skrywer reeds ’n goeie boek geskryf het, ek moet net uitvind hoekom dit goed is. Ek het egter ook al boeke verdoem, maar in al my jare kan ek werklik net een boek onthou wat nie die moeite werd was om geld op te spandeer nie. En daar was ’n ander een wat ek, interessant genoeg, minder goeie punte gegee omdat ek gevoel het die skrywer het kortpaaie gegooi en nie die karakters laat blom nie (wat Cecile oor myne sê).
Oor na Ludwig se wyse woorde:
Ek het nou net die hele resensie gelees en behalwe dat sy sukkel met sms, selfone en skype is dit nie sleg nie. Sy sê party goed is bietjie dik vir 'n daalder ... Dit is miskien so gewees toe sy nog “wou” of “kon”, maar ek ken letterlik dosyne stories wat ek nie wil vertel nie, want mense sal dink jy maak dit op. Ek dink die resensie was baie goed. Maar wat sal jy gebruik vir aanmoediging om te verbeter as sy net mooi gepraat het. Jy moet eindelik vir haar dankie sê ...
Jy’s reg Ludwig. En dis hoekom ek sê: Sy het in 2004 vir my baie woema gegee, en dié keer gaan sy my ook aanmoedig om voort te gaan!
Dan gaan ek Katrina plaas, want sy sê sulke mooi goed oor Byna Liefde dat ek dit nie wil laat verbygaan nie!
Sonder om eers die resensie te gaan lees, kan ek raai dat dit dalk te (k)akademies is, soos wat resensies mos wil wees. Nie altyd ’n skryf uit die hart uit nie, maar uit die kop uit. Dit gebeur ook, dink ek, wanneer mense puristies op hulle gebiede raak. Soos musici wat tegnies luister en soms die genot van inleef luister opgee. Of filmresensente wat dieselfde ding doen. Dalk kom die deskundiges op ’n punt waar hulle nie meer, soos die algemene publiek, sonder vooroordele kan waarneem nie? Net ’n gedagte. Ek het Byna Liefde baie geniet. En wil amper sê dat die titel vir my die mees openbarende was. Oor dit wat byna liefde is. Maar nog nie. Amper. Oor die eksploreer van die kubergenre - dis ’n nuwe werklikheid. As mens dit ’n werklikheid kan noem... Maar dit het gekom om te bly. En te ontwikkel. Onder andere. Nog: ek het gehou van jou / die verteller, se eerlikheid in die sin van “nie wegsteek” nie. Ek praat nou natuurlik vanuit 'n wat ek onthou oor wat ek ervaar het. Sal met 'n tweede lees dalk meer sinvol kommentaar kan lewer. :-)
Dankie Katrina. Goeie resensie! -)
Ek wil net sê: Ek dink dis belangrik vir resensente om wel die akademiese en die gewone leser te onthou. Barry Ronge sal byvoorbeeld sê: Dit werk nie vir my nie, maar vir tienerlaaities sal dit ’n 7 wees. Dan weet Izak hy moet wegbly.
As Ronge opgewonde raak oor ’n kunsfliek, sal ek gaan kyk. Shaun de Waal val in dieselfde kategorie. Leon van Nierop, daarenteen, is baie bewus van die “gewone” leser. Ek sukkel soms om sy resensies te ontsyfer, want ek hou van flieks wat hy sterk aanbeveel, maar dan moet jy mooi luister of hy regtig daarvan hou, of nie.
En, op ’n vreemde manier, dink ek, dis wat Cecile Cilliers ook probeer sê het. Dit het dalk nie vir haar gewerk nie, maar hopelik sal ’n paar mense nuuskierig word! (Wel moet ek sê: ’n Tannie van my het vir haar dogter gesê: “Ek is bekommerd oor Izak.” Dis nou na sy Tannie Cecile se aanmanings gelees het.)
Die bottomline van hierdie hele getjommel is: Mense, as julle wil skryf moet julle die punch vat. Môre, oormôre kom daar dalk weer ’n goeie, positiewe resensie verby! Crack die bubbly wanneer die resensie goed is, en skryf harder as die resensie nie goed afgaan nie. Of, as die gepeupel jou diskwalifiseer, soos op Maangodin se blog!
Lank lewe die leser.
Comments